Arts & Social Science
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Alumni

​​​​

Dube ondersoek "uitdagings in joernalistiekonderrig en
-opleiding in 'n veranderende samelewing"​​​​​


















​​

                                                  (Foto: Hennie Rudman, SSFD)

Dr Bevelyn Dube (derde van links) het in Desember 2013 'n PhD in Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang. Voordat sy haar graad verwerf het, het sy van haar doktorale navorsing by die derde internasionale joernalistiekonder-rigkongres in België aangebied. Haar aanbieding, wat gehandel het oor die uitdagings in die transformasie van joernalistiekonderrig en -opleiding in Suid-Afrika na 1994, is as naas-wenner in die kategorie vir beste referaat by die kongres aangewys. Lynne Rippenaar-Moses het met haar oor haar navorsing en bydrae tot vakkundigheid in Suid-Afrika gesels. 

VRAAG: Vertel my asseblief meer oor wat jy tans doen en waarom jy besluit het om vir 'n PhD in Joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch in te skryf.

ANTWOORD: Ek is tans 'n dosent in die Departement Kommunikasie en Toegepaste Taalstudie aan die Universiteit van Venda in Thohoyandou, Limpopo. Ek het vir 'n PhD in Joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf as gevolg van dié instelling se uitstekende reputasie dat hy joernaliste van gehalte oplewer. Die Departement se lewendige belangstelling in kwessies van joernalistiekkurrikula het my verder oortuig om Stellenbosch my studietuiste te maak, aangesien ek ook in daardie kwessies belang stel.

V: Hoe het dit gevoel om as die naaswenner vir beste referaat by die kongres in België aangewys te word?

A: Toe hulle my naam uitlees, was ek tegelyk geskok en ongelooflik dankbaar. Eers nadat hulle die prys en sertifikaat aan my oorhandig het, het die hele ding tot my deurgedring. Ek moet bieg, ek het nooit verwag om vir enige van die drie pryse wat op die spel was, benoem te word nie; daar is immers meer as 100 referate aangebied. Buitendien was daar so baie ervare vakkundiges op joernalistieke gebied dat ek eerlikwaar nooit eens daarvan gedroom het om op dié manier vereer te word nie. Ek sou dit natuurlik nooit kon doen sonder my wonderlike studieleier, professor Lizette Rabe, nie. Ons het 'n lang pad gestap en as ek nou na die eerste konsep van my PhD-voorstel kyk, wonder ek waarom sy my nie destyds aangeraai het om liewer van alles te vergeet nie. My akademiese groei en hierdie prys is alles danksy haar. Dankie, Lizette, jy is 'n ware rolmodel.

V: Wat het jou, bepaald vir die België-kongres, laat besluit op 'n onderwerp soos die transformasie van joernalistiekonderrig en -opleiding in Suid-Afrika na 1994?

A: Eerstens het ek my deur die tema van die kongres, "Die hernuwing van joernalistiek deur onderwys", laat lei om op hierdie spesifieke aspek van my tesis te konsentreer. Tweedens, ondanks algemene eenstemmigheid onder vakkundiges op die gebied van joernalistiekonderrig en -opleiding (JO&O) in Suid-Afrika dat JO&O-kurrikula moet transformeer om in die behoeftes van 'n veranderende Suid-Afrika te voorsien, het geen beduidende verandering nog plaasgevind nie. My PhD-studie het verskeie uitdagings aan die lig gebring waarvoor JO&O-instellings in Suid-Afrika te staan kom – uitdagings wat dit vir hulle moeilik maak om hul kurrikula te transformeer. Ek het gereken hierdie bevindinge sou tot goeie vakkundige gesprekvoering lei, aangesien die uitdaging van die transformasie van JO&O-programme nie net in Suid-Afrika ervaar word nie.

V: In jou tesis, waarvoor jy 'n gevallestudie van drie gekose instellings onderneem het, kom jy onder meer tot die gevolgtrekking dat "al word die onderwerp van die transformasie van JO&O-kurrikula in Suid-Afrika reeds sedert 1994 druk bespreek, het geen beduidende verandering nog plaasgevind nie en word hierdie kurrikula steeds deur Westerse epistemologieë en denke onderstut". Vertel ons meer daarvan.

A: Dit is bekend dat die meeste JO&O-vakkundiges in Suid-Afrika ongelukkig is daarmee dat JO&O-kurrikula in die land steeds uitsluitlik veranker is in Westerse epistemologieë, wat heelwat klem plaas op waarneembare en meetbare feite en individualiteit. Dít blyk duidelik uit al die konferensies en kollokwiums sowel as die referate oor die onderwerp van JO&O-transformasie. Vakkundigheid in Westerse verband word as iets wetenskaplik en los van maatskaplike kwessies beskou. Joernaliste wat in hierdie tradisie onderrig word, moet neutraal en objektief in hul verslagdoening wees. Sonder om die Westerse epistemologieë geheel en al te verwerp, is Suid-Afrikaanse JO&O-vakkundiges dit egter eens dat dié epistemologieë nie geskik is vir die behoeftes van 'n veranderende Suid-Afrika nie.

