Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Motsepe-stigting skenk R800 000 aan SR-gedrewe inisiatiewe
Outeur: Lynne Ripppenaar-Moses
Gepubliseer: 21/03/2024

Die Studenteraad (SR) van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n skenking van R800 000 van die Motsepe-stigting ontvang om te bestee aan SR-gedrewe inisiatiewe wat studente bevoordeel. Die tjekoorhandiging het plaasgevind by 'n geleentheid wat in Sandton in Johannesburg gehou is.

​Die US SR was een van 'n aantal studentebestuurstrukture by 26 universiteite regoor Suid-Afrika om voordeel te trek uit die algehele skenking van R30 miljoen wat deur die Stigting gemaak is.

SR-voorsitter Phiwokuhle Qabaka, en Thulani Hlatshwayo, Koördineerder: Studentebestuur aan die US, het die tjek ontvang van dr Precious Moloi-Motsepe, HUB en medestigter van die Motsepe-stigting, en dr Rejoice Simelane, Uitvoerende Direkteur by Ubuntu-Botho Investments en nie-uitvoerende Direkteur van African Rainbow Capital Property Limited. Hlatshwayo werk in die Eenheid vir Studentebestuur in die Sentrum vir Studentelewe en Leer, wat deel vorm van die Afdeling Studentesake (STS).

Die skenkings vorm deel van verskeie finansiële verpligtinge wat die Stigting aangegaan het tot SR-gedrewe inisiatiewe wat gefokus is op studenteskuld, studente se geestelike welstand, en pogings tot geslagsgelykheid en vroue se welstand – alles kwessies wat ooreenstem met die Stigting se werk.

In 'n uitnodiging wat Melissa Anthony, Bestuurder: Opvoeding en Projekte by die Motsepe-stigting aan die US SR uitgereik het, glo die Stigting dat SR'e "'n belangrike rol speel om 'n balans tussen studente se akademiese prestasie en hul sosiale ondersteuning te verseker".

“Terwyl die Motsepe-stigting verskeie intervensies geïnisieer het om die toegang, deursettingskoers en welstand van ons beursontvangers te ondersteun, glo ons dat die ondersteuning van student-geleide inisiatiewe waarde toevoeg tot die verskeie intervensies wat deur diverse belanghebbendes ontplooi word," het Anthony geskryf.

Foto: Die US se SR-voorsitter (derde van links), Phiwokuhle Qabaka, en Thulani Hlatswayo (heel regs), koördineerder: Studentebestuur in die Eenheid vir Studentebestuur, het 'n tjekskenking van R800 000 ontvang van dr Rejoice Simelane (heel links), Uitvoerende Direkteur by Ubuntu-Botho Investments en nie-uitvoerende Direkteur van African Rainbow Capital Properties Limited, en dr Precious Moloi-Motsepe, HUB en Medestigter van die Motsepe-stigting.