Kies jou taal: Engels Afrikaans

Hoekom vrywillige werk doen?

​​ 

Vrywilligerdiens bied 'n geleentheid vir studente om ko-kurrikulêre ondervinding op te doen deur nuwe vaardighede te ontwikkel en te versterk. Hierdie vaardighede hou verband met die graduandi-eienskappe van die Universiteit Stellenbosch. Die graduandi-eienskappe is: 'n ondersoekende gees; 'n verbonde burger; 'n dinamiese professionele persoon; en 'n goed afgeronde individu.

Vrywilligerdiens verskaf studente met 'n buite-klas leerervaring waardeur die student betrokke kan word in die bou van verhoudings met gemeenskappe, die deel van versweë kennis, en die skep van nuwe kennis op 'n wedersydse manier met gemeenskappe. Studente leer in die proses ook nuwe goed oor hulleself.  

Erkenning gaan aan die studente vir hulle diensure, wat op hulle akademiese rekord geplaas word. Studente het ook die geleentheid om aan 'n geakkrediteerde kursus in gemeenskapsontwikkeling as 'n ko-kurrikulêre leerervaring deel te neem. Studente kan ervaring opdoen op 'n gebied wat moontlik buite hulle studieveld val en sal ook blootgestel word aan 'n ervaring en 'n stel vaardighede wat help in die skepping van afgeronde studente wat hierdie ervarings en leer kan gebruik wanneer hulle die wêreld van werk betree of leiersposisies op kampus opneem. 

Die soorte inisiatiewe wat hulle kies om verbind te wees aan en gemeenskappe te dien, verhoog hulle kurrikulêre sowel as ko-kurrikulêre leer. In ander gevalle weer, veral op ons Tygerberg-kampus, bestaan die geleentheid om vrywillige werk te doen wat direk verband hou met hulle kurrikulêre kursus waardeur hulle hul kliniese vaardighede kan verbeter. 

Die primêre vaardighede wat studente verkry:

Interpersoonlike, kommunikasie- en organisatoriese vaardighede, asook praktiese toepassing van kennis en vaardighede. Studente leer oor etiek, konflikbestuur, spanwerk, risikobestuur en hoe om professioneel op te tree. Studente leer die waarde daarvan om gestruktureerd te werk en ontwikkel 'n verbondenheid tot en passie vir vrywillige werk as aktiewe burgers.

Die voordeel vir vennote en gemeenskappe:

Vrywilligerdiens versterk op 'n gestruktureerde wyse die werk wat gemeenskappe tans doen. Dit verskaf addisionele menslike hulpbronne om die inisiatiewe te verhef wat reeds in gemeenskappe geïmplementeer is. Sommige van die inisiatiewe verbind organisasies wat dieselfde werk in die gebied doen, en studente is instrumenteel in die versterking van strategiese netwerke m.b.t. 'n spesifieke inisiatief. Studente bring gereeld innoverende idees na die inisiatiewe, en dra ook by tot die generering van nuwe idees deur die interaksie met die omliggende gemeenskappe.  

Deur hulle betrokkenheid help studente om gemeenskappe by te staan om eienaarskap te neem van die inisiatiewe in hulle omgewings. Studente verskaf 'n groot ondersteuningsbasis vir gemeenskappe en is bereid om 'n gewillige hand uit te reik om die inisiatiewe te implementeer. 

Professionele persone (kundiges) van die universiteit lei gemeenskapslede op om nuwe inisiatiewe te ontwikkel, en nadat hulle weggaan het die gemeenskap 'n nuwe vaardigheid om aan die res van die gemeenskap oor te dra.