Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Konferensie pak transformasie in hoër onderwys
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/11/2022

Transformasie in hoër onderwys is nie net ʼn nasionale agenda nie, maar is noodsaaklik vir die verwesenliking van ʼn nierassige samelewing. Suid-Afrika, soos ander lande wêreldwyd, word deur ʼn magdom realiteite, vrae en uitdagings in die gesig gestaar wat op verskeie maatskaplike, ekonomiese en politieke vlakke uitspeel. Die kwessie van ras en rassisme is aan die hart van hierdie uitdagings. Ras bly sentraal om maatskaplike ongelykhede te verstaan omdat dit nie in isolasie funksioneer nie, maar op die politiek van interseksionaliteit staatmaak om te onthul hoe mag werk. 

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die Ras en Transformasie in Hoëronderwys-konferensie in vennootskap met die Nelson Mandela-universiteit en die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk aangebied. Die konferensie, wat van 15-17 November 2022 by die Stellenbosch-instituut vir Gevorderde Studies aangebied is, is deur akademici, navorsers, personeellede, gemeenskapsleiers, nagraadse studente en belangegroepe bygewoon. Dit het gefokus op die netelige kwessie van ras en transformasie in Suid-Afrikaanse hoër onderwys te midde van die US se komplekse en gevarieerde ervarings om die Universiteit in ooreenstemming met menseregte-, gelykheids- en herstelbeginsels te transformeer. Hierdie fokus is in die lig van hoëronderwys-transformasie in streeks-, nasionale en globale kontekste oorweeg. 

Die konferensie is aangebied terwyl die US besig was om die bevindings en aanbevelings van die Khampepe-verslag oor rassisme, diskriminasie, taal en kultuur te verwerk – ʼn selfopgelegde gewetensondersoek-oefening wat deur prof Wim de Villers, Rektor en Visekanselier, as “’n kantelpunt” vir die Universiteit beskryf is. As sodanig het dit indringende institusionele bepeinsing oor die US se geskiedenis, sy transformasiereis en sy verhouding met sy publiek binne ʼn raamwerk van transformasie deur en in die Universiteit moontlik gemaak.  

Die US se Transformasie-indaba, ʼn jaarlikse byeenkoms waar die universiteitsgemeenskap transformasie by die US bespreek en evalueer, het die weg vir die konferensie gebaan. Vanjaar se tema was “Restitusie Anderkant Retoriek” en die bepeinsing het gefokus op die US-restitusieverklaring, die fundamentele betekenis daarvan en watter verantwoordelikheid dit nie net op die instelling plaas nie, maar op elke individu wat deel van die US-gemeenskap is. 

Ook in Oktober het die US ʼn inter-universiteitswerksessie oor die studie van transformasie aangebied. Dit is gedoen in samewerking met die Transformasiebestuurdersforum, ʼn gemeenskap van transformasie-praktisyns in hoër onderwys onder die vaandel van Universiteite Suid-Afrika (USAf). Hierdie werksessie is bygewoon deur akademici en transformasiebestuurders van die meeste van die 26 universiteite in Suid-Afrika wat verantwoordelikheid vir institusionele transformasie en verandering by die onderskeie instellings neem. Konferensiegangers het beraadslaag oor grondwetlik gebaseerde konsepte, norme, idees, beleide en praktyke om transformasie-uitkomste op universiteitskampusse ʼn hupstoot te gee en te verdiep. Die gebrek aan sosiale kohesie in hoër onderwys is deur die afgevaardigdes onder die loep geneem. 

Die hoofrede van die Ras- en Transformasiekonferensie is deur prof Rajani Naidoo, Vise-president: Gemeenskap en Insluiting aan die Universiteit van Bath, gelewer. Sy het gefokus op hoe ras en rassisme universiteite se algehele funksionering en transformasieverwante praktyke beĭnvloed het. Sy het klem gelê op die impak van ras op die beleide, diskoerse, benaderings, bestuurs- en transformasiepraktyke by universiteite. Sy het spesifiek bespreek hoe universiteite ras en rassisme as een van die hoekstene van hul soeke na transformasie aanpak. Sy het wenke gegee vir onmiddellike aksie wat geneem kan word om oop dialoog te bevorder en bestaande patrone te ontwrig om betekenisvolle en volhoubare transformasie te bewerkstellig. Sy het na voorbeelde en gevallestusies van die Universiteit van Bath se transformasiereis verwys, asook na die verhouding tussen die Universiteit en die omringende dorp. 

Gassprekers by die konferensie het ingesluit dr George Mvalo, voorsitter van die USAf se Transformasiebestuurdersforum, wat gepraat het oor die ingewikkelde uitdagings van transformasie regoor Suid-Afrika se hoëronderwyslandskap, asook prof Melissa Steyn, Direkteur by die Wits-sentrum vir Diversiteitstudies, wat gepraat het oor die rol van ras en rassisme in die vorming van universiteite se interne institusionele kultuur. Sy het die kollig geplaas op die oorsprong van rassistiese denke as deel van die opkoms van kolonialisme en het bespreek hoe verhoudingsdinamika in universiteite se daaglikse werksaamhede steeds deur rassisme aan bande gelê word.

