Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe sokkervennootskap skop af
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 12/10/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) sal vir die volgende aantal jaar saamwerk om sokkerspelers, sokkerloopbaangeleenthede én maatskaplike samehang in die sokkergemeenskap op Stellenbosch en in die wyer Wynlandstreek te ontwikkel. Die twee entiteite het Maandag (11 Oktober 2021) 'n memorandum van verstandhouding (MvV) by Maties Sport se kantoor op Stellenbosch onderteken.

Ingevolge die vennootskap sal die Stellenbosch-sokkerklub (SFC) vir drie seisoene by die Universiteit se Lentelus-sokkerkompleks oefen, en sal Premier Sokkerliga- (PSL-)wedstryde vir nege seisoene by die Danie Craven-stadion aangebied word, alles met ingang van 2021/22. Die ooreenkoms strek dus tot 2029.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het die MvV en veral die oogmerk om deur sport mense byeen te bring en maatskaplike samehang te skep, verwelkom. “Sokker is die grootste sport ter wêreld, so die voorsiening van 'n platform op Stellenbosch om loopbaangeleenthede vir begaafde jong spelers te skep sal nie net ons universiteitsgemeenskap en dorp nie, maar die ganse provinsie positief beïnvloed," het hy by die amptelike ondertekening gesê.

Volgens mnr Rob Benadie, uitvoerende hoof van SAS en SFC, is die Stellenbosch-klub se strategiese plan bespoedig toe hulle in 2019 reeds by die PSL ingesluit is. “Gelukkig is ons geleë op 'n dorp met 'n ryk sport-erfenis. Ons het die Universiteit en ander belangrike rolspelers wat met ons saamwerk om ons voortgesette groei te ondersteun," het hy gesê. “Dit is ongelooflik om te sien hoe opgewonde die dorp is oor die SFC-handelsmerk en die vooruitsig om 'n tuisvesting by die ikoniese Danie Craven-stadion te bou."

Afgesien daarvan dat die vennootskap jong begaafde spelers 'n platform sal bied om hulle vaardighede te slyp, sal dit ook spelers, steunpersoneel én administrateurs se holistiese ontwikkeling aanmoedig.

“Ons wil graag voortbou op die ongelooflike geskiedenis wat Maties Rugby by hierdie stadion geskep het en in stand hou," het Benadie bygevoeg. “Die klub sê opreg dankie aan mnre Johann Rupert en Jannie Durand van Remgro sowel as die US se Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, en sy bestuurspan wat hierdie droom bewaarheid het. Ek is vol vertroue dat hierdie vennootskap 'n uiters opwindende en suksesvolle onderneming sal wees, waarvan die voordele ook verder as sokker sal strek."​