Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 27 September 2021)
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 01/10/2021

​​Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 27 September 2021 die derde keer vir 2021 vergader.

Die Raad het kennis geneem van die voortslepende koronaviruspandemie en die negatiewe uitwerking wat dit op die samelewing het. Ons het die bestuur gemagtig om voort te gaan met die dringende ontwikkeling van 'n reël oor COVID-19-inenting vir studente en personeellede met die oog op die akademiese jaar 2022.

Ons het ook ons verbintenis tot 'n eenvormige handelsmerk vir die US herbevestig deur toestemming te verleen vir die ontwikkeling van 'n seremoniële weergawe van die nuwe korporatiewe logo om die instelling se huidige wapenskild te vervang.

Daarbenewens het die Raad twee beleide goedgekeur – een oor visuele regstelling, en die ander oor assessering – wat albei met ingang van 1 Januarie 2022 in werking sal tree.

Ons het 'n verslag van ons Taalkomitee ontvang en die tweede konsepweergawe van die hersiene US Taalbeleid oorweeg. Die beleid word vanjaar, die vyfde jaar waarin dit geld, hersien, soos in die beleid self bepaal.

Boonop het die Raad met die proses begin om 'n nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan te stel as opvolger vir prof Eugene Cloete, wat aan die einde van Junie 2022 aftree, en ook die heraanstelling van prof Sam Tshehla as dekaan van Krygskunde bevestig.

Lees gerus verder vir nóg inligting oor hierdie en ander sake wat ons Maandag hanteer het.

Vriendelike groete en bly veilig.

George Steyn
Voorsitter: US Raad


Raad magtig dringende ontwikkeling van inentingsreël

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het dit aan die Raad gestel dat dit vir die Universiteit 'n institusionele prioriteit is dat álle personeellede en studente volledig teen COVID-19 ingeënt word.

“Entstowwe is veilig en red lewens. Ons boodskap is dat inenting die verantwoordelike ding is om te doen. Daarom moedig ons almal aan om die entstof te ontvang," het hy gesê.

Die Universiteit voer sedert die aanvang van die landwye inentingsprogram in Februarie vanjaar 'n bewusmakingsveldtog, en het ʼn eie inentingsterrein op die Lentelussportterrein in Hammanshandweg op Stellenbosch tot stand gebring wat US-personeellede en -studente sowel as die algemene publiek bedien. Die US se Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, het aan die Raad verslag gedoen dat 518 personeellede, 2 236 studente en 1 472 lede van die gemeenskap sedert 10 Augustus 2021 hul inentings by Lentelus ontvang het, en dat vele ander ook steeds van inentingsfasiliteite elders gebruik maak.

Prof De Villiers het bevestig dat die US die moontlikheid van verpligte inenting ondersoek, en in dié verband uit die ervaring van ander instellings en organisasies in Suid-Afrika en wêreldwyd leer. Die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het op 27 Augustus 2021 'n taakgroep aangestel om die risikobeoordeling te onderneem wat ingevolge 'n gesondheid-en-veiligheidsdirektief wat in Junie 2021 gepromulgeer is, vereis word.

Die Raad het die aangeleentheid bespreek en daarna die volgende mosie aanvaar: “Die US Raad magtig die bestuur om aan die dringende ontwikkeling van 'n reël oor verpligte inenting vir studente en personeellede vir die akademiese jaar 2022 te werk. Personeellede en studente kan gerus wees dat behoorlike prosesse ten opsigte van oorlegpleging en risikobestuur gevolg sal word."

Prof Du Plessis het gesê 'n “inentingsreël sal bepaal in watter mate personeellede en studente by die Universiteit kan werk en studeer na gelang van hul inentingstatus; dit sal die verwagting sowel as die kriteria vir uitsonderings uiteensit."

Die aanname voor Maandag se vergadering was dat die Raad by die laaste vergadering van die jaar, op 2 Desember 2021, 'n besluit oor die Universiteit se inentingsreël sou neem. Maar mnr George Steyn, Voorsitter van die US Raad, het verduidelik dat “aangesien dit 'n saak van lewe of dood is, het die Raad ingestem dat die Uitvoerende Komitee (UK(R)) so gou moontlik 'n besluit mag neem om enige vertragings te verhoed".

Verbintenis tot eenvormige handelsmerk herbevestig

Die Raad het ʼn aanbeveling van die Uitvoerende Komitee (UK(R)) bekragtig om die instelling se huidige wapenskild met 'n seremoniële weergawe van die nuwe korporatiewe logo te vervang.

