Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dave Pepler gesels met kundiges oor hallusinogene, grondmikrobes en antieke sterrestelsels
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Faculty of Science)
Gepubliseer: 29/09/2022

Hallusinogene, grondmikrobes en antieke sterrestelsels is van die onderwerpe wat die bekende omgewingskenner Dave Pepler tydens vanjaar se Stellenbosch Wetenskapskafee-gesprekke gaan ondersoek.

Sedert die wetenskapskafee vir die eerste keer in 2015 tydens Woordfees by die Plataankafee aangebied is, kon besoekers na gesprekke oor interessante en soms kontroversiële onderwerpe in die natuurwetenskappe luister. In 2015 is daar gepraat oor klimaatsverandering, waarom voëls sing en die belangrikheid van insekte. En in 2020 was dit oor genetiese toetse, heuningbostee en kunsmatige intelligensie.

Die Stellenbosch Wetenskapskafee is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om gesprekke oor wetenskaplike kwessies op openbare platforms aan te moedig. Vanjaar se program lyk as volg:

​Dinsdag 11 Oktober I 18:00-19:00  I  Plataankafee 

​Hallusinogene in die behandeling van geestesgesondheid 

Hallusinogene middels, veral dié wat van plante afkomstig is, word al vir duisende jare in inheemse kulture gebruik as deel van sosiale en godsdienstige rituele. Dave Pepler gesels vanaand met Dr Heinz Mödler, narkotiseur en skrywer van En daar was dagga: 'n Biografie, en die Stellenbosch-gebaseerde kliniese sielkundige, Louis Awerbuck. 

Woensdag 12 Oktober  I  18:00-19:00  I  Plataankafee 

​Fantastiese mikrobes en die toekoms van landbou 

Daar is meer as 'n miljard mikrobes in 'n teelepel grond – daarom beskou wetenskaplikes grond as 'n lewendige organisme. Dave Pepler praat met Prof Karin Jacobs oor hoe die  grondmikrobioom weer lewe kan kry  in die gees van regeneratiewe landbou. Prof Jacobs is verbonde aan die US se Departement Mikrobiologie. 

Donderdag 13 Oktober  I  18:00-19:00  I  Plataankafee 

​James Webb-ruimteteleskoop: wat sien ons en wat beteken dit?

Sedert Julie vanjaar stuur die James Webb-ruimteteleskoop asemrowende beelde van antieke sterrestelsels, tot 13 miljard jaar oud, na die aarde. Dave Pepler vra vir Dr Anslyn John van die US se Departement Fisika oor die betekenis van hierdie beelde vir wetenskap én die mensdom.  

Volg ons op Facebook of stuur 'n epos aan science@sun.ac.za om op hoogte te bly.