Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bevorder Betrokkenheid by die US Assesseringsbeleid
Outeur: Anthea H M Jacobs
Gepubliseer: 25/02/2022

Die US Assesseringsbeleid is in 2021 goedgekeur en die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking (ALOV) het besef dat daaroor besin moet word om die inwerkingstelling van die beleid in samewerking met fakulteite te ondersteun. Assessering is op institusionele vlak uitgewys as een van die sewe goed wat die speelveld vir 2022 verander. Die ALOV se 'Assessering maak saak'-projek het ook daarin geslaag om strategiese finansiering vir 2022 tot 2024 te bekom. Dit was dus nodig dat alle personeellede met die assesseringsbeleid vertroud raak en bewus raak van die rol wat elke sentrum moontlik in die steun en inwerkingstelling daarvan kan speel. 

Hiervoor is daar op Donderdag 24 Februarie 2022 ʼn werksessie op MS Teams aangebied. Die werksessie wou die ALOV hoofsaaklik in staat stel om ʼn duidelike beeld van die ontplooiingsplan vir die US Assesseringsbeleid te vorm. Die werksessie was veral van groot waarde met die byeenbring van die werk wat deur die verskillende sentrums in die ALOV gedoen is, as demonstrasie van samewerkende denke en sinergie. 

Die deelnemers het die doelwitte en beginsels van assessering in wegbreekgroepe bespreek. Dit is gevolg deur die onderskeie insette van:

  • die Sentrum vir Akademiese Beplanning en Gehalteversekering (ABG) oor hoe ʼn kultuur van gehalteversekering en verryking ten opsigte van assesseringspraktyke in akademiese departemente gevestig kan word;
  • die Sentrum vir Leertegnologie (SLT) met ʼn oorsig oor die leertegnologie ter ondersteuning van e-assessering wat met die beleid belyn is en hoe om dit te benader;
  • die Taalsentrum, wat vier aspekte uitgelig het – hoe die Leeslaboratorium studente met leesuitdagings bystaan ten opsigte van die toekenning van ekstra tyd tydens eksamens en toetse; die steun wat deur die personeel gebied word met die assessering van gehoorgestremde studente; hoe die vertaling van toetse en eksamens betroubaarheid en integriteit vestig, deurdat dit 'konsekwente meting' verseker; en hoe die onderrigafdeling van die Taalsentrum, die modules vir Akademiese Geletterdhede en Professionele Kommunikasie in die besonder, assessering benader; en
  • die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) met ʼn demonstrasie van hulle samewerking met fakulteite en ander rolspelers deur, byvoorbeeld, die assesseringskortkursus, werksessies en navorsing. 

Dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur, ALOV, het al die besprekingspunte opgesom en die verskillende sinergieë byeengebring. Sy het dit gebruik om die pad vorentoe vir die bevordering van betrokkenheid by die US Assesseringsbeleid (2021) uit te stip. Dit sluit in die verdere ontwikkeling van die Beleid se Infografika, en ook die navorsingsprojek waaraan die ALOV meewerk, “Assessment matters: Re-imagining assessment culture and practices for a transformative student experience" (Assessering maak saak: Die herverbeelding van assesseringskultuur en -praktyke vir ʼn transformerende studentervaring).