Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SIAN 2024-deelnemers voer druk gesprek oor internasionalisering in die hoër onderwys
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 22/03/2024

​Die fyner punte van internasionalisering in die hoër onderwys is druk bespreek by vanjaar se byeenkoms van die Stellenbosch Internasionale Akademiese Netwerke (SIAN). Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal het die geleentheid van 13 tot 15 Maart aangebied.

SIAN is 'n jaarlikse saamtrek van die US se internasionale vennootuniversiteite. Meer as 100 afgevaardigdes van 70 universiteitsvennote in 27 lande het vanjaar deelgeneem.

“Sedert dit in 2003 tot stand gebring is, het SIAN ontwikkel tot 'n impakryke netwerk wat toegewyd werk om ons vennote bymekaar te bring om oor ons ervarings te gesels, vennootskappe te bou en persoonlike bande te smee," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, in sy verwelkomingsrede gesê. “Ek sê my heelhartige steun toe aan alle pogings om potensiaal vir samewerking te verken, want dít is die enigste manier hoe ons die komplekse kwessies van ons hedendaagse samelewing die hoof sal kan bied." En met dié dat Afrika se bevolking na verwagting teen 2050 sal verdubbel, is daar enorme geleenthede vir hoëronderwysgroei en -samewerking op die vasteland, het hy bygevoeg.

Vier hoekstene vir suksesvolle Afrikasamewerking

Hoewel die US se impak wêreldwyd strek, bly die instelling stewig veranker in Afrika. Daarom is die eerste sessie van die byeenkoms gewy aan 'n gesprek oor tendense in internasionale hoër onderwys op die vasteland, met sprekers van sowel die US as ander Afrika-instellings.

Dr Nico Elema, direkteur van US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika, het in sy praatjie vier hoekstene vir suksesvolle samewerking tussen Afrikavennote uitgewys. “Die eerste is konteks. Afrika is nie net een land nie; die vasteland is massief. Ondersteun plaaslike en streeksinisiatiewe as deel van groter Afrikaprogramme om die Afrika-agenda te bevorder," het dr Elema gesê. “Die tweede is gelykwaardige vennootskappe wat plaaslike navorsing en vermoëbou ondersteun. In Afrikaverband beteken 'n gelykwaardige vennootskap 100/100. Slegs dan sal ons gemeenskaplike terrein kan vind om vorentoe te beweeg."

Hy het voortgegaan: “Die derde hoeksteen is institusionele toewyding om 'n instaatstellende omgewing te skep sodat die wetenskap-akademies, universiteite en navorsingsinstellings van Afrika kan floreer. In dié opsig moet ons 'n paar moeilike vrae beantwoord: Hoe ontwikkeld is ons nasionale wetenskapstelsels? Hoe outonoom is ons hoëronderwysinstellings werklik? Maak ons uitsluitlik op eksterne finansiering van die Globale Noorde staat? Die vierde en laaste hoeksteen is persoonlike toewyding. Bly Afro-optimiste en skakel met ander kollegas op die vasteland. Ondersteun Afrika se gevestigde en ontluikende navorsers, mobiliteitsprogramme, dinkskrums en vermoëbouprojekte."

Nuwe Afrikagebaseerde skoolverlaterskwalifikasies ontsluit hoëronderwysgeleenthede

SIAN-afgevaardigdes het ook van die US se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies (SU-UIC) gehoor, wat onder meer as gehalteversekeraar optree vir eksterne skoolverlaterskwalifikasies wat in en vir Afrika geadministreer word.

“Die oorgrensbeweging van mense word al hoe meer divers en kompleks en het 'n toenemende invloed op onderwysgeleenthede en -stelsels," het prof Sarah Howie, direkteur van die Sentrum vir Akademieskap en  in Afrika, gesê. “Internasionale migrante het van 1960 tot 2015 van 93 miljoen tot 241 miljoen toegeneem. Immigrasiesyfers in lande so divers soos Costa Rica, die Ivoorkus, Maleisië en Suid-Afrika is twee tot drie keer hoër as die internasionale gemiddelde." Dít is waarom die SU-UIC met die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en met die Eksamenraad van Lesotho saamwerk om Afrikagegronde skoolverlaterskwalifikasies van 'n hoë gehalte te verseker wat toegang bied tot hoër onderwys by die voorste instellings op die vasteland en verder.

