Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mandela-dag beklemtoon Tygermaties se vrygewigheid
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 20/07/2018

Die mededeelsame gees waarvoor Tygermaties bekend is, is weereens op die voorgrond gebring deur die ruimhartige skenking van goedere, tyd en energie deur personeel en studente hierdie Mandela-dag.

Ter viering van Madiba se 100ste verjaardag op 18 Julie was lede van die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus betrokke by ʼn aantal liefdadigheidsaktiwiteite tydens die week van 17 tot 25 Julie. Die projekte was gemik daarop om die gemeenskap te help en op te hef.

“Die viering van Madiba se nalatenskap maak deel uit van die US se Eeufeesvieringe vanjaar," sê dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die Universiteit Stellenbosch.

“Dit is belangrik dat ons onsself gedurig daaraan herinner om terug te gee. Ons moet dit doelbewus doen. Madiba se nalatenskap laat ons toe om dit te doen, maar dit lei ons ook om dit met ootmoed te doen," sê Van Rooi.

Op Dinsdag, 17 Julie het studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) besoek afgelê by die Sarepta-ouetehuis in Kuilsrivier om inwoners te bederf met skoonheidsbehandelings, en hulle getrakteer met versnaperings en ʼn optrede deur die Tygerberg-gospelkool. Op dieselfde dag het vrywilligers ook hoë-risiko areas in die gemeenskap rondom die Tygerberg-kampus opgeruim en rommel verwyder.

Van vroegoggend op 18 Julie het studente en personeel byeengekom by die studentesentrum op kampus om toebroodjies te maak as deel van die universiteit se 'Toasties for Tummies'-inisiatief. In totaal het hulle 1 500 toebroodjies gemaak wat later die dag aan buitepasiënte by Tygerberg-hospitaal uitgedeel is.

ʼn 5km-pretdraf/-loop op die kampus is die middag gehou om items in te samel vir die Tygerberg-spensprojek, wat voedselonsekerheid op kampus teenwerk. Skenkings van kos en toiletware is op die rugbyveld uitgepak om die nommer “100" uit te beeld om beide Madiba se 100ste verjaardag, asook die universiteit se Eeufees, te herdenk. Daar word deurlopend kos en ander items op kampus ingesamel vir behoeftige studente.

Op Donderdag 19 Julie het studente en personeel byeengekom vir ʼn dialoog-sessie om die verskillende perspektiewe van sosiale samehorigheid te bespreek en om na te dink oor die rol wat mense kan speel as individue, en as ʼn gemeenskap, om dit by die fakulteit en verder te bevorder. Die inisiatief, genaamd 'Tafels van Tien', het vyf tafels van tien mense elk byeengebring vir gesprekvoering.

Die FGGW se inisiatiewe vir Mandela-dag het ook mense in Avianpark in Worcester geraak, waar die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid, in samewerking met die rekeningkundefirma PWC, 80 komberse en kledingstukke aan mense van hierdie onderbediende gemeenskap geskenk het. Die Sentrum onderneem ook ʼn kosinsamelingsprojek om die Masibonelelane-sopkombuis te ondersteun wat vier-maal ʼn week maaltye verskaf aan kinders tussen die ouderdomme van 3 en 14 jaar, asook mense wat lewe met MIV/Vigs.

Op 25 Julie sal studente van die gesondheidswetenskappe deelneem aan ʼn inisiatief om gesondheid te bevorder by leerders van die Kylemore Hoërskool in Stellenbosch, om hulle in te lig oor seksueel-oordraagbare siektes, MIV/Vigs, en die gebruik van voorbehoedmiddele.