Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jy hoef nie Einstein te wees om met neutrino’s te werk nie
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 13/02/2018

​As subatomiese partikels, kernwapens en wetenskapfiksieflieks soos Star Trek jou interesseer, is 'n loopbaan in kernfisika dalk net die ding vir jou. 

Dít is wat BSc-alumnus Milton van Rooy gemotiveer het om eksperimentele kernfisika aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. Vandag is hy 'n radioaktiwiteitswetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Metrologie.

Hoekom het jy hierdie beroep gekies?

Ek het op hoërskool in kernfisika begin belangstel nadat ek bewus geword het van subatomiese partikels en kernwapens. Wetenskapfiksieflieks soos Star Trek het my ook gefassineer. Om met radioaktiewe materiaal te werk is opwindend ‒ dis soos om deel van 'n wetenskapfiksiefliek te wees.

Watter opleiding het jy?

Ek het my BSc-graad in kernfisika by die US gedoen, en daarna voortgegaan met 'n BScHons en 'n MSc-graad in dieselfde rigting. Ek het uiteindelik 'n PhD in eksperimentele kernfisika voltooi. Terwyl ek met my PhD besig was, het ek by die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Metrologie begin werk waar ek gespesialiseerde opleiding wat met my beroep verband hou, gekry het.

Wat behels jou werk alles?

Metrologie is die wetenskap van meting, waar ons daarna streef om akkurate, hoëpresisie metings te doen met 'n baie klein onsekerheidskomponent. In my geval gebruik ek verskeie partikeldetektors en elektronika, tesame met data-analise om radioaktiwiteitsvlakke te bepaal in goed soos steekproefmonsters uit die omgewing, verbruikersgoedere en kerngeneeskunde. Die werk het baie verantwoordelikhed, maar my hooffokus is navorsing in metingstegnieke en die ontwikkeling en handhawing van standaarde ten opsigte van radioaktiwiteit. Ek het egter ook die geleentheid om by ander projekte betrokke te raak. Ons is ook besig om vas te stel wat die uitwerking is van antineutrino's (wat deur die Koeberg kernreaktors vrygestel word) op die vervaltempo van radionukliedes.

Watter aspek van jou werk geniet jy die meeste?

Ek leer aanhoudend! Elke dag bring nuwe uitdagings. Ons demonstreer ons metingsvaardighede deur internasionaal teen ander metrologie-institute deel te neem aan vergelykings van radioaktiwiteitsmetings. Dit kan beskou word as 'n tipe internasionale eksamen. Dis baie bevredigend om 'n baie akkurate meting te doen met 'n baie klein onsekerheidskomponent wat dan boonop goed vergelyk met dié van die internasionale gemeenskap. Ek geniet dit ook om oorsee te reis om ons werk en navosing ten toon te stel en vergaderings by te woon.

Beskryf 'n gewone dag?

'n Gewone werksdag bestaan uit 'n kombinasie van laboratoriumwerk (bv. Die meting van radioaktiwiteitsvlakke, data-analise, administratiewe take, die skryf van wetenskapsartikels, die voorbereiding van konferensieaanbiedings en die ontwikkeling of verbetering van metingstegnieke en elektronika.

Die tipe persoonlikheid wat hierdie tipe loopbaan sal geniet?

Wanneer jy in hierdie veld begin, het jy het 'n sekere vlak van ondervinding van detektors, elektronika en data-analise nodig, wat jy in jou universiteitsopleiding kan kry. My eie opleiding is nog nie klaar nie. Deur konferensies en opleidingkursusse by te woon, ontwikkel jy voortdurend vaardighede en leer jy oor nuwe elektronika en tegnieke wat jy weer in jou laboratorium kan uittoets. Alhoewel ek heeltyd ondervinding opdoen, is daar steeds baie goed wat ek nie weet nie, wat ek moet navors en self moet probeer. Deur hierdie proses lei ek myself verder op en word ek meer ervare.

Ek sou sê die vermoë om onder druk te werk, 'n positiewe en konstruktiewe ingesteldheid, passie en logika is van die belangrikse eienskappe waaroor jy moet beskik.

Watter uitdagings moes jy oorkom?

Daar is honderde radionukliedes wat elk unieke uitdagings stel gedurende die meting van radioaktiwiteit, maar my grootste uitdaging was die voltooiing en verdediging van my PhD-werk!

Advies vir graad 11- en 12-leerders wat so 'n loopbaan oorweeg?

As jy van uitdagings, probleemoplossing en wetenskap hou en dit jou fassineer ‒ selfs al is jy nie tans besonder goed daarin nie ‒ hou daarby. Jou intellek sal op universiteit al hoe meer ontwikkel soos wat jy begin sien hoe dinge inmekaarsteek en sin maak. Werk net hard en dink logies. Jy hoef regtig nie Einstein te wees nie. Omring jouself met positiewe mense. As jy reeds in die beroep staan, moet jy jouself voortdurend oplei deur konferensies en opleidingkursusses by te woon, wetenskapsartikels te lees en nuwe dinge uit te probeer. 'n PhD-graad is belangrik om die korporatiewe leer te klim, maar jy het ten minste 'n MSc in eksperimentele kernfisika met al die gepaardgaande dissiplines betrokke, soos bv. wiskunde, chemie, statistiek en programmering nodig om suksesvol in hierdie beroep te wees.​​