In samewerking met die IEB tree die Eenheid op as gehalteversekeraar van die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISS), wat vergelykbaar is met die Verenigde Koninkryk se “AS-levels" en die Australiese Senior Sekondêre Sertifikaat. Universiteite Suid-Afrika (USAf) het die ISS ook nasionaal beoordeel en bevind dat dit gelykstaan met Suid-Afrika se Nasionale Senior Sertifikaat. Studente wat die kwalifikasie met lof slaag, kan dus by instellings wêreldwyd aansoek doen. Die ISS word tans in Namibië, Mosambiek en Eswatini aangebied.

Die vennootskap met die Eksamenraad van Lesotho handel weer oor die gehalteversekering van daardie land se nuwe Gevorderde Sekondêre Sertifikaat. Voorbereidings om die kwalifikasie te implementeer is aan die gang en sluit in die opleiding van gehalteversekeringsbeamptes en die beoordeling van leerplanne, voorbeeldvraestelle en prosesse.

“By die SU-UIC konsentreer ons meer op gehalteverbetering as op blote voldoening aan standaarde," het Mia Andersen, koördineerder van die Eenheid, gesê. “Ons beweeg stelselmatig aan van 'n voldoeningskultuur namate ons gesamentlik ons weg deur hierdie komplekse en dinamiese wêreld van geïnternasionaliseerde onderwys baan."

Internasionalisering by Afrikavennote

 Afgevaardigdes van ander Afrika-instellings het ook oor hulle internasionaliseringstrategieë gesels. Volgens Meryem El Alaoui van Université Internationale de Rabat (UIR) in Marokko strook hulle internasionaliseringstrategie met die doelwitte van die Koninkryk van Marokko, Agenda 2030 vir volhoubare ontwikkeling, sowel as koning Mohamed VI se plan om bande met ander Afrikalande te versterk. “As deel van ons geïntegreerde strategie, moedig ons dus studente en personeel aan om aan mobiliteitsprogramme deel te neem. Ons het ook gesamentlike grade met ons vennote ontwikkel, sowel as Engelsgerigte kursusse. Boonop probeer werf ons internasionale studente – tans kom 10% van ons internasionale studente van sub-Sahara-Afrika – en ons bied verskillende aktiwiteite aan om tuis-internasionalisering te bevorder."

In sy bydrae oor die Universiteit van Namibië se internasionaliseringstrategie het dr Romanus Shivoro gesê: “Ons strategie word onderstut deur die pilare van wêreldwye vennootskappe en netwerke, 'n diverse internasionale studente- en personeelkorps, internasionale navorsingsaktiwiteite, en ons werk as 'n responsiewe bedryfsvennoot. Ons het kernvennootskappe met lande in Afrika, Asië, Europa én die Amerikas tot stand gebring. Internasionalisering is vir ons baie belangrik, en ons hoop ons kan deur hierdie SIAN-byeenkoms selfs verdere samewerking ondersoek."


Verantwoordelike internasionalisering onder die vergrootglas

In 'n sessie oor verantwoordelike internasionalisering het Robert Kotzé, senior direkteur van US Internasionaal, benadruk hoe belangrik dit is om jou instelling se konteks te ken, te verstaan en daarmee te werk. “By die US verstaan ons byvoorbeeld dat ons instelling in Afrika veranker is, met 'n wêreldwye reikwydte. Dít is die konteks wat bepaal hoe ons oor internasionalisering dink en hoe ons dit beoefen," het hy gesê.