ʼn Voorgestelde ontwerp sal by die Raadsvergadering van 2 Desember 2021 dien vir oorweging en goedkeuring ná oorlegpleging met US-strukture soos die Rektoraat, Institusionele Transformasiekomitee, Visuele Regstellingkomitee, Institusionele Forum en Studenteraad.

Die Raad het in April vanjaar ʼn nuwe logo vir die US goedgekeur. Dit was die eerste mylpaal in die ontwikkeling van ʼn nuwe visuele identiteit vir die US. Nou kom die heraldiese wapenskild aan die beurt om dit in lyn te bring met die besluit ten gunste van ʼn eenvormige handelsmerk.

Die korporatiewe logo funksioneer as die kommersiële handelsmerk van die Universiteit, en die seremoniële weergawe sal as die Universiteit se geregistreerde akkreditasiesimbool dien. Dit sal die huidige heraldiese wapenskild vervang as die hoogste merk van die US, vir gebruik vir formele seremoniële doeleindes en vir die onderskrywing van akademiese prestasies op graadsertifikate.

Beleid oor Visuele Regstelling

Die Raad het 'n Beleid oor Visuele Regstelling vir die US goedgekeur om die instelling se transformasiereis te ondersteun. Die beleid sal as rigsnoer dien vir visuele veranderinge op US-kampusse, in die besonder deur nuwe kunsinstallasies, die verwydering of kontekstualisering van histories sensitiewe kuns en ander simbole, inligtingstekens op kampus, en die naamgewing en naamsverandering van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele.

Die implementering van die beleid sal na verwagting 'n direkte invloed hê op die vernuwing van die US se institusionele kultuur, soos wat die Universiteit se Transformasieplan dit beskryf. Die Beleid oor Visuele Regstelling beklemtoon die viering van diversiteit deur kuns, simbole, argitektuur en ander vorme van uitdrukking aan te moedig wat doelbewus iets van die ryke historiese en kultuurerfenis van Stellenbosch, die Wes-Kaap, Suid-Afrika en die res van die vasteland oordra.

Die konsepbeleid het die volle institusionele oorlegplegingsroete gevolg voordat dit voor die Raad gedien het. Dit is aan alle fakulteitsrade, die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee van die Raad, die Rektoraat, die Institusionele Forum, hoof- en senior direkteure, die Institusionele Transformasiekomitee, die Visuele Regstellingskomitee en die Naamgewingskomitee voorgelê. Boonop was dit die onderwerp van 'n volledige 30 dae lange proses van openbare deelname. Die beleid sal op 1 Januarie 2022 in werking tree, en sal so spoedig moontlik in die US se digitale institusionele bewaarplek te kry wees.

Besluit oor nuwe naam vir RW Wilcocksgebou bekragtig

Die Raad het die hernoeming van die RW Wilcocksgebou na die Krotoagebou bekragtig. Die UK(R) het die naamsverandering by die vergadering van 16 Augustus 2021 goedgekeur nadat die Rektoraat in Junie 'n kortlys van voorgestelde name van die Komitee vir die Naamgewing van Geboue, Lokale en ander Fasiliteite/Persele ontvang het. Nadat die saak breedvoerig bespreek en verskeie aspekte, waaronder Krotoa se komplekse persoonlike geskiedenis, in ag geneem is, het die Rektoraat die naam aan die UK(R) voorgelê. Klik hier vir meer.

Assesseringsbeleid

Die Raad het 'n hersiene Assesseringsbeleid vir die US goedgekeur. Die beleid beoog die voorsiening van (i) 'n buigsame raamwerk wat robuuste assesserings in alle akademiese programme en modules moontlik maak, en (ii) 'n doeltreffende stelsel wat studenteleer bevorder en hul prestasies vir sertifikasie beoordeel.

Die US besef dat assessering 'n belangrike deel van leer en onderrig uitmaak. Daarom hang die Assesseringsbeleid saam met die US se Onderrig- en Leerbeleid, wat beoog “om onderrig en leer van gehalte te bevorder wat die ryke potensiaal van 'n toenemend diverse studentekorps verwelkom en graduandi oplewer wat kan bydra tot 'n komplekse samelewing".

