Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US sedimentoloog deel van span wat nuwe spesies dinosourus in Utah ontdek
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 08/06/2023

Dr. Ryan Tucker van die Universiteit Stellenbosch se Departement Aardwetenskappe was deel van 'n internasionale span wat 'n nuwe plantvretende dinosourus ontdek het wat ongeveer 99 miljoen jaar gelede, gedurende die middel-Kryttydperk, in die huidige Utah geleef het.

Volgens 'n mediaverklaring van die North-Carolina State University is die nuwe spesies se naam Iani smithi, vernoem na die tweegesig-Romeinse god van verandering, Janus. Iani smithi was 'n vroeë ornithopod, 'n groep dinosourusse wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die meer algemeen bekende eendbek-dinosourusse soos Parasaurolophus en Edmontosaurus. Navorsers het die meeste van die jong dinosourus se skelet gevind – insluitend skedel, werwels en ledemate – maar die opvallendste kenmerk is sy kragtige kakebeen, met tande wat ontwerp is om deur taai plantmateriaal te kou.

Iani_smithi_jaw.png

Prof. Lindsay Zano, 'n navorsingswetenskaplike by North Carolina State University en hoof van paleontologie by die North Carolina Museum of Natural Sciences, sê Iani smithi is uniek nie net omdat dit nuut ontdek is nie, maar ook vanweë die skaarsheid daarvan in die Noord-Amerikaanse fossielrekord en sy posisie in dinosourusgeskiedenis.

As deel van hierdie internasionale navorsingspoging, was dr Tucker se bydrae om vas te stel wanneer hierdie spesifieke fossiel in die rotsrekord opgeneem is, asook om die omgewing waarin dit geleef het, te herkonstrueer.

“Ek werk al byna 'n dekade in die Mussentuchit-lid van die Cedar Mountain Formation as deel van ons poging om klimaatsveranderinge te verstaan soos dit in die rotsrekord bewaar word. So byvoorbeeld is Iani smithi in sedimentêre rots bewaar. Dit dui op 'n oorgangsomgewing tussen die kuslyn en 'n plat ekosisteem. Met ander woorde, vloedwaters wat die kuslyn bereik sou fyn modder en klei inbring wat dan afsak en later in grond verander. Dit het die sediment verskaf wat nodig was om Iani en ander organismes wat gedurende dieselfde tydperk geleef het, te bewaar," verduidelik hy.

Hy poog verder ook om 'n tydraamwerk te verskaf vir wanneer hierdie spesies geleef het. In 'n poging om die geologie van die Mussentuchit te bepaal, het hy vier vulkaniese asvalbeddings ontdek wat 'n ongekende vlak van akkuraatheid in terme van geologiese tyd toelaat. Alhoewel dit skaars is, is vulkaniese asvalbeddings belangrik vir meer akkurate datering, aangesien dit in 'n oomblik van geologiese tyd neergelê word en gewoonlik oor groot gebiede uitsak, wat vergelyking tussen streke moontlik maak.

Gebaseer op sy navorsing en ontledings, word daar beraam dat Iani smithi omtrent 99.6 miljoen jaar terug geleef het, en dat die hele Mussentuchit oor 'n periode van rofweg 600 000 jare deur sedimentêre prosesse gevorm is, tussen 99.6 en 98.9 miljoen jaar terug.

"Daar is nog baie werk wat gedoen kan word met verskeie nuwe dinosourusse wat nog vernoem en beskryf moet word, tesame met 'n skatkis van geologiese inligting wat nog beskryf moet word," sluit hy af.

Op die foto's bo, 'n Artistieke voorstelling van 'n nuwe dinosaurus spesie, Iani smithi, wat sowat 99 miljoen jaar gelede in die mid-Weste van Amerika geleef het. Krediet: Jorge Gonzalez

Een van die mees opvallende kenmerke van die nuutgevonde dinosauraus spesie Iani smithi, is sy kragtige kake, met tande wat ontwerp is om deur taai plantmateriaal te kou. Krediet: National Geographic, Mark Thiessen and Becky Hale.


Kontakbesonderhede

Dr Ryan Tucker

E-pos: tucker@sun.ac.za

*Neem asb kennis dat Dr Tucker tans oorsee reis en moontlik nie onmiddellik op eposse sal kan antwoord nie.

 

Tracey Peake

News Services, North Carolina State University

tracey_peake@ncsu.edu