“Indien jou instelling na verantwoordelike internasionalisering streef, behoort julle internasionaliseringsbeleid, -strategie en -beskouings ook gegrond te wees op die waardes wat julle, as instelling, onderskryf," het hy bygevoeg. Hy het weer die US as voorbeeld gebruik, en verduidelik dat internasionalisering by die US gegrond is op 'n doelbewuste verbintenis aan die hand van die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024. “Ons doelwit is omvattende internasionalisering, wat 'n internasionale, interkulturele en globale element by alle aspekte van die Universiteit insluit, op grond van die US se waardes van uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid. Ons wil ook uitnemende navorsing en innovasie, leer en onderrig tot diens van die samelewing bevorder. Op dié manier hoop ons om 'n internasionaal erkende navorsingsintensiewe instelling te wees met ons wortels in Afrika en 'n wêreldwye impak."

Daarbenewens vereis verantwoordelike internasionalisering dat instellings nie plaaslike en nasionale vereistes uit die oog sal verloor nie, het Kotzé ten slotte gesê. “In Suid-Afrika en by die US het ons 'n verantwoordelikheid om ongelykheid uit die weg te ruim en ons diensbillikheidsprofiel te verbeter. Daarom mag ons werwing van internasionale studente en personeellede nie ons diensbillikheidspogings in die wiele ry nie. Ons moet ook nog verder daaraan werk om sosio-ekonomies benadeelde studente geleenthede te bied om aan mobiliteit deel te neem. Tans kom minder as 5% van studente wat aan uitwaartse mobiliteit deelneem uit benadeelde omstandighede."​


Elkeen 'n internasionaliseringspraktisyn – geleenthede vir steunpersoneel

Internasionalisering strek egter ook veel verder as akademiese skakeling. Elke universiteitsrolspeler, waaronder diegene in die professionele administratiewe steundienste- (PASD-)omgewing, kan en moet 'n internasionaliseringspraktisyn wees. Om dít verder te verken, het drie vennootuniversiteite gesels oor hoe hulle saamgewerk het om mobiliteitsgeleenthede vir hulle PASD-personeel te fasiliteer.

Volgens Lidia du Plessis, programbestuurder van Personeelinternasionalisering by US Internasionaal, was mobiliteitsprogramme oorwegend vir akademiese personeel bedoel toe die US in 2018 sy Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024 bekend gestel het. “As US Internasionaal, moes ons nuut dink oor personeelmobiliteit. Ek het een van ons vennote, die Universiteit van Lund in Swede, genader, en ons het saam met die gemengde internasionale program vir PASD-personeel vorendag gekom," het sy verduidelik. “Die program, wat oor ses maande aangebied is, was 'n kombinasie van aanlyn sessies en kontakmobiliteitsweke by sowel Lund as die US." Die unieke program het deelnemers in staat gestel om interkulturele vaardighede te bou, insluiting te bevorder, internasionalisering op uiteenlopende universiteitsterreine te bespreek, bestepraktykvoorbeelde uit te ruil, en waar te neem hoe hulle oorsese eweknieë hulle werk doen.

Daarna het die geleentheid ontstaan vir 'n driesydige personeelontwikkelingsprogram toe Northwestern-universiteit in die Verenigde State kragte saamgesnoer het met die universiteite van Hamburg en Stellenbosch. Die program, wat sedert 2022 aan die gang is, eindig vanjaar. Elke universiteit kry 'n geleentheid om as gasheer op te tree en 'n tema te kies wat hulle sterkpunte aanvul. Elke vennoot kies vyf deelnemers. Die US het eerste kans gekry en het in 2022 'n geleentheid met die tema “Inklusiewe internasionaliseringsbevoegdhede" aangebied. Northwestern het in 2023 die tema “Alumniskakeling en -ontwikkeling" gekies. Die program sluit vanjaar af met die Hamburg-geleentheid. Positiewe gevolge van die program sluit in die ontwikkeling van 'n aanlyn program oor interkulturele bevoegdhede wat deur Northwestern aangebied word, nuwe bande tussen en binne vennootinstellings, die terugvoer van nuwe kennis na tuisinstellings, en die persoonlike ontwikkeling en groei van personeel.

