Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB by internasionale plantkonferensie in Spanje verteenwoordig
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 05/11/2019

Nelisa Mbambalala, ʼn student aan die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB), het onlangs na Valencia in Spanje gereis om die Wêreldkonferensie oor Plantkunde en -wetenskap by te woon. Dié geleentheid het hom toegespits op onlangse tendense en die jongste innoverings in plantkunde, en wetenskaplikes van oor die hele wêreld het daar saamgetrek om besprekings te hou oor innoverende navorsing in plant- molekulêre biologie en biochemie, plant- genetiese ingenieurswese en genomika, en plantmorfologie en -metabolisme.

Nelisa het die toekenning vir die beste plakkaat by die konferensie ontvang vir die plakkaat wat sy oor haar werk aangebied het, met die titel “Analysis of the role of transcription factors in enhancing drought tolerance in sugarcane (Saccharum spp.)" (Ontleding van die rol van transkripsiefaktore in die verhoging van droogtetoleransie in suikerriet). Dit maak deel uit van haar MSc-studie, waarvoor sy transgenetiese suikerriet ontwikkel het wat ʼn basiese leusien-rits (bZIP) transkripsiefaktor (TF) oor-uitdruk. TF's is natuurlike reguleerders van geenuitdrukking en kan optree as molekulêre skakelaars van stresreaksiegene in plante.  bZIP kan die uitdrukking van gene wat verband hou met abiotiese stresreaksie potensieel reguleer om droogteweerstand in suikerriet te verbeter.

Nelisa se reis is moontlik gemaak deur die Nasionale Navorsingstigting se gesamentlike Suid-Afrika-Indië-wetenskap-en-tegnologie-navorsingsamewerkingsbefondsing wat aan haar projekstudieleier, dr Christell van der Vyver, toegeken is.

Dit was die eerste keer dat Nelisa vlieg, en sy vertel dat sy met groot opgewondenheid én effense benoudheid aan boord gegaan het, maar sy het elke oomblik van die vlug geniet. Gelukkig kon sy tussen haar konferensieverpligtinge tyd afknyp om ʼn bietjie te ontspan – sy het ʼn paar ikoniese besienswaardighede besoek, soos die Valencia-katedraal wat uit ongeveer 1238 dateer en gebou is op die terrein van ʼn toentertydse Wes-Gotiese katedraal wat tydens die Moorse bewind as ʼn moskee gebruik is, en die spoggerige Plaza del Ayuntamiento, die belangrikste plein in Valencia. Die Stad van Kuns en Wetenskap met sy L'Oceanogràfic, ʼn buitelug- seekundige park, en die argitek Calatrava se meesterstuk, die Plaza de Toros, of L'Ágora – ʼn reusagtige veeldoelige onderdakruimte – was absolute hoogtepunte.