STUDENTE ERVARINGS
In samewerking met ons studente en die Afdeling:
Studentesake het ons ʼn projek afgeskop waarmee ons van die stories van US-studente en hul uitdagings met trauma en geestes- en psigologiese gesondheid vertel.
Hier onder deel studente hul ervarings in hul eie woorde, met die hoop dat dit ook ander sal help.
Ek kom van ʼn klein dorpie in die Oos-Kaap. Ek het my graad by ʼn universiteit nader aan die huis behaal en ek is trots daarop om nou my nagraadse studies aan die US, een van die top universiteite in die wêreld, voort te sit. Aan die begin van die jaar was alles vir my baie nuut hier... nuwe ervarings, nuwe mense. Alles het goed gegaan totdat ek ʼn eksamen gedruip het. Ek het nog nooit voorheen nie deurgekom nie. Dit het vir my gevoel of my hele wêreld in duie stort... dit het gevoel of ek ʼn groot mislukking is. Ek was so teleurgesteld en het gevoel dat ek nie goed genoeg is nie. Ek het ook niemand gehad met wie ek kon praat nie. Dit was heeltemal oorweldigend – daar was negatiewe stemmetjies in my kop wat vir my gesê het ek sal dit nooit maak nie. Tot ek eendag besluit het om hulp te soek. En met dié dat ek met iemand begin praat het en ook my Bybel gelees en gebid het, het ek die mislukking begin hanteer. Hierdie goed het my gehelp om weer op te staan en weer krag te kry. Ek het geleer dat om te misluk nie die einde van die wêreld is nie – eintlik is dit ʼn goeie leerervaring. Moenie toelaat dat een of twee mislukkings jou definieer nie. Mislukking is deel van die lewe en is ʼn geleentheid om te groei. As jy die heeltyd bang is om te misluk, gaan geleenthede om te leer en te ontwikkel by jou verby. My pad na sukses was deur mislukking.
Ná baie jare van werksoek, het ek besluit om weer te gaan leer. Maar dit het nie sonder opofferings van my kant gekom nie. Ek moes my NNT-toelatingstoets op ʼn leë maag skryf, want daar was nie kos in die huis nie. Ek het net taksiegeld gehad om tot by die assesseringsentrum te kom en moes al die pad terug stap. Toe dit tyd word vir my om as eerstejaar Stellenbosch toe te gaan, was daar nog uitdagings. Nie ek of my ma het busgeld vir my gehad nie. Maar ek was nie van plan dat dit my van stryk bring om universiteit toe te gaan nie. Ek het besluit om te ryloop, met nie ʼn sent aan my vir kos vir die pad nie. Ek het dit reggekry om ná drie dae op die pad, sonder dat ek geëet het, by die universiteit aan te kom. Ek het baie swaargekry in my eerste jaar. Oplaas het ek ʼn gesprek met ʼn sielkundige by die SSVO gehad. Dit het my ontsettend baie gehelp. Ek kon begin praat oor probleme waaroor ek nog nooit met enigiemand gesels het nie. Ek het besef dat ek nie alleen is nie en dat daar by Stellenbosch baie studente is met wie dit finansieel swaar gaan. Ek dink wat my gehelp het, was om vir hulp te vra en ondersteuning te kry. Ek het gesien dat mense bereid was om te help toe ek uitgereik het om gehelp te word. Volgende jaar sal my finale jaar wees.