 Kim Rapp, assistent-visepresident van Internasionale Betrekkinge by Northwestern, reken dat die driesydige personeelontwikkelingsprogram institusionele vennootskappe met die US en Hamburg versterk het. “Ek hou onder meer baie daarvan dat Northwestern nou bekend is onder die personeel by Hamburg en Stellenbosch, wat ons sigbaarheid versterk. Daar het ook nuwe bande ontwikkel tussen personeel buite ons onderskeie internasionale kantore." Boonop het die program interne samewerking tussen Northwestern se eie eenhede verbeter en kon personeel meer te wete kom oor mekaar se departemente en verantwoordelikhede, het sy bygevoeg.

Die Universiteit van Hamburg het op sy beurt besluit om aan die program deel te neem om die internasionalisering van personeel op alle vlakke in die hand te werk, interkulturele bevoegdhede te ontwikkel, strategiese vennootskappe te versterk, en vennootskappe en samewerkingsprojekte op die voorgrond te bring. So het Eva Leptien, bestuurder van Vennootskappe by die Universiteit van Hamburg se Departement van Internasionale Betrekkinge, gesê. “Personeeluitruilprogramme is een van die boustene van ons internasionaliseringstrategie," het sy bygevoeg. Leptien het ook die SIAN-byeenkoms as platform gebruik om die tema vir vanjaar se driesydige ontwikkelingsgeleentheid aan te kondig, naamlik “Die integrasie van volhoubaarheid by hoëronderwysinstellings".


Bou doelgerig aan vennootskappe

 Die laaste sessie het gehandel oor universiteite se vennootskapsportefeuljes, en beste praktyke om dit te bestuur. Sprekers van die universiteite van Leipzig, Groningen en Stellenbosch het die onderwerp van nader bekyk.

Marie Plinke van die Universiteit van Leipzig het gesê haar instelling se benadering tot hulle vennootskapsportefeulje behels onder andere om “bestaande universiteitsooreenkomste in gepaste formate te omskep, aktiewe bestaande vennootskappe te versterk, en administratiewe rompslomp te verminder". Sy het die belangrike punt geopper dat die identifisering van aktiewe internasionale vennote 'n belangrike bydrae kan lewer tot strategiese besluitneming deur universiteitsbestuur.

Sarah van der Westhuizen, direkteur van die Sentrum vir Globale Samewerking by US Internasionaal, het vertel van die lesse wat die US uit sy eie aktiewe deelname aan 'n strategiese vennootskap geleer het. “Deur 'n aktiewe vennoot te wees, het ons 'n spesifieke werksproses ontwikkel wat ons op ander strategiese en omvattende vennootskappe kon toepas," het sy gesê. Sy het bygevoeg dat gelyke finansiering en samewerking deur albei vennote noodsaaklik is vir 'n suksesvolle vennootskap, tesame met gesamentlike eienaarskap, gemeenskaplike evalueringsmaatstawwe, en gesprekke oor gelykwaardigheid.

 “In 'n ál hoe komplekser wêreld is vennootskappe, waaronder strategiese vennootskappe, onontbeerlik om die gehalte van onderwys en navorsing te handhaaf en te verhoog en saam te werk om klein én groot samelewingsuitdagings te takel," het Anita Veldtmaat van die Universiteit van Groningen gesê. Sy het ook klem gelê op die behoefte aan interne aanvangsfinansiering as 'n kernvereiste vir vennootskapsukses.

Benewens die formele sessies, het die SIAN-byeenkoms ook werksessies ingesluit om instellings touwys te maak in internasionale hoër onderwys en verantwoordelike internasionalisering in Afrika. 'n Study Abroad-skou het US-studente die geleentheid gebied om met moontlike buitelandse studiebestemmings te skakel. 'n Besoek aan die US se Ukwanda Landelike Kliniese Skool op Worcester en 'n uitstappie na die V&A Waterfront het die program volmaak afgerond.​