Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jou optrede beïvloed die US groen geboude omgewing
Outeur: Facilities Management
Gepubliseer: 14/10/2021

​Die Universiteit Stellenbosch werk hard daaraan om stelsels en prosesse op die kampus na meer volhoubare energiebronne te verander en die impak op die omgewing te verminder. Omgewingsvolhoubaarheidsbeginsels vorm deel van die beplanning van nuwe geboue, instandhoudings- en opknappingsprojekte, en nuwe ruimtes vir navorsing, onderrig en interaksie. Die beste bedoelings, regulasies en beginsels ter wêreld het geen invloed as ons nie ons gedrag ook verander nie, sê Nadeem Gafieldien, Direkteur Eiendomsdienste by Fasiliteitsbestuur.

“Studente en personeel dink nie noodwendig aan die omgewing in hul daaglikse omgang op die kampus nie. Waar daar mense is, beïnvloed hulle die plaaslike ekosisteem op die een of ander manier," sê Gafieldien.

Die doeltreffende en veilige werking van alle geboue en ruimtes hang af van die interaksie van mense in ooreenstemming met die ontwerp -doel van die ruimte. Besonderhede van volhoubaarheidsinisiatiewe vorm deel van die die ontwerp van geboue en ruimtes, wat die optimalisering van die omgewingsprestasie van die geboue sal vergemaklik as dit korrek gebruik word. 

Christine Groenewald, as deel van FM se Environmental Sustainability-span, is die dryfveer agter die betrokkenheid van ons studente- en personeelgemeenskappe by projekte wat bewustheid rondom volhoubaarheid op die kampus verhoog. Haar sessies wissel van bome plant op geïdentifiseerde ruimtes tot die betrokkenheid van studente en personeel by herwinningsprojekte.

Groenewald het ons tien maniere gegee om 'n groen ingesteldheid in ons daaglikse interaksie met die beboude omgewing op ons verskillende kampusse te ontwikkel. Hier is haar stof tot nadenke: 

