Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kontekstualiseer China se rol in wêreldbestuur
Outeur: Marlo van Wyk
Gepubliseer: 01/06/2023

​Harmonie, 'n sosiale waarde wat China hoog op prys stel, strook goed met redelikheid, korrektheid en versoenbaarheid – drie van die kernaspekte waarom wêreldbestuur draai.

China vestig hulleself toenemend as 'n belangrike entiteit in wêreldbestuur, en 'n sentrale rolspeler in die internasionale stelsel. Teen dié agtergrond gedenk China vanjaar 'n kwarteeu van diplomatieke bande met Suid-Afrika. Gedurende 'n onlangse akademiese besoek aan die Universiteit Stellenbosch (US) het prof Qingxiu Bu, 'n medeprofessor in Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Sussex, klem gelê op die belang daarvan om China se bydrae tot wêrelduitdagings en -sake beter te verstaan, veral ook in die konteks van die diplomatieke verhouding tussen China en Suid-Afrika.

Prof Bu het van 10 tot 23 April 2023 as gas van die Confucius Instituut by die Universiteit Stellenbosch 'n reeks openbare lesings aangebied.

Die doel was om die publiek se begrip van kerntemas soos transnasionale bedreigings, wêreldbestuur en multilateralisme te verdiep. Met sy ses boeiende lesings in seminaarstyl het prof Bu die ontluikende rol van China in wêreldbestuur verduidelik. Die lesings het ook China en Afrika se sterk ontwikkeling op politieke, ekonomiese, tegniese, wetenskaplike en sosiokulturele terrein gekontekstualiseer om 'n sosiale konsensus oor toekomstige globalisasie te probeer bou. Daarbenewens het dit 'n ruimte gebied vir openbare gehore om aktief aan die gesprek deel te neem en die belangrikste wêrelduitdagings in China-Afrika-verband te help hanteer.

Uiteenlopende deelnemers het saamgedink aan innoverende maniere om in die era ná die pandemie voorspoedige en inklusiewe internasionale samewerking, en sodoende ook wêreldharmonie, te bevorder.