Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verklaring - Konvokasie Verkiesingsproses
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 22/03/2024

Die Universiteit Stellenbosch (US) bevestig dat 'n klagte van nie-nakoming van die Prosedure vir die nominasie en verkiesing van die Konvokasie se Uitvoerende Komitee (die Prosedure), met spesifieke verwysing na die gebruik van die US-handelsmerk, op 20 Maart 2024 by die Kantoor van die Registrateur aangemeld is. Die klagte is oorweeg in  ooreenstemming met behoorlike proses  en in konsultasie met die relevante interne belanghebbendes, insluited die US se Handelsmerkkantoor en die US se Handelsmerkidentiteitskantoor.

 

Die klagte het aangedui dat vier kandidate die volgende bepaling oortree het (spesifiek paragraaf 4.11):

Genomineerde lede mag hul eie sosialemediaplatforms gebruik vir veldtogte, sodra die nominasie gepubliseer is en tydens die verkiesing, totdat die verkiesing afgehandel is. Kandidate wat die US se logo, handelsmerk, databasis of elektroniese poslys gebruik, sal gediskwalifiseer word as ʼn kandidaat.

In 'n skrywe aan lede van die Konvokasie het dr Ronel Retief, Registrateur, gesê dit is duidelik uit die gerapporteerde veltogmateriaal dat die plakkaatontwerp op die US se handelsmerk gebaseer is. “Daar is gevind dat die ontwerpelemente en oorkoepelende estetika die veldtogmateriaal nou met die US se handelsmerk assosieer. Die gebruik van die Universiteit Stellenbosch se naam tesame met die maroen/goud kleurkombinasie en ontwerp-elemente, word as deel van die US-handelsmerk beskou."

Die Prosedure wat duidelik aan kandidate gekommunikeer is, verbied spesifiek die gebruik van die US-handelsmerk in veldtogte, en in korrespondensie is 'n vorige geval gemeld waarin 'n kandidaat op grond van hierdie klousule gediskwalifiseer is.  

"Dit is belangrik om daarop te let dat in die geval van 'n oortreding van hierdie aard en by kennisgewing aan die kantoor van die Registrateur, het sodanige kantoor geen ander alternatief as om die reëls toe te pas en die kandidaat(e) te diskwalifiseer om verder aan die verkiesing deel te neem nie."

"Hoewel dr. Theo de Jager ook op die veldtogplakkaat verskyn, word hy nie deur hierdie oortreding geraak nie, aangesien hy op daardie tydstip reeds tot behoorlik verkose president verklaar is. Dr De Jager is op Maandag, 18 Maart 2024 onbestrede verkose President verklaar nadat daar slegs een geldige nominasie ontvang is. Dr De Jager het op  19 Maart 2024 'n termyn van drie jaar as president begin."

“Omdat mnr Smit, mnr Pieters, me De Taillefer en mnr De Villiers almal gediskwalifiseer is, word die oorblywende kandidate outomaties verkies tot die posisies waarvoor hulle genomineer is, aangesien die aantal kandidate nou gelyk is aan die aantal vakatures."

Die volgende kandidate is dus op 21 Maart 2024 as verkose verklaar en hul termyn sal 'n aanvang neem: op 22 Maart 2024  

a) Visepresident – Mnr Lwazi Phakade

b) Sekretaris – Me Nomzamo Ntombela

c) Addisionele lede – Me Taryn Cohn (Moos) en mnr Simphiwe Malaza

ʼn Lid van die Konvokasie se Uitvoerende Komitee beklee die amp vir drie jaar en mag weer verkies word, maar mag nie sy/haar amp vir meer as drie opeenvolgende termyne beklee nie.

Die verkiesingsportaal word nou gesluit en alle stemme wat uitgebring is, sal uitgewis word aangesien dit nie meer 'n bestrede verkiesing is nie.