Om dit te weet is een ding; om iets daaraan te doen is 'n gans ander saak. Om die kurrikula te ont-Westers, sal ons moet wegbeweeg van Westers-geproduseerde kennis na kennis wat op Afrika-filosofieë en -denke berus. Waarmee ons egter tans sit, is programme wat swaar steun op Westers-geproduseerde handboeke, veral handboeke uit die VSA. Wat die probleem vererger, is dat Suid-Afrikaanse JO&O-opvoeders, wat veronderstel is om die kurrikula te ont-Westers, self in die Westerse tradisie opgelei is. Dis 'n kan-nie-wen-nie-dilemma. Afrika oor die algemeen en Suid-Afrika in die besonder het nog nie die vermoë om die kennis te skep waarmee die program ont-Westers kan word nie.

Ons moet verstaan dat die transformasie van die JO&O-kurrikula geen maklike taak sal wees nie, maar dit moet gedoen word. Ek glo die eerste stap is om 'n reeks werksessies te hou waar 'n moontlike modelkurrikulum vir JO&O-opleidingsinstansies in Suid-Afrika bespreek en bedink kan word. Die model kan dan aangepas word om in die behoeftes van spesifieke instellings te voorsien. Kurrikulumontwikkeling is 'n proses, vandaar die behoefte aan 'n reeks werksessies. Dit is hoog tyd dat Suid-Afrikaanse joernalistieke vakkundiges daad by die woord voeg en hul oortuigings in optrede omskep.

Om die kurrikula te ont-Westers, sou ek voorstel dat Suid-Afrikaanse JO&O-vakkundiges 'n aggressiewe opleidingsprogram ondergaan waartydens potensiële navorsers onder joernalistiekstudente uitgewys kan word. 'n Belegging in hierdie jong navorsers kan Suid-Afrikaanse vakkundigheid op joernalistieke gebied verryk en versterk.

V: Watter bydrae lewer jou navorsing tot vakkundigheid oor hierdie onderwerp in Suid-Afrika en die res van Afrika, en selfs die wêreld?

A: Eerstens toon bestaande literatuur dat geen studies nog oor JO&O-kurrikula in Suid-Afrika onderneem is nie. Nie een van die studies wat sedert 1994 onderneem is, het enigsins probeer aantoon hoe 'n veranderende Suid-Afrika in JO&O-kurrikula weerspieël word nie. Die meeste studies wat al in Suid-Afrika gedoen is, het op joernalistiekpraktyk in die mediabedryf gekonsentreer. Hierdie studie lewer dus 'n beduidende bydrae tot joernalistieke vakkundigheid in Suid-Afrika.

Tweedens bestaan die diskoers oor JO&O meestal uit teorie en kommentaar. Hierdie studie dra dus tot JO&O-kennis in Suid-Afrika by deur middel van empiriese bevindinge om transformasie te toets en dit by teorie te integreer. Hoewel die bevindinge nie sonder meer op alle JO&O-instellings in Suid-Afrika toegepas kan word nie, dui dit wel op die uitdagings wat hierdie tersiêre instellings ondervind in hul pogings om hul kurrikula te transformeer.

Derdens bring die studie die tekortkominge van JO&O-programme aan die drie bestudeerde instellings aan die lig wat betref hul spesifieke programme en hul bydraes tot 'n land in transformasie.

Boonop het dit vrae laat ontstaan wat moontlikhede vir verdere studie bied.

V: Ten slotte, watter raad het jy vir joernaliste of selfs akademici wat vir 'n doktorsgraad wil inskryf?

A: My raad is dat meer PhD-studente op JO&O-gebied navorsing oor joernalistiekonderrig in Suid-Afrika moet onderneem. Transformasie van JO&O in Suid-Afrika sal nie plaasvind tensy JO&O-vakkundiges 'n daadwerklike poging aanwend om omvattende navorsing oor joernalistiekkurrikula te onderneem nie. En ek beveel die Universiteit Stellenbosch aan, want ek glo dit is een van die beste in die land op JO&O-gebied.

​​​

KONTAK ONS​

Alumni van die Fak​ulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe lewer 'n groot bydrae tot verskeie sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing en die wêreld. Ons geniet dit om jou sukses te vier en te hoor oor die koers wat jy ingeslaan het sedert jy o​​ns instelling verlaat het.

So, indien jy van enige alumni hoor of self 'n alumnus is wat onlangs uitgeblink het, stuur asseblief 'n kort paragraaf oor die alumnus se, of jou eie, prestasie, sowel as die kontakbesonderhede, aan ons bemarkingsbeampte, me Lynne Rippenaar-Moses. Ons sal elke maand op hierdie blad 'n kort vraag-en-antwoord-sessie met ee​n van ons alumni aanbied.​​​​​