Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Taalbeleid bevorder inklusiewe meertaligheid aan die US
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 21/09/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Afrikaans nie die rug toegekeer nie, en bly verbind tot die gebruik van dié taal tesame met Engels as onderrigtale in die konteks van inklusiwiteit en meertaligheid.

Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, Dinsdagaand (19 September) by ʼn gesprek met die onderwysgemeenskap in die Paarl gesê. Die geleentheid het by Klein Nederburg Sekondêr plaasgevind, en is deur skole in die omgewing asook die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) bygewoon. Die onderwerp was “Transformasie en taal aan die US".

Prof De Villiers het uitgewys daar is baie positiewe ontwikkelinge by die US, maar dit word dikwels oorskadu deur negatiewe verwysings in die media. So byvoorbeeld maak die US opgang in wêreldranglyste en handhaaf die Universiteit van die hoogste studentesukseskoerse en navorsingsuitsette in die land. Tog word die US in sommige kringe verkeerdelik uitgebeeld as ʼn eentalige plek – nie meer Afrikaans nie maar nou volledig Engels.

“Laat ek dit hard en duidelik sê – dit is nie waar nie," het prof De Villiers gesê.

Ingevolge die Universiteit se nuwe Taalbeleid, wat in Junie 2016 met instemming van die Senaat deur die Raad goedgekeur en vanjaar in werking gestel is, word Engels én Afrikaans as onderrigtale gebruik – eersgenoemde sodat niemand uitgesluit word nie, en laasgenoemde omdat daar steeds ʼn groot vraag na onderrig in dié taal is.

Daar vind geleidelik ʼn verskuiwing in demografie en taalverspreiding onder US-studente plaas. In 2015 het die Universiteit die eerste keer meer Engelstalige studente (44%) as Afrikaanstaliges (42%) gehad.

Vroeer vanjaar het dit uit ʼn meningsopname onder voorgraadse studente geblyk dat 61% van die respondente kennisoordrag in Engels verkies. Van hulle is glad nie Afrikaans magtig nie. Dit laat egter steeds 39% van voorgraadse studente wat onderrig hetsy in Afrikaans of in beide Afrikaans en Engels verkies, wat neerkom op byna 8 000 studente, het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor vir Leer en Onderrig aan die US, uitgewys.

Hy het verduidelik dat die nuwe Taalbeleid voorsiening maak vir drie onderrigtaalmodusse – parallelmedium, dubbelmedium en enkelmedium – en beklemtoon dat Afrikaans in al drie aanwesig is.

“Ons het groot waardering vir die waarde van taal, maar die Universiteit se fokus is pedagogies. Ons is nie ʼn taal-en-kultuurorganisasie nie. Taal is vir die Universiteit ʼn leer-en-onderrigmedium," het prof Schoonwinkel gesê.

“Die klem het verskuif van taalregte na taalgeregtigheid. Die Grondwet gee almal die reg op onderrig in die landstaal van hul keuse, sover moontlik, maar vereis ook regstelling van die soort uitsluiting wat in die verlede weens onderrigtaal plaasgevind het. Die Taalbeleid volg dus ʼn inklusiewe benadering van meertaligheid."

Lede van die onderwysgemeenskap het die toeligtingsessie verwelkom.

“Enige redelike mens kan insien Afrikaans word nie afgeskaf nie," het mnr Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust oor die US se Taalbeleid gesê. “Dit gaan oor akkommodering van almal in die konteks van ons gedeelde Suid-Afrikanerskap."

“Dit maak baie sin. En ek is veral beïndruk met die moniteringsaspek van die beleid – dat daar toesig gehou word oor implementering en voortdurend aanpassings plaasvind om te verseker dit word korrek toegepas," het dr Fernholdt Galant, WKOD-kringbestuurder van Wellington, gesê.

ONDERSKRIF: Van links, mnr Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van die SA Onderwysontwikkelingstrust, mev Mary Banda, skoolhoof van Klein Nederburg Sekondêr, prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, dr Fernholdt Galant en mev Linda Marais, kringbestuurders van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement in onderskeidelik Wellington en Paarl, en prof Michael le Cordeur, voorsitter van die Departement Kurrikulumstudies in die US se Fakulteit Opvoedkunde.