Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toekomstige professor: Van ʼn stom seun tot ʼn taalmeester
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 20/04/2023

​Tot hy ses jaar oud was, het Gibson Ncube nie ʼn woord gesê nie. Vandag praat dié seun wat aan stomheid gely het, vier Afrika- en drie internasionale tale. 

Dr Ncube is tans ʼn lektor in die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Moderne Vreemde Tale en word as een van die blinkste opkomende sterre in die akademiese wêreld beskou. 

Hy het “uiters verheug en geëerd gevoel" om saam met dr Tawanda Zininga, ʼn biochemikus, genooi te word om die US te verteenwoordig in die prestigeryke Toekomstige Professorsprogram (TPP), ʼn vlagskipinisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 

Die TPP staan onder leiding van prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in opvoedkunde aan die US, en het ten doel om die akademiese uitnemendheid en leierseienskappe van ʼn sorgvuldig uitgesoekte groep lektore aan Suid-Afrika se 26 universiteite te versterk. 

Al die TPP-genote toon belofte om leiers op hul gebied te word en hul plek in te neem as deel van ʼn getransformeerde volgende generasie van Suid-Afrikaanse professors oor alle dissiplines heen.  

Ncube is in Zimbabwe gebore, het Frans en Spaans aan die Universiteit van Zimbabwe gestudeer en het in 2011 ʼn meestersgraad in Frans behaal. Kort daarna het die Nagraadse Skool in Lettere en Sosiale Wetenskappe ʼn beurs aan hom toegeken om ʼn PhD in Frans en Franstalige Letterkunde onder toesig van prof Eric Levéel aan die US te doen. Sy tesis het op nie-normatiewe seksualiteite in Noord-Afrika-letterkunde gefokus. 

In Desember 2014 was hy die eerste van twee studente wat ʼn PhD in Frans behaal het sedert dié Departement by die US tot stand gebring is. 

Die studie van letterkunde het oor die afgelope dekade Ncube se roeping en heeltydse passie geword. “Dit fassineer my hoe tale onderling verbind is en veral hoe tale ons in staat stel om sin van die wêreld en ons ervarings te maak. Ek is aangetrokke tot die wêrelde wat woorde en tale deur letterkunde moontlik maak," sê hy. 

“Al was my ouers nie op universiteit nie, het hulle seker gemaak ek en my sibbes kry die beste moontlike geleenthede om akademies te floreer. Ek was gemotiveer om sukses in my studies te behaal omdat ek die eerste lid van ons familie was wat universiteit toe gegaan het. En nadat ek myself in die akademiese wêreld bevind het, het ek daarna gestreef om die beste weergawe van myself te wees." 

As 'n kind het sy bekommerde ouers hom dokter toe gevat om vas te stel waarom hy nie kan praat nie. Hulle was baie verlig om te hoor daar was fisies geen fout met hul seuntjie nie. Hy het eenvoudig sy tyd gevat om taal te begin gebruik. “My sussie, wat twee jaar jonger as ek is, was 'n ywerige prater en sy het my uiteindelik gehelp om uit my dop te kruip," verduidelik Ncube.

Hy is een van die enkele akademici in Suider-Afrika wie se navorsing heen-en-weer vleg oor die sub-Sahara-skeidslyn wat neig om Afrika-letterkundestudies in twee afsonderlike linguistiese segmente te beskou. Hy het samewerkende navorsingsprojekte met kollegas van die Leeds-Universiteit (VK) en die Bayreuth-Universiteit (Duitsland) onderneem. Voorts het hy ook etlike post-doktorale genootskappe voltooi, soos ʼn Vrystaande Nadoktorale Genootskap wat deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika (NNSSA) gefinansier word, asook die Africa Humanities Programme se post-doktorale genootskap wat deur die American Council for Learned Societies gefinansier word. 

Ncube se navorsingsbelangstellings lê in vergelykende letterkunde, queer- en genderstudies, asook postkoloniale Afrika-studies. Hy stel veral belang in die verteenwoordiging van gender- en seksuele identiteite in verskillende dele van die vasteland van Afrika, veral in Noord- en Suider-Afrika. 