In die lig van die oorskakeling na aanlyn metodes te midde van COVID-19, was die belang van gehaltebeheer om die integriteit van die US se kwalifikasies te verseker 'n kernbesprekingspunt by Maandag se Raadsvergadering. Die Raad het dit verwelkom dat die hersiene Assesseringsbeleid op alle assesseringsaktiwiteite oor die hele Universiteit van toepassing sal wees, hetsy kontak of aanlyn, met of sonder toesig, skriftelik of mondelings.

Die beleid is die eerste keer in 2004 goedgekeur en laas in 2012 hersien. Hierdie jongste weergawe sal op 1 Januarie 2022 in werking tree. Ál tien US-fakulteite sowel as alle ander tersaaklike institusionele strukture, waaronder die Institusionele Forum en die Senaat, is as deel van die hersiening geraadpleeg, en het insette gelewer.

Taalkomitee en -beleid

Die Taalkomitee van die Raad het verslag gedoen oor hul vergadering van 30 Augustus 2021, waar die tweede konsepweergawe van die US se hersiene Taalbeleid onder meer bespreek is.

Die US se huidige Taalbeleid, wat die Raad in 2016 goedgekeur het, word vanjaar – in die vyfde jaar van implementering, soos wat die beleid self voorskryf – hersien.

Die Taalkomitee het die voorsitter en lede van die taakgroep vir die hersiening van die Taalbeleid bedank vir hul harde werk om te sorg dat die proses vlot verloop. Die komitee het ook sekere punte vir die taakgroep se oorweging uitgelig. Dít sluit in dat meertaligheid spesiale aandag in sowel die onderrig- as diensomgewings van die US moet ontvang.

Die Raad self het ook die tweede konsepweergawe van die hersiene Taalbeleid, en die reaksieverslag oor die tweede openbare oorlegplegingsfase van 23 Julie tot 14 Augustus 2021, oorweeg. Daarbenewens het die Raad kennis geneem van die regsmening van 26 Julie 2021 oor die geldigheid van die voorgestelde hersiene Taalbeleid. Al hierdie dokumente het ook op 10 September 2021 voor die Senaat gedien, en is vryelik op die US se webtuiste beskikbaar by www.sun.ac.za/taal.

Die taakgroep sal in Oktober die finale konsepweergawe afhandel, met inagneming van die kommentaar wat gedurende die tweede openbare oorlegplegingsfase ontvang is, sowel as die terugvoer van fakulteitsrade, die Institusionele Forum, die Senaat en die Raad.

Die finale konsep van die hersiene Taalbeleid sal op 26 November 2021 voor die Senaat dien, en op 2 Desember 2021 voor die Raad. Volgens die US se Statuut bepaal die Raad die instelling se Taalbeleid – kragtens die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997, soos gewysig – met die instemming van die Senaat.

Prof Mbulungeni Madiba, Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde en ʼn deskundige oor taal en die pedagogiese waarde daarvan, is as gekoöpteerde lid van die Taalkomitee aangestel, en mnr Philip Visagé, Ondervoorsitter van die nuwe Studenteraad (vir die termyn 2021/2), as studentelid.

Klik op die volgende skakels vir verdere inligting oor vanjaar se hersiening van die Taalbeleid (2016) en taal by die US.

Halfjaarlikse finansiële verslag

Die Raad het die Uitvoerende Komitee se aanbeveling aanvaar om die halfjaarlikse finansiële verslag (soos op 30 Junie 2021) goed te keur, soos wat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) vereis. Daarbenewens, hoewel dit nie 'n DHOO-vereiste is nie, het die Uitvoerende Komitee ook die goedkeuring van die halfjaarlikse finansiële verslag oor die huisvestingsbegroting aanbeveel, en die Raad het dit ook aanvaar.

Die Raad het daarvan kennis geneem dat die Universiteit – soos die res van ons sektor – steeds aan beduidende onsekerheid blootgestel is, wat bepaalde risiko's vir die finansiële volhoubaarheid van die instelling inhou. Daar bestaan groot kommer oor die uitwerking van COVID-19 op staatskuld, en die domino-effek wat dít in die toekoms op die finansiering van hoëronderwysinstellings sal hê.

Senior aanstellings

Die Raad het kennis geneem van die aanstelling van prof Sam Tshehla as Dekaan van die Fakulteit Krygskunde vir 'n verdere termyn van vyf jaar, wat op 1 Januarie 2022 begin. Hoewel prof Tshehla se tweede termyn aan die einde van die jaar verstryk, het die Raad by die vorige vergadering in Junie reeds goedkeuring verleen dat die Universiteit die dekaan se heraanstelling oorweeg. Die betrokke fakulteitsraad het daarná ten gunste van 'n verdere termyn gestem het.

