Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bring SA 'sonskyn in 'n bottel' na Duitsland
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/12/2023
Vir Sabrina Majchrzak was 'n semester aan die Universiteit Stellenbosch meer as net 'n avontuur – dit was 'n lewensveranderende ervaring wat uiteindelik gelei het tot die skep van 'n aanlyn wynwinkel met die doel om die vreugde en plesier van Suid-Afrikaanse wyne in Duitsland te deel.

Sabrina het in 2018, gedurende haar tyd as 'n internasionale student in Suid-Afrika, verlief geraak op die land – die atmosfeer, die kulturele diversiteit, die gemeenskap se ingesteldheid en die buitelewe – en ná haar terugkeer na die Bochum Universiteit van Toegepaste Wetenskappe in Duitsland het sy soveel mense moontlik aangemoedig om die land te besoek.

“Ek het nooit gedink dat 'n land of studie-ervaring só inspirerend kon wees nie! Ek dink my vriende het 'n moeilike tyd met my beleef, want al waaroor ek kon praat was Suid-Afrika, Stellenbosch, Suid-Afrikaanse wyne, Suid-Afrikaanse kos, Suid-Afrikaanse natuur, Suid-Afrikaanse mense en hoe fantasties en pragtig dit is."

Terug by die huis wou sy meer van die Suid-Afrikaanse atmosfeer in haar daaglikse lewe hê.

“Veral tydens COVID-tye wou ek die vreugdevolle, helder en lewendige stemming na 'n grys en koue Duitsland bring. Dit is waar die idee vir 'bottled. South African Wine & Soul' gebore is. Ná 'n bietjie navorsing en gegrond op my eerstehandse persoonlike ervaring, het ek agtergekom dat my geliefde Suid-Afrikaanse wyne regtig moeilik bekombaar was in Duitsland."

Tydens 'n tweede besoek aan Stellenbosch aan die begin van 2023, het Sabrina die gedagte van 'n aanlyn wynwinkel by van haar gunstelingwynplase getoets, en hulle was almal baie ondersteunend en gewillig om saam te werk. 'n Paar maande later het sy 'n besigheidslisensie en 'n aanlyn winkel gehad, wat sy in Augustus 2023 bekendgestel het.

“Met 'bottled. South African Wine & Soul' het 'n droom waar geword – ek verkoop my gunsteling Suid-Afrikaanse wyne, wat altyd met die hand uitgesoek is en'n persoonlike storie daaragter het, aanlyn in die Duitse mark. Omdat dit 'n slegs 'n byverdienste is, kan ek al my passie en liefde daaraan wy, sonder om finansieel daarvan afhanklik te wees – vir nou."

Van die wynplase wat op haar webwerf verskyn, is: Lanzerac, Delheim, Durbanville Hills en Lievland.

“Ek doen op die oomblik baie wynproeë. Dit is 'n briljante manier om met mense in aanraking te kom, my stories en ervarings te deel, bewustheid van SA wyne te verhoog, en 'n klantbasis te bou. Ons sal sien waarheen hierdie reis lei, maar op die oomblik is ek net bly dat ek 'n klein deel van my SA ervaring met wynliefhebbers in Duitsland kan deel," sê Sabrina, wat as bestuurder van gebruiker- en klantervaring by die internasionale hoofkantoor van die afslagsupermark met die grootste inkomste in Duitsland werk.

Volgens Sabrina is mense baie nuuskierig oor Suid-Afrika.

“Ek deel altyd my persoonlike ondervindings, wat 100% positief is. Die veiligheidskwessie kom egter dikwels op. Ek verduidelik altyd dat wat die Kaapse streek betref, ek nooit 'n situasie beleef het waar ek onveilig gevoel het nie, en dat 'n mens in Kaapstad net so bedag moet wees as in enige ander groot stad. Die mense wat ek ontmoet, is baie oopkop en ek dink vir hulle is dit 'n fantastiese geleentheid om inligting, veral wat toerisme betref, eerstehands te kry. My doel is om deursigtig te wees, in te lig, vooroordele uit te wis, te inspireer, en in die geheim almal aan Suid-Afrika verslaaf te maak!"

Webwerf: https://bottled-wines.com/en