Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SU meestersgegradueerde help om gespesialiseerde oefenprogramme te ontwikkel vir kinders wat aan artritis ly
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 27/03/2024

Meer as 150 gesinne is positief geraak deur die Tygerbergse biokinetiese pediatriese rumatologiekliniek wat Su-ané Zwiegelaar – wat vandeesweek haar meestersgraad in Sportwetenskap (cum laude) by die Universiteit Stellenbosch se Maart-gradeweek ontvang het – gehelp het om op die been te bring. Na wat verneem word, is dit die eerste in sy soort in 'n tersiêre hospitaal wat kinders wat aan rumatologiese toestande ly, versorg.

Die kliniek is in 2021 gestig toe prof Karen Welman as die destydse koördineerder van gemeenskapsdiens binne die Afdeling Bewegingskunde en Oefeningterapie, vir Zwiegelaar genooi het om aan die administratiewe en kliniese standaard bedryfsprosedures te werk. 'n Jaar later het sy hierdie prosedures as die kliniek se hoofbiokinetikus geïmplementeer. “Die kliniek is daaraan toegewy om die deelname en persepsie van kinders wat met chroniese en neuromuskuloskeletale toestande gediagnoseer is, te verbeter deur die voordele van fisieke aktiwiteit vir hulle te leer," verduidelik Zwiegelaar. Die kliniek lewer ook 'n diens aan gemeenskappe wat andersins nie toegang tot oefening en medisyne sou hê nie.

Die idee van oefening as medisyne is wat Zwiegelaar, wat tans in die Strand bly, na biokinetika aangetrek het. “Die kombinasie van begrip vir die wetenskap om terapeutiese oefening vir verskeie mediese toestande voor te skryf en om met 'n verskeidenheid mense saam te werk om 'n gesonde lewe te bewerkstellig is basies waarom ek 'n biokinetikus is."

Elke derde van Zwiegelaar se lewe het op 'n ander plek afgespeel. Sy is op Trichardt, Mpumalanga gebore en het tot op nege in Secunda gebly. Daarna het haar gesin na Al-Jubail in Saoedi-Arabië verhuis. Sy het tien jaar daar gebly voordat sy kort voor haar negentiende verjaardag na Suid-Afrika teruggetrek het om aan die SU te studeer. “My grootwordjare in Saoedi-Arabië was een van die beste geskenke wat my ouers vir my gegee het. Ek is aan 'n gemeenskap met verskeie kulture, tale en godsdienste blootgestel." Tydens haar verblyf in die Midde-Ooste het sy 'n liefde vir kos en deelname aan sport wat nie dikwels in Suid-Afrika beoefen word nie, ontwikkel. Sy sê die waardevolste les wat sy oorsee geleer het, was egter die aanvaarding van haar maats se verskille en om hierdie verskille te omarm om sodoende 'n sterker gemeenskap te word.

Zwiegelaar pas hierdie les op elke aspek van haar werk as 'n praktiserende biokinetikus toe. “Oefening as behandeling verg dat 'n biokinetikus nou saamwerk met 'n pasiënt en 'n betekenisvolle verhouding gegrond op vertroue, empatie en samewerking bou." Haar meestersnavorsing het gekonsentreer op die ontwikkeling van 'n fisiekeprestasie-toetsbattery vir kinders wat met jeugdige idiopatiese artritis gediagnoseer is. Dié toestand kom die meeste in rumatologie by die kliniek voor. Sy verduidelik dat hoewel die kliniek beoog het om gespesialiseerde terapeutiese oefenprogramme te verskaf, die beskikbare fisieke assesserings definisie en duidelikheid ontbreek het. Zwiegelaar se MSc-navorsing het die 'Juvenile Arthritis Kinetic Health Index' geldig bevind en werk is aan die gang om die betroubaarheid daarvan te bevestig.

Die kliniek het baie suksesse behaal sedert dit in 2021 aangepak is. Binne die bestek van 'n jaar is die ASAIPA Nasionale Mediese Toekenning op die gebied van Gemeenskapsdiens in Biokinetika aan die kliniek toegeken en dit het meer as 150 gesinne gehelp met toegang tot oefening vir hulle kinders wat met 'n chroniese en/of neuromuskuloskeletale toestand gediagnoseer is. “Ons het gesien hoe kinders beter mobiliteit, kardiovaskulêre funksie en deelname aan daaglikse aktiwiteite ervaar." Geassosieerde voordele vir behandelde kinders sluit in gesonde gewig, verlaagde risiko vir die ontwikkeling van chroniese leefstyltoestande en pynverligting. “Funksioneel word hierdie voordele wat deur die gemeenskap ervaar word, omgesit in 'n groter prentjie waar kinder pynloos kan loop en by hulle skole en binne hulle gemeenskappe aan sport kan deelneem."

Wanneer Zwiegelaar nie studeer nie, geniet sy draf of kragoefening. “Ek geniet dit ook om gehaltetyd saam met my gesin of vriende deur te bring of om met kos te eksperimenteer deur 'n ou familieresep nuwe geur met speserye te gee of 'n nuwe resep te probeer." Sy het vir 'n voordoktoraatjaar geregistreer om haar PhD in Biokinetika en Immunologie in te wy. Zwiegelaar sal voortgaan om as biokinetikus te praktiseer en haar gemeenskap gedurende haar studies te dien. 

Foto: Stefan Els