Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spraakterapeut oorkom geestesgesondheids-uitdagings ná jare se gesukkel
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 13/12/2023

Toe Firdous Sulaiman Dinsdag (12 Desember) oor die verhoog stap om haar graad in Spraak-, Taal- en Gehoorterapie te ontvang, was dit 'n triomfantelike afsluiting van jare se gesukkel. Nadat sy drie jaar van haar studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) moes herhaal, het 'n motorongeluk in 2020 'n katalisator vir groot verandering in haar lewe geword. Terwyl sy terapie ontvang het vir post-traumatiese stres ná die ongeluk, is Sulaiman met outisme-spektrumversteuring en disleksie gediagnoseer.

Die daaropvolgende ingrypings en ondersteuning wat Sulaiman ontvang het, het haar lewe radikaal verander. Van moedeloos voel en twyfel oor of sy ooit gaan gradueer, het sy haar finale jaar as een van die topstudente in die klas van 2023 afgesluit. Hierdie merkwaardige ommeswaai en Sulaiman se volharding om aan te hou nadat sy drie akademiese jare gedruip het, het in Oktober vanjaar aan haar 'n Rektorstoekenning vir Uitnemendheid in Akademiese Veerkragtigheid besorg.

Hierdie toekenning het die wêreld vir haar beteken omdat dit erkenning gegee het aan die deursettingsvermoë en dryfkrag wat dit geverg het om sukses te behaal, sê Sulaiman. Sy het altyd daarna gesmag om 'n medalje of sertifikaat te ontvang, voeg sy by. “Dit is met groot blydskap dat ek nou kan sê dat toe dit die meeste saak gemaak het, het ek aan die einde van my voorgraadse reis die erkenning ontvang wat al die vorige toekennings wat ek so graag wou hê, getroef het. My oom het vir my iets baie diepsinnig gesê toe hy my gelukgewens het met die Rektorstoekenning. Hy het gesê enigiemand kan erkenning ontvang vir die beste punte en onderskeidings, maar dit verg 'n spesiale persoon om iets spesifiek vir hulle karakter te ontvang."

Ontvang hulp

Sulaiman onthou sy aan die einde van matriek 'n afskeidsboodskap ontvang het wat haar seergemaak het: “Jy het soveel potensiaal." “Ek het dit nooit maklik op skool gehad nie. Ek moes altyd harder as my vermoëns werk en het nooit die resultate gesien wat ek verwag het nie. Al wat ek ooit gehoor het, was dat ek my sokkies moes optrek omdat ek soveel beter kon presteer. Wanneer jy geestesgesondheidskwessies het, lyk dit asof jy lui is, asof jy nie jou studies ernstig opneem nie. Ek sou my bes doen en 110% gee, maar dit was nooit goed genoeg nie. Omdat ek nie die tipiese tekens van disleksies getoon het nie – ek was nog altyd 'n goeie leser – kon onderwysers nie verstaan waarom ek nie beter vaar nie."

Sulaiman het eers ná die disleksie-diagnose besef dat al kan jy vlot lees, dit nie noodwendig beteken jy begryp dít wat jy lees, ten volle nie.

Die terapeut wat Sulaiman ná die ongeluk gesien het, Karin Huyssen, het haar aangeraai om by die US se ondersteuningstrukture vir studente met gestremdhede hulp te gaan soek. “Sy het my na die Eenheid vir Gestremdhede verwys en aanbeveel dat ek spesiale hulp soos bykomende skryftyd vir toetse en eksamens kry." Huyssen het ook aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US geskryf om raad te gee oor hoe hulle Sulaiman se spesiale behoeftes in die klaskamer kan akkommodeer. Huyssen het 'n spraakterapeut aanbeveel wat in die behandeling van outistiese pasiënte spesialiseer. Die Eenheid vir Gestremdhede het vir die sessies wat Sulaiman gehelp het om haar pad deur eksamens en ander akademiese uitdagings te vind, gefinansier.

Sy het ook 'n opvoedkundige sielkundige, Lamees Chetty, op die Tygerberg-kampus begin sien. Sulaiman gee erkenning aan haar terapeute en dosente, asook aan haar ouers vir hulle onwrikbare ondersteuning om haar in haar stryd by te staan en haar te motiveer om weer op dreef te kom nadat sy in 2020 die moeilike besluit geneem het om haar studies te onderbreek.

"Ek het my liggaam en verstand vir vier jaar lank te ver gedruk. Ek het nie my verstand die rus gegee wat dit nodig gehad het nie, ek het nie na my sensoriese behoeftes en aftakelende angs omgesien nie – ek dit eerder as brandstof gebruik om myself aan te dryf. Dit het baie berading en opvoeding geverg om my daarvan te oortuig dat 'n onderbreking in my studies die beste stap vorentoe was. Om myself oor my diagnose en my behoeftes op te voed, was 'n groot spelwisselaar wat nie net my akademiese lewe nie, maar ook my verhoudings met familie en vriende beïnvloed het," verduidelik Sulaiman.

Totdat sy medikasie vir angs begin neem het, het Sulaiman gedink dit is normaal om elke dag naar te voel. “Afgesien van medikasie, het dit ook vir my gewerk om spesialiste te sien en spesiale toegewings by die fakulteit te kry. 'n Spesifieke dosent is aan my toegewys wat ek een keer elke twee weke sou sien om enige kwessies aan te spreek. Die modulekoördineerder het een keer per week bykomende tutoriale vir my aangebied, wat dit vir my makliker gemaak het om akademies gefokus te bly."

Sulaiman het ook inspirasie by 'n ondersteuningsgroep vir outistiese en neurodivergente studente gevind wat hulle te help om uitdagings te hanteer. Deur beter begrip van haar behoeftes te kry, was sy in staat om haarself te vergewe omdat sy nie so goed soos ander studente oor die jare presteer het nie.

Kampvegter vir geestesgesondheid

Klein aanpassings, soos om na haar sensoriese behoeftes om te sien, het haar lewenskoers verander. “In klasse en tydens eksamens is ek toegelaat om 'n oomblik te neem om asem te skep wanneer ek oorweldig gevoel het. Die resultate van hierdie veranderinge was ongelooflik. Verlede jaar was die eerste jaar dat ek geen modules moes herhaal nie. Vanjaar was my dosente geskok dat die student wat nog