Die Raad het die proses aangevoor om 'n nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan te stel as opvolger vir prof Eugene Cloete, wie se tweede termyn van vyf jaar op 31 Julie 2022 verstryk. 'n Senior aanstellingskomitee is saamgestel, onder leiding van die Raadsvoorsitter, welke verantwoordelikheid sal oorgaan op die Ondervoorsitter van die Raad wanneer die Voorsitter sy amp aan die einde van die jaar ontruim, hoewel hy as 'n gewone Raadslid sal aanbly. Prof Aslam Fataar is in sy hoedanigheid as Raadslid in die komitee aangestel, en me Nadine Moody as sy plaasvervanger ingeval dit nodig is.

US styg op Times Higher Education-ranglys

In sy kwartaallikse bestuursverslag aan die Raad (klik hier vir die volledige dokument en hier vir ʼn skyfie-aanbieding) het Prof De Villiers uitgewys die US het sy plek op die Times Higher Education- (THE-)wêrelduniversiteitsranglys verder verbeter. Die lys vir 2022, wat vroeg in September uitgereik is, plaas die US nou in die tweede plek in SA. Verdere inligting hier.

​Bedryf en Finansies

Die Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, het die Raad van 'n uitvoerige verslag oor die afgelope jaar se werksaamhede in die verantwoordelikheidsentrum (VS) Bedryf en Finansies voorsien. Die verslag handel oor die werk van die afdelings Finansies, Fasiliteitsbestuur, Innovus en SUNKOM, Maties Sport en Informasietegnologie (IT) gedurende dié tydperk. Klik hier vir sy volledige verslag, en hier vir sy skyfies.

Strategie, Globale en Korporatiewe Sake

Die jaarverslag van die VS Strategie, Globale en Korporatiewe Sake (voorheen Strategie en Internasionalisering) het ook Maandag voor die Raad gedien. Die VS het die afgelope 12 maande belangrike inisiatiewe gelei om hul strategiese prioriteite te verwesenlik, wat terselfdertyd ook die Universiteit se visie en strategie bevorder het. Dít het ingesluit die projek vir die nuwe handelsmerk, die vestiging van 'n struktuur vir kwessiegegronde en bestuurskommunikasie, die visualisering van data vir die telkaart om tred te hou met die Universiteit se vordering met die uitvoering van die instelling se strategie, sowel as sterk groei in wêreldwye vennootskappe en ander internasionaliseringsaktiwiteite. Klik hier om die volledige verslag te lees.

Eregrade

'n Eregraad is die hoogste eerbewys wat 'n universiteit kan verleen, en die ontvangers word aan die studentegemeenskap voorgehou as persone in wie se voetspore hulle kan volg. Die Raad het 'n mosie aanvaar vir 'n ondersoek na die toekenning van eregrade deur die US met die oog daarop om die proses te verbeter en hierdie waardevolle praktyk ten volle te benut.

Raadslede mnre Hubert Brody en Ainsley Moos is in die Eregradekomitee aangestel. Hulle sal tot en met 31 Desember 2022 dien. Die Raad het ook 'n gewysigde opdrag vir dié komitee goedgekeur.

Personalia

Die Raad het me Viwe Kobokana en mnr Philip Visagé, onderskeidelik die nuwe Studenteraadsvoorsitter en -ondervoorsitter, as nuwe lede verwelkom. Hulle sal tot 19 September 2022 in die Raad dien.

Daarbenewens het die Raad afskeid geneem van adv Gesie van Deventer, wie se termyn as US Raadslid wat deur die Stellenbosse munisipale raad aangewys is op 30 November 2021 ten einde loop.

Die volgende Raadslede is met onlangse prestasies gelukgewens:

  • Mnr Wayde Davidse, wat die Nagraadse Diploma in Staatsverkrygingsbeleid en -regulering verwerf het
  • Adv Jean Meiring, wat by die kortlys ingesluit is vir die kykNET-Rapportprys vir boekresensent van die jaar, wat die beste Afrikaanse resensies van 2020 erken
  • Prof Aslam Fataar, wat onlangs die boek Evoking Transformation: Visual Redress at Stellenbosch University (African Sun Media) saam met prof Elmarie Costandius uitgegee het

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering is vir 2 Desember 2021 belê.

  • Foto hierbo: Lente in Victoriastraat, Stellenbosch. FOTO: ANNEKE MÜLLER