“Ek fokus op literêre tekste en ander kulturele produksies soos romans, outobiografieë en films om transkontinentale, interstreeks- en transtalige dialoë te ontleed wat ʼn meer volledige en allesomvattende verbeelding van nie-konformerende seksuele en genderervarings in Afrika toelaat."

Sy werk het getoon dat nie-konformerende seksuele en genderidentiteite nie vreemd aan die vasteland van Afrika is nie. Alternatiewe gender- en seksuele uitdrukking het, trouens, lankal in Afrika bestaan en bestaan steeds. Belangrik is dat sy navorsing toon hoe gender- en seksuele minderhede nie-akkommoderende sosiokulturele, godsdienstige en politieke kontekste te bowe kom.

Dit was nogal ʼn verrassing om gekies te word om die US in die Toekomstige Professorsprogram te verteenwoordig, sê Ncube.“Ek het by die Hoof van my Departement, prof Catherine du Toit, van die TPP gehoor. Al het ek pas by die US aangekom, het sy my aangemoedig om aansoek te doen en ek was geskok toe my aansoek een van vyf was wat die kortlys gehaal het om die US te verteenwoordig. Ek was selfs meer geskok toe ek as een van die 30 akademici vir die 2023-groep gekies is. Dié ervaring was alreeds verrykend, veral om my in ʼn multikulturele groep van uiters begaafde akadamemici by verskillende universiteite in Suid-Afrika te bevind."

Die vaardighede wat Ncube danksy die program ryker word, het hom reeds gehelp om sy navorsing meer toeganklik te maak. Hy hoop sy navorsing sal uiteindelik openbare beleid oor gender- en seksuele minderhede in Suid-Afrika en verder beïnvloed. 

Ncube meen die FPP sal hom ook help om netwerke te vorm om langtermyn- volhoubare samewerking te bevorder. “Ek kon reeds kollegas in die 2023-groep met soortgelyke navorsingsbelangstellings vind. Ek bearbei tans ʼn kollega om mede-outeur te wees van ʼn spesiale vaktydskrifuitgawe wat die verteenwoordiging van queerheid in verskillende Afrika-letterkundetekste bekyk. Die FPP is wonderlik in hierdie opsig, omdat dit oorkruis- en multidissiplinêre samewerking toelaat wat my navorsing en loopbaan myns insiens net kan verryk en positief kan raak. 

“Ek hoop ook om deur ons opleidingsessies te leer om ʼn gesonde balans tussen die verskillende fasette van my werklewe en my lewe weg van die werk te vind. Ek dink akademici sukkel dikwels om ʼn gesonde balans in hierdie opsig te handhaaf."

Sy ervaring by die US as ʼn PhD-student, ʼn nadoktorale student en tans as lektor was niks minder as verrykend nie, sê Ncube. “Die gesonde werkomgewing en die steun wat aan navorsers gebied word, is buitengewoon. Die kaliber van ons studente maak klasgee aan die US ʼn plesier. Hulle is ywerig om te leer en klaskamers is ʼn ruimte waar nuwe dinge ontdek en kennis saam met studente geskep word. Kollegas in my Departement is ook baie ondersteunend en ek geniet dit om saam met mense te werk wat net so besorg oor my werk as oor my lewe buite die werkkonteks is."

Ncube is tans die assistent-redakteur van die South African Journal of African Languages en was van 2020-2022 die medesameroeper van die Queer African Studies Association. Sy talle toekennings sluit in sy aanwysing in 2021 as die Mary Kingsley Zochonis- Uitgelese Lektor (African Studies Association UK & Royal African Society). Hy dien in talle eindredaksies, insluitende dié van Nomina Africana; die Journal of Literary Studies; die Canadian Journal of African Studies; Imbizo: die International Journal of African Literary and Comparative Studies; die Nordic Journal of African Studies; en die Governing Intimacies in the Global South Book Series van Manchester University Press. 

Ncube se tweede boek, Queer Bodies in African Films, is in 2022 as deel van die African Humanities Programme Book Series deur NISC gepubliseer. Dié boek is een van die eerste wat ʼn ontleding oor streke heen en tussen kontinente bied van queerheid in die Afrika-rolprentbedryf anderkant koloniale linguistiese grense. ʼn C1-gradering is ook onlangs deur die NNSSA aan Ncube toegeken.