Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ADA-somerskool bemagtig vakkundiges van môre
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 04/03/2024

Februarie was 'n produktiewe maand vir die Afrika Doktorale Akademie (ADA) by die Universiteit Stellenbosch (US). Die ADA het oor die verloop van drie weke PhD-studente en akademici uit 15 Afrikalande verwelkom wat aan die Akademie se Hibriede Somerskool deelgeneem het. Daar is vanjaar 16 verskillende kursusse aangebied, waarvan vyf nuut was – insluitende een oor kunsmatige intelligensie en wetenskaplike navorsing.

Die kursusse is deur 'n groep gesiene plaaslike en internasionale akademiese kundiges uit lande soos Ierland, die Verenigde Koninkryk (VK), Duitsland en Amerika aangebied. Verskeie suksesvolle ADA-beurshouers van Uganda, Kenia, Tanzanië, Namibië, Mauritius en Suid-Afrika het die Somerskool bygewoon, asook afgevaardigdes van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) se Sentrum van Uitnemendheid in Energie.

Die ADA Somerskool strewe daarna om omvattende opleiding in impakvolle navorsingsontwerp en -metodologie te bied, asook geleenthede vir akademiese gereedheid en loopbaanbevordering. Die kursusse word vir doktorale studente en voornemende PhD-kandidate, hulle studieleiers en navorsers ontwerp.

Irene Mutuzo, 'n PhD-student in organisatoriese sielkunde aan die Makerere-universiteit in Uganda, was vol lof vir vanjaar se doktorale skool. “Ek het onlangs van die korporatiewe wêreld na die akademie oorgeskakel en aan die begin van my PhD-reis het ek 'n bietjie oorweldig gevoel. Die afgelope twee weke was ongelooflik. Ek het so baie geleer en ek het vaardighede aangeleer wat ek glo my in staat sal stel om slimmer en vinniger te werk. Ek het ook ongelooflike intelligente en inspirerende mentors ontmoet."

Volgens Bathromeu Mavusa, 'n PhD-student in politieke wetenskap aan die US, was sy ervaring by die doktorale somerskool baie insiggewend. “Ek was aanvanklik baie skepties oor kunsmatige intelligensie, maar dr Sonja Strydom het in haar lesing my siening heeltemal verander. Ek het geleer dat AI 'n waardevolle hulpmiddel in die akademie kan wees wat ondersteuning en insigte bied eerder as om menslike intelligensie te vervang. Dit is van kardinale belang om 'n balans tussen menslike intellek en AI-hulp te vind. Die besprekings oor magsverhoudinge en etiese oorwegings rondom KI was insiggewend, veral wat betref die implikasies daarvan vir die Globale Suide." Daarbenewens het hy die gemengde metodes-navorsingskursus besonder voordelig gevind omdat dit sy begrip van navorsingsmetodologieë uitgebrei het, het Mavusa gesê.

Die geleentheid om by die ADA Somerskool medeafgevaardigdes van verskeie Afrikalande en verder in aanraking te bring met internasionale en plaaslike aanbieders, was van onskatbare waarde en het 'n gevoel van akademiese gemeenskap en samewerking bevorder, meen dr Natalie Kowalik, ADA-programbestuurder by die Afrika-sentrum vir Akademieskap aan die US.

“Hierdie ervarings sal hopelik nie net individuele akademiese trajekte aandryf nie, maar ook tot die kollektiewe bevordering van vakkundigheid regoor Afrika en verder bydra," het Kowalik opgemerk. “Daar was baie groot belangstelling in die ADA se doktorale skole, maar afgevaardigdes staar dikwels finansiële uitdagings in die gesig. In reaksie hierop het die ADA vanjaar sy eerste volledige 'hyflex'-kursus aangebied ('n formaat wat studente in staat stel om te kies tussen die fisiese bywoning van klasse, aanlyn of 'n kombinasie van albei), wat 'n bewys van die ADA se verbondenheid is om impakvolle doktorale opleiding aan te bied wat voorsiening maak vir afgevaardigdes wat nie kan reis nie. Die gemengde metodes-kursus het geweldige positiewe terugvoer van afgevaardigdes ontvang – persoonlik sowel as diegene wat aanlyn aangesluit het."

Die ADA en die Nagraadse Forum vir Suider-Afrika (PGFSA) het op 5 Februarie 'n gesamentlike geleentheid aangebied. Die hoogtepunt was die amptelike herbekendstelling van die PGFSA. Die geleentheid is by die Wallenberg-konferensiesentrum by STIAS gehou en die tema was “Internasionale tendense in nagraadse onderwys en die bevordering van navorsingsamewerking regoor Afrika en verder".

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake by die US, het die plaaslike en internasionale gaste hartlik verwelkom. Die geleentheidspreker by die bekendstellingsgeleentheid was prof Gina Wisker van die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk wat 'n insiggewende aanbieding oor tendense in doktorale studie wêreldwyd gelewer het.

'n Paneelbespreking wat deur dr Henriette van den Berg van die PGFSA gefasiliteer is, het op internasionale tendense in nagraadse opleiding gefokus, asook maniere om navorsingsamewerking regoor Afrika en verder te bevorder.

Die ADA se hibridiese Somerskool is op 'n hoë noot afgesluit toe prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, 'n inspirerende gaslesing oor die strategiese imperatiewe van die bevordering van navorsingsamewerking gelewer het. Moyo het die ADA-somerskooldeelnemers uitgedaag om hulle nuutverworwe insigte en netwerke in te span om innoverende oplossings vir uitdagings soos armoede, ongelykheid, werkloosheid en korrupsie te vind.

FOTO: Ignus Dreyer