  1. Daardie geliefde oggendkoffie. Hoe drink jy dit? Miskien in 'n weggooikoppie? Oorweeg dit om 'n herbruikbare koppie vir jou te koop (die Matie Winkel het van tyd tot tyd 'n paar spesiale aanbiedinge!). Jy gaan wel self jou koppie moet was, maar binnekort is daar selfs 'n oplossing hiervoor ook op die kampus, so hou hierdie ruimte dop. En terwyl ons hierdie onderwerp oorweeg, in plaas daarvan om nog 'n plastiekbottel water te koop, oorweeg dit ook om vir jou 'n goeie herbruikbare bottel vir water te koop.
  2. Koop tweedehands. Elke jaar kom daar nuwe studente op kampus, en verlaat 'n klomp ons weer. En elke jaar koop die eerstejaars nuwe lessenaars en die senior studente verkoop ons hul ou lessenaars. Oorweeg dit om jou meubels te verkoop (daar is 'n paar tweedehandse winkels of gebruik die Facebook-mark). In plaas daarvan om 'n splinternuwe lessenaar te koop, soek 'n paar tweedehandse goedere van goeie gehalte. Dit gaan jou minder kos en met 'n vars lagie verf kan alles weer splinternuut lyk. Dieselfde geld vir jou ou boeke, ketel, broodrooster, ander meubels en selfs jou klere.
  3. Oorweeg 'n minimalistiese leefstyl. Mense wêreldwyd begin terugkeer na 'n meer minimalistiese lewenswyse. Minder is meer, is nie net 'n gesegde nie. Waarom jou rakke en kaste vul met boeke wat jy nooit weer gaan lees nie, of klere wat jy nooit dra nie? Jy sal verbaas wees oor hoe min mens werklik nodig het. Nadat mens van 'n paar onnodige goed ontslae geraak het, voel jy sommer ligter ook.
  4. Kies digitaal. As daar iets is wat ons uit die COVID-19-pandemie geleer het, is dat ons nie meer gedrukte boeke, notaboeke en selfs plakkate nodig het nie. Ons is amper gedwing om in 'n wêreld te leef waar digitaal die nuwe norm is. Voor jy 'n dokument of dalk jou bankstaat druk, vra jouself of jy dit werklik nodig het. Maak aantekeninge op jou selfoon of rekenaar en doen 'n projek of 'n proefskrif digitaal. So kan jy baie bome, water, energie en skadelike ink bespaar.
  5. Loop of ry fiets werk of klas toe. As jy bevoorreg ​​is om naby die kampus te bly, oorweeg dit om daarheen te stap of fiets te ry. Miskien beteken dit dat jy bietjie vroeër moet opstaan, maar daar is 'n paar volhoubare wurms wat jy dalk mag vang - minder koolstofvrystellings, minder brandstof, geld bespaar, fiks word en wie weet, 'n gesonder en gelukkiger lewe hê! Word deel van 'n saamryklub en verseker so dat daar 'n paar motors in die motorhuis bly.
  6. Hou die ligte af. Maak eerder die gordyne oop en laat natuurlike lig in. Dit is baie beter om die venster oop te maak vir vars lug waar dit moontlik is, as om in 'n geslote kantoor met lugversorging vas te sit. Laat die natuur inkom. Verhitting van water is die tweede grootste verbruiker van elektrisiteit op kampus. Daarom het Fasiliteitsbestuur geisers vervang met energie-doeltreffende hittepompe. Dus, as jy korter stort, bespaar jy water en elektrisiteit.
  7. Herwin. Soos om die koffiekoppie weer te gebruik, herwin daardie wegneemete se verpakking. Op kampus is daar drie baie sigbare vullisdromme waar jy byna alles kan herwin: papier, plastiek en deesdae ook e-afval. Kyk uit vir die groot geel asblikke op die kampus, waar jy al jou ou laaiers, leidrade, batterye en selfs selfone kan herwin. Hierdie nuwe asblikke is by Admin A (IT hub), Ingenieurswese, die IT-gebou en by die Neelsie.
  8. Moenie kos mors nie. Voedselvermorsing is een van die grootste probleme van die US en daagliks beland hope kos op vullishope. Dink eers voordat jy die ekstra lepel rys opdis. Skep liewer vir 'n tweede keer in as om kos op jou bord te laat. As jy nie 'n groot vrugte-eter is nie, koop dit los in plaas van 'n hele pakkie piesangs wat maklik sal sleg word.
  9. Stap met jou oë wa-wyd oop. As jy 'n waterlek by jou studentehuis of koshuisgebou raaksien, rapporteer dit onmiddellik by FB se dienstoonbank by (021) 808 4666 of fmhelpdesk@sun.ac.za.
  10. Wees groen. Raak betrokke by die US se volhoubaarheidsprojekte. Kontak jou Groen Ambassadeur in jou koshuis of studentegemeenskap en maak 'n verskil vir jou kampus, die dorp Stellenbosch en die wêreld."

"Ons het met die droogte en die reaksie op COVID gesien dat ons allerhande uitdagings kan oorkom deur saam te werk. Ons het besef ons kan besluite neem wat tot almal se voordeel strek. Dit is hoe ons alle toekomstige uitdagings moet hanteer, want besluitneming vir eie belang is nie 'n opsie nie. Laat ons almal ons deel doen en die US se omgewingsvolhoubaarheidsdoelwitte en -projekte ondersteun om ons kampus groener te maak", sê Gafieldien.

Hy sê sy span is tans besig om 'n reeks projekte op die kampus op die been te bring wat deel vorm van die US se algemene omgewingsvolhoubaarheidstrategie om 'n volhoubare universiteit te word. Deur hul afdeling as 'n lewende laboratorium te gebruik, het Fasiliteitsbestuur sedert 2015 stelsels en prosesse in werking gestel om die weg te begin baan vir die Universiteit om 'n slim kampus te word waar besluitneming deur data gelei kan word om probleme op te los en volhoubare oplossings vir die toekoms te vind.