Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Met ’n BSc-kwalifikasie kan jy nie verkeerd gaan nie,’ sê BSc alumnus
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 15/03/2016

Marko Victor se eerste werk as 'n mikrobioloog was dié van kwaliteitsbeheerbestuurder by 'n waterbotteleringsmaatskappy in Franschhoek terwyl hy nog besig was om sy MSc by die Universiteit Stellenbosch (US) te voltooi.

Vandag werk hy as mikrobioloog in die kwaliteitbeheerdepartement van DGB (Edms.) Bpk., een van Suid-Afrika se grootste produsente en verspreiders van wyn en spiritualieë. Hy het ingestem om 'n paar vrae oor sy studies en loopbaan te beantwoord:

Waarom en wanneer het jy besluit om vir 'n BSc-graad in te skryf?

Ek het besluit om BSc te studeer tydens my finale jaar op hoërskool. My belangstelling was by verre meer in die natuurwetenskappe as in enige ander studieveld. Ek het ook geweet dat die groter vakgebied van natuurwetenskappe my genoeg ruimte sou bied om ander opsies te oorweeg soos wat my belangstellings verander en meer spesifiek word.

Wat is jou kwalifikasies tot dusver?

Ek het my MSc in mikrobiologie in Maart 2011 voltooi. Ek wil nou verder studeer in besigheidsbestuur omdat ek glo dat dit my vaardighede sal verbeter vir die loopbaanpad waarop ek myself nou bevind.

Wat was jou eerste werk en hoe het jy dit gekry?

Gedurende my MSc-studie het ek op 'n deeltydse basis as mikrobioloog in die kwaliteitsbeheerdepartement van 'n waterbotteleringsmaatskappy in Franschhoek gewerk. Die maatskappy het die Departement Mikrobiologie genader vir moontlike kandidate. Ek het aansoek gedoen en die res is geskiedenis.

Wat doen jy tans? Beskryf 'n tipiese werksdag.

Ek werk as die mikrobioloog in die kwaliteitsbeheerdepartement van DGB (Edms.) Bpk., een van Suid-Afrika se grootste produsente en verspreiders van wyn en spiritualieë. 'n Tipiese dag is besig en ek moet met werknemers van alle sektore van die maatskappy skakel.

Wat is opwindend van jou werk? Wat is uitdagend?

Enige loopbaan verg 'n mate van herhalende gedrag. Ek is egter gelukkig om in 'n posisie te wees waar geen twee dae dieselfde is nie. Die mees uitdagende aspek van my werk is om op datum te bly met kwaliteitverbeterings in die FMCG-industrie (Fast-moving Consumer Goods).

Jou advies aan leerders wat 'n loopbaan in die natuurwetenskappe oorweeg?

Doen dit! Jy sal nooit terugkyk nie. Dit mag soms moeilik wees, maar uiteindelik is dit die moeite werd. 'n Kwalifikasie in die natuurwetenskappe is nooit 'n vermorsing van tyd nie. Selfs al volg jy uiteindelik nie 'n loopbaan in die natuurwetenskappe nie, sal jy steeds die kennis kan toepas in 'n ander werksituasie.

Advies vir studente wat die arbeidsmark moet betree?

Onthou, jy is besig om aan 'n loopbaan te bou. Indien jy jou vroeg reeds jou "ideale" werk kry, is dit wonderlik. Maar dis nie die einde van die wêreld as jy langer moet wag nie. Die eerste stap is net om in die arbeidsmark te kom en vandaar bou jy daagliks ervaring op.. Mettertyd kan jy spesialiseer en selfs jou eie onderneming begin as jy so 'n geleentheid sou raaksien.

Wat sou jy anders gedoen het tydens jou jare op universiteit?

Ek sou aan meer kampusaktiwiteite deelgeneem het. En miskien hier en daar 'n kortkursus gedoen het.

Wil jy nog enigiets byvoeg?

Ek wil studente daaraan herinner dat 'n mens altyd balans in die lewe moet probeer vind. Werk hard, maar moenie vergeet om ook pret te hê nie.

Klik hier vir meer artikels oor waar ons BSc-alumni hulle nou bevind.