ʼn Paneelbespreking oor die Khampepe-verslag is gelei deur prof Sandy Liebenberg, bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg aan die US, prof André Keet, Adjunk-visekanselier van Betrokkenheid en Transformasie by die Nelson Mandela-universiteit, en prof Jürgen Enders, Mededirekteur van die International Centre for Higher Education aan die Universiteit van Bath. Die paneel het verskillende perspektiewe oor die verslag gedeel en sleutel-oorwegings bespreek.

US-sprekers het ingesluit dr Zethu Mkhize (Direkteur van die Transformasiekantoor), prof Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel), prof Aslam Fataar (professor in die Departement Onderwysbeleidstudies en ʼn professor in navorsing en ontwikkeling verbonde aan die Transformasiekantoor), prof Nokwanda Makunga (Fakulteit Natuurwetenskappe), Prof Jonathan Jansen (uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde), prof Dennis Francis (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), Yeki Mosomothane (multikulturele opvoeder en koördineerder, Sentrum vir Studentgemeenskappe) Renee Hector-Kannemeyer (Afdeling Maatskaplike Impak), en dr Leslie van Rooi (Senior Direkteur: Maatskaplike Impak en Transformasie).

Die konferensie het ook terreinbesoeke aan plaaslike gemeenskappe ingesluit, waar lede van hierdie gemeenskappe en US-vennote met konferensie-afgevaardigdes in gesprek kon tree en hul geleefde ervarings kon deel. Gedurende hierdie besoeke is die Universiteit uitgedaag om sy voetspoor en impak in plaaslike gemeenskappe te vergroot. Die volgende terreinbesoeke het plaasgevind: 

Opvoeding vir volhoubare oorgange: ʼn ervaringsreis in ʼn plaaslike Stellenbosse konteks: Aanwesiges het die Volhoubaarheidsinstituut by Lynedoch besoek. Die sessie het gefokus op hoe ʼn kurrikulum gestruktureer kan word om bevoegdheid in volhoubaarheidsoorgange te ontwikkel. 

Slawerny, identiteit en segregasie: Pniël en die vrymaking van slawerny: Die besoek aan hierdie historiese gemeenskap het gesprekke en nabetragting moontlik gemaak oor slawerny, die vrymaking van slawerny en die huidige daaglikse stryde soos dit deur die plaaslike gemeenskap ervaar word. Die toer het in en om die Pniël Congregational Church en die Pniël-museum plaasgevind.

Die Universiteit en ontwikkeling in die konteks van Cloetesville: Die woonbuurt Cloetesville is histories ingevolge die Groepsgebiedewet (1950) vir die bruin gemeenskap geskep. Die wet was ʼn sentrale deel van die apartheidsbeleid, wat ten doel gehad het om gemengde woonbuurte uit die weg te ruim en met rasgesegregeerde areas te vervang. Besprekings tydens die terreinbesoek het op heropbou en ontwikkeling, nasiebou en heling gefokus. 

Segregasie, gemeenskap en ontwikkeling: Die storie van een van Suid-Afrika se oudste  townships: Kayamandi is een van Suid-Afrika se oudste townships en het ʼn ryk kulturele geskiedenis. Dit huisves ook talle historiese terreine. Konferensie-afgevaardigdes het ʼn voormalige US-hostel besoek waar migrantewerkers verbonde aan die Universiteit gehuisves is, asook die Kayamandi-erfenissentrum en die Amazink-teater en -restaurant. 

Die Vlakte en restitusie: Hierdie sessie het by die ou Lückhoff-hoërskool in Banghoekweg, Stellenbosch (Die Vlakte) plaasgevind. Hierdie was die eerste Afrikaanse hoërskool vir bruin kinders in die Boland. Die area is ingevolge die Groepsgebiedewet as wit verklaar en in 1969 het die leerders en onderwysers na die nuwe Lückhoff-skool in Idasvallei geskuif. Die skoolgebou het later die US se eiendom geword. Konferensie-afgevaardigdes het die geleentheid gehad om met die geskiedenis en huidige realiteite van Lückhoff en die gemeenskap van Die Vlakte om te gaan.

Die konferensie het ook ʼn paneelbespreking oor transformasiepraktyk, kultuur en geleefde ervarings in US-koshuise en ʼn bespreking oor visuele herstel ingesluit. Konferensietemas het ingesluit die geskiedenis van ras in hoër onderwys, die mag en beperkings van taal in die fasilitering van insluiting, die waarde van progressiewe entiteite en instellings in hoër onderwys, die rol van navorsing in die aanpak van rassisme, asook die bevindings van die Khampepe-verslag.

As die US waarlik ʼn nasionale bate wil wees wat die moontlikhede van die samelewing in die algemeen versterk, moet ons ruimtes en omgewings van navorsing en onderrig en leer transformasie en inklusiwiteit as ʼn dringende noodsaak verskans. Die US beskik oor al die moontlikhede hiervoor. En die Khampepe-verslag kan inderdaad die boublokke van ʼn raamwerk vir indringende verandering word. 

Lees meer oor nabetragtings op die konferensie:

https://www.litnet.co.za/we-cannot-go-back-my-reactions-to-the-race-and-transformation-in-higher-education-conference-at-stellenbosch-university/

https://www.litnet.co.za/the-ambiguity-of-the-name-luckhoff-my-thoughts-at-the-race-and-transformation-in-higher-education-conference-at-stellenbosch-university/

https://www.litnet.co.za/race-and-transformation-in-higher-education-conference-raises-crucial-themes-in-pursuit-of-stellenbosch-universitys-transformation-journey/