Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Katlego Letlonkane
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 08/05/2023

As ʼn arbeidsregspraktisyn, maatskaplike wetenskaplike en voormalige konsultant in die transformasie van menslike hulpbronne (MH), het Katlego Letlonkane talle organisasies gehelp om verandering teweeg te bring, veral mens- en kultuurverwante verandering. Benewens haar rol by die Universiteit Stellenbosch (US) as Programbestuurder: Kapasiteitsontwikkeling by MH, is Letlonkane ook ʼn gewilde aanbieder van SiyakhulaLive op MFM92.6, ʼn program wat met US-personeellede en -studente skakel. Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Letlonkane ons meer oor haar werk.

Wat behels jou rol by die US?

My rol is in die Departement Gelyke Indiensneming en Diversiteitsbevordering in Menslike Hulpbronne geleë en is redelik veelvlakkig omdat dit tot in die US se Transformasiekantoor strek. Ek bestuur die Siyakhula-program vir Diversiteitkapasiteitsontwikkeling, wat aan beide MH en die Transformasiekantoor behoort. Dit is allerweë bekend as Siyakhula en het ten doel om diversiteit en gelyke indiensneming by die US te bevorder deur geleenthede te skep vir personeelbetrokkenheid by sake wat die kern van ons menslikheid vorm. 

Ons geskiedenis, kulture, gelowe, praktyke, tale, uitdrukkings, identiteite, kennis en waardes is vir ons as mense belangrik en dis hoekom ons voortdurend moet nadink oor maniere waarop inklusiewe werkomgewings geskep kan word wat in ʼn kultuur van luister, nadenke, dialoog en deernis veranker is. Hierdie rol is kompleks, maar ek probeer om altyd eenvoudig te begin – dit werk elke keer! Ek fokus op die gedeelde menslikheid wat ons almal geniet, ons waardes as mense en as ʼn instelling, asook ons onvervreembare menslike waardigheid en gelykheid. 

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?

Dit begin en eindig met ʼn koppie tee! Dan is daar e-posse, geselsies en ʼn gelag saam met kollegas (ek werk saam met regtig baie snaakse en interessante mense!) Ek organiseer, fasiliteer, neem deel en bied talle byeenkomste, werksessies en gebeurtenisse oor baie US-omgewings heen aan. 

Ons Siyakhula-werksessies vir personeel begin op 25 Mei. Ek is baie opgewonde dat ons vanjaar meer sessies van aangesig-tot-aangesig gaan hê. Ek sien daarna uit om ons bande te verdiep en meer oor kollegas te leer gedurende hierdie twee uur lange sessies oor diverse aspekte van ons menslikheid. 

Ek bied Woensdagaande om 6 nm. ook ʼn nogal koel radioprogram op MFM92.6 aan: SiyakhulaLive. Dis ʼn bekroonde program wat ʼn belangrike deel van Siyakhula geword het en waardeur ons met personeellede, studente en die US-gemeenskap kan skakel om betekenisvolle dialoog te skep wat perspektiewe verander en ʼn verbintenis tot maatskaplike geregtigheid kan mobiliseer. Talle personeellede was al op die program en het insig en denke bygedra vir ʼn veranderende gemeenskap wat menslike diversiteit vier. Hierdie werk word deur ʼn verootmoedigende welwillendheid aan die gang gehou en ek is baie dankbaar dat ek die geleentheid het om mense op hierdie manier aan te raak en deur hulle lewens aangeraak te word. Ek sluit elke dag met ʼn oefensessie af – ek is mal oor joga, geniet tennis baie en mis nooit die trapklasse op Dinsdae en Donderdae nie!

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?   

Ek is ʼn regspraktisyn, dus het nadenke oor geregtigheid nog altyd deel van my praktyk uitgemaak. Ek het etlike jare lank as ʼn arbeidsregspraktisyn gepraktiseer en daarna het ek by People Advisory as ʼn konsultant gewerk. 

Hierdie rolle het ʼn betekenisvolle invloed op my benadering tot my werk, maar ek is ten eerste my ouma se kind en dít het waarskynlik die grootste invloed op wie ek as ʼn mens is. 

By die huis en in my gemeenskap geld die beginsel van botho (ubuntu). Dít is die plek vanwaar my idees, benaderings en interaksies met ander ontspruit. Ek het nog altyd my gawes in diens van die welstand van my gemeenskap gebruik. Ek beskou my tyd hier by die US as ʼn diens aan hierdie gemeenskap en ek dien graag.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Ek kan baie sê oor wat my tyd hier vir my op ʼn persoonlike vlak beteken het. Ek kom van Johannesburg af, dus het my skuif hierheen my genoodsaak om op nogal ʼn intieme manier te groei. Om weg van my gewone omgewing te wees het met kwesbaarhede, vrae en nadenke gepaard gegaan. Ek het nie ʼn ander keuse gehad as om die verandering te omarm wat in my lewe begin ontvou het nie. Dis nogal poëties dat die program wat ek hier lei Siyakhula heet, want dit beteken “ons groei”. Dit som my reis by die US tot op hede op. Daar word inderdaad gegroei!

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Ek droom daarvan om eendag ʼn koel karakter in ʼn groot animasieproduksie te speel. Ek wil bitter graag soiets doen en as daar enigeeen is wat iemand by Disney ken … ek is net hier en ek is nogal goed!