Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Guy Midgley: Profiel van 'n klimaatskampvegter
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/11/2022

Prof Guy Midgley het in September 2022 'n Eco-Logic-toekenning ontvang – die jongste in 'n hele rits eerbewyse wat al aan dié hoof van die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Klimaatstudie verleen is. Lees hier meer oor prof Midgley en waarom sy heel eerste navorsingswerk nou selfs relevanter is as ooit vantevore.

​As jong seuns, het Midgley en sy broers dikwels skoolvakansies by familie gaan bly, en was hulle bevoorreg om tyd op die plaas Melkkamer, naby die De Hoop-natuurreservaat in die Suid-Kaap, te kon deurbring. Plaasbestuurder Mike Swart, wat sy lewe lank in die streek gewoon het, was 'n ryke bron van kennis oor die plaaslike plante en diere. Hier sou Midgley en sy broers dae lank in die natuur ronddwaal. Dít is dan ook waar die toekomstige hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Klimaatstudie 'n liefde vir die natuur en 'n aanvoeling vir ekologie ontwikkel het.

Hy het ná matriek 'n beurs ontvang om vir BSc-studie aan die US in te skryf, maar het eers in sy derde jaar en gedurende sy honneursstudie werklik sin en rigting in sy akademiese werk begin vind, sê Midgley. Die destydse dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe en 'n inspirerende dosent, prof JA de Bruyn, het sy passie vir plantfisiologie laat vlamvat. De Bruyn se voorgeskrewe handboek het nie net die strukturele fisiologie van plante bestudeer nie, onthou Midgley, maar het ook dieper gedelf in hoe plante asemhaal en drink. “Dít het vir my 'n lig laat opgaan," sê hy.

Nadat hy gegradueer het, moes Midgley sy beurs terugbetaal. Hy doen dus aansoek om 'n pos by die Botaniese Navorsingsinstituut (BNI) in Kaapstad, waar die ekoloog Mike Rutherford, ook 'n US-alumnus, aan die hoof van 'n plantfisiologiegroep gestaan het. Rutherford was 'n visionêre denker wat Midgley selfs nuuskieriger gemaak het oor die potensiaal van plante om wetenskaplikes omgewingspatrone en -tendense te help verstaan. “Ek het heelwat geleer oor plant-ekofisiologie, wat net mooi in daardie stadium as vakgebied begin groei en ontwikkel het," sê Midgley, “en so het ek aan die groter prentjie begin dink en die groter vrae begin vra."

Bevorder die klimaatsveranderingsagenda

Sy leergierigheid en wye navorsing oor ekologie het hom laat besef dat daar 'n debat oor klimaatsverandering aan die broei is. Dit is in dié stadium dat hy die eerste Senaatsverhore oor die kwessie in die Verenigde State begin volg het.

Intussen is die BNI in 2004 in die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) omskep, met prof Brian Huntley aan die stuur. Midgley sê Huntley was 'n uitsonderlike wetenskapsleier wie se werk by die Stigting vir Navorsingsontwikkeling (SNO) die wêreld van Suid-Afrikaanse ekologienavorsing laat kennis neem het. “Die SNO het ongelooflike verslae oor biome uitgereik wat grotendeels die grondslag gelê het vir hoe ons die Suid-Afrikaanse ekologie vandag verstaan. Dit was en is steeds wêreldgehalte," sê hy opgewonde. “Danksy visionêre leiers soos Brian Huntley deel Suid-Afrikaanse ekologie steeds die verhoog met die wêreld se swaargewigte."

Huntley het SANBI se senior wetenskaplikes uitgedaag om met interessante en belangrike navorsingsonderwerpe en -projekte vorendag te kom. Hy was ontevrede met die voorstelle wat hy ontvang het en gee toe opdrag dat SANBI-navorsing die drie hoofkonvensies volg wat in 1992 by die Verenigde Nasies se konferensie oor die omgewing en ontwikkeling (UNCED) in Rio beding is, naamlik biodiversiteit, woestynvorming en klimaatsverandering. Midgley, toe nog 'n junior in die groep, het voorgestel dat hulle die uitwerking van CO2 op plantgroei bestudeer, en hy het 'n beskeie projekbegroting ontvang. Die berokingstelsel wat hy hierna ontwikkel het, het die duidelike uitwerking van verskillende CO2-vlakke op plantgroei by die endemiese Proteaceae getoon, en geïllustreer hoe inherente eienskappe én voeding plante se reaksie op CO2 beïnvloed.

Verdere werk deur Rutherford se span het die impak van die klimaat op plant- en bioomverspreiding ondersoek. Midgley het Huntley aan die begin van die 2000's ondersteun om by twee afsonderlike geleenthede die nasionale Kabinet oor kernaspekte van klimaatsverandering toe te spreek. “Tot in daardie stadium het Suid-Afrika in sy onderhandelinge swaar klem gelê op fossielbrandstofbelange, maar aanbiedings oor kwesbaarheid aan die Departement van Omgewingsake het die denke in dié verband help uitbrei.

