Biomedical Research Institute
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI)​


WÊRELDKLASNAVORSING

Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het 'n reputasie vir uitstekende navorsing wat oor dekades van nougesette en volgehoue ywer opgebou is. Ons bly 'n toonaangewende navorsingsryke omgewing met 'n uitgebreide internasionale samewerkingsnetwerk benewens al ons nasionale en plaaslike vennootskappe. 'n Navorsingsagenda wat op strategiese navorsingsfokusgebiede berus, verseker dat ons navorsingsaktiwiteite die groot gesondheidsuitdagings waarteen ons vasteland te staan kom die hoof kan bied.

In Maart 2023 het ons ons posisie as een van die voorste instellings vir gesondheidswetenskappe in Afrika bevestig toe nie minder nie as drie van ons eie wetenskaplikes vereer is by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Wetenskaplike Meriete-toekennings.

Die BMNI huisves verskeie navorsingsgroepe en -sentrums, waaronder die genomika-groep vir skaars siektes, die TB-gasheergenetikagroep, die MNR Sentrum vir Tuberkulosenavorsing, die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Africa (CARMA), en die Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie (SERI). SERI is 'n vennoot-lid van die Suid-Afrikaanse mRNA-entstofkonsortium (SAMVAC), wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie aangewys is as die eerste oordragsentrum vir mRNA-entstoftegnologie. 


UITMUNTENDE NAVORSING 

As een van die top mediese en gesondwetenskapinstellings is die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe deurlopend aan die voorpunt van grensverskuiwende navorsing in gesondheidswetenskappe. 

Die fakulteit is die tuiste van 92 navorsers met graderings van die Nasionale Navorsingstigting, en sewe navorsingsleerstoele van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief. Ander navorsingsleerstoele sluit die Sarah Turoff-navorsingsleerstoel in Skisofrenie en leerstoele in Proteometrika, Fisioterapie, Kankerwetenskap en Sport- en Oefeningsgeneeskunde. 

Ons bly hoog aangeskrewe, onder meer vir ons baanbrekersnavorsing oor tuberkulose, MIV en neurowetenskappe, en ons pionierswerk in urologie wat gelei het tot die wêreld se eerste suksesvolle penisoorplanting in 2015.

Die fakulteit bevat 15 akademiese departemente, wat 18 sentrums, buro's en institute huisves. Die akademiese aanbod sluit grade in Dieetkunde, Geneeskunde-en-Snykunde (MBChB), Verpleeg-en-Verloskunde, Arbeidsterapie, Fisioterapie, en Spraak-Taal- en Gehoorterapie  Ons bied ook meer as 90 Magister- en Doktorale programme in 'n verskeidenheid van dissiplines aan. 

'n Navorsingagenda wat deur strategiese navorsingsfokusareas bepaal word, verseker dat ons navorsingsbedrywighede gerig is op die belangrikste gesondheidsuitdagings in Afrika. Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het oor sewe dekades 'n reputasie vir uitstekende navorsing opgebou en wyd erkenning gekry vir ons wêreldklasnavorsing. 

Jare lange nougesette en volgehoue werk in biomediese navorsing het ons fakulteit en die Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI) op die wêreldverhoog geplaas met die besoek van die president van Suid-Afrika en die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie in 2022. Dié erkenning van die wêreldleier in menslike gesondheid is 'n bewys van ons verbintenis tot wetenskaplike deurbrake wat 'n invloed op die lewe van miljoene mense in Afrika sal hê.​

 

KYK ’N TYDLYN VAN DEURBRAKE WAT DIE​ UNIVERSITEIT STELLENBOSCH SE FAKULTEIT GENEESKUNDE EN GESONDHEIDSWETENSKAPPE GEMAAK HET​​

 


​​

​​​​​​​​​​​