“Ons het die verslag South African Country Study on Climate Change geskryf, wat uiteindelik Suid-Afrika se eerste kommunikasie aan die Verenigde Nasies se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering (UNFCCC) sou word. Dit was van die eerste stukke werk wat die klimaatsveranderingsagenda bevorder het, so SANBI was beslis die voorloper," sê Midgley. En weliswaar, toe die Suid-Afrikaanse Wetenskapsakademie (ASSAf) 'n studie onderneem het van institute wat in die vroeë 2010's op die gebied van klimaatsverandering gewerk het, het hulle bevind dat die SANBI-spannetjie op klimaatsgebied hoër aangeskryf was as die meeste universiteite in die land. Toevallig was dít net mooi toe Midgley vyf jaar lank aan die hoof gestaan het van 'n SANBI-navorsingspan oor klimaatsverandering.

Lei die wêreldwye klimaatsgesprek

Midgley was teen die vroeë 2010's al hoe nouer betrokke by beleidvorming. Sy werk was lank nie meer tot ekologie en landbou beperk nie, maar het ook groter volhoubaarheidskwessies soos verstedeliking en ramprisikobestuur ingesluit. Saam met sy span het hy destyds van die belangrikste verslae hieroor uitgereik en terselfdertyd opdragwerk vir die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) en die UNFCCC gedoen.

Die reisvereistes vir sy werk het later sy gesondheid begin benadeel, so toe hy te hore kom van 'n vakature in die US se Departement Plant- en Dierkunde het hy aansoek gedoen vir die geleentheid om die laaste dekade van sy loopbaan in 'n minder stresvolle akademiese omgewing deur te bring. Hierna volg 'n hele paar betreklik rustige jare op Stellenbosch. 'n Paar jaar nadat hy in Wêreldwyeveranderingsbiologie begin klas gee het, het die destydse Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, prof Eugene Cloete, hom egter genader om die Universiteit se Skool vir Klimaatstudie op die been te bring.

Die Skool, wat amptelik in die middel van 2021 bekend gestel is, konsentreer op omgewingsverantwoordelikheid en interdissiplinariteit. “Wat ons probeer doen, is om oor 'n aantal verskillende instellings heen te werk om samewerkende navorsingsprogramme te bou en verskillende benaderings te ontwikkel om ons verhouding met en impakte op die klimaat te verstaan – die oorsake, die impakte én die oplossings," sê Midgley. “Want die oplossings sluit alle denkbare terreine in, van landbou, chemie en biologie, tot energie, ekonomie, politiek en globale geopolitiek. Dit is 'n vakgebied wat werklik die grondbeginsels – en die grondslag – van ons moderne samelewing uitmekaartrek."

Nes SANBI van vroeg af reeds sukses behaal het met die bevordering van die wêreldwye klimaatsveranderingsagenda, is die Skool vir Klimaatstudie ook vinnig besig om naam te maak as 'n kernspeler op die klimaatsveranderingsverhoog. Die Skool se werk oor die risiko's van bebossing (boomaanplanting in ekosisteme wat van nature onbebos is) in Afrika speel 'n belangrike rol in die bevraagtekening en heroorweging van finansiering vir potensieel skadelike bebossingsprojekte. En hulle beoordeling van klimaatsveranderingsrisiko's vir biodiversiteit in die jongste IPCC-verslag bied noodsaaklike ondersteuning vir beleidvormers om op streng temperatuurteikens aan te dring.

“Ons ontwikkel tans 'n vyf weke lange aanlyn kursus oor klimaatsveranderingsuitdagings in Afrika, wat ons hopelik aanstaande jaar sal bekend stel," sê Midgley. “En ons onderneem nuwe werk op die gebiede van klimaatsveranderingshidrologie, biodiversiteit en agriwetenskap. Ons is ook besig om 'n program oor planetêre gesondheid en klimaatsrisiko's saam te stel om navorsingsfinansiering te bekom." Ander inisiatiewe sluit in 'n program oor koolstofdioksiedverwydering uit die Suidelike Yssee en die landoppervlak van Suider-Afrika, en die optimalisering van grootdatagebruik vir klimaatsnavorsing, met 'n aanvanklike klem op landboutegnologie. Laasgenoemde word in samehang met die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke gedoen.

Boonop het die Skool vir Klimaatstudie met die Globale Universiteitsalliansie oor die Klimaat (GAUC) saamgewerk om 150 studente van die US se vennootuniversiteite – waaronder 15 van Stellenbosch self – as Globale Jeugambassadeurs op te lei. Die jeug het daarna aan 'n Klimaatsjeugweek in aanloop tot die 27ste Konferensie van die Partye van die UNFCCC (COP27) deelgeneem. Die Skool het ook onlangs 'n Afrikastreeksforum oor Klimaatsverandering op Stellenbosch aangebied waar 45 universiteite van die vasteland teenwoordig was, en het daarmee sy aanwesigheid by ten minste een COP27-randgeleentheid verseker.

Die US se prof Guy Midgley, eens 'n jong student wat gefassineer was met hoe 'n plant asemhaal, is deesdae 'n kernbydraer tot die wêreldwye beweging om ons planeet te red. So help plaas hy die Universiteit aan die voorpunt van klimaatstudie noudat die mensdom dit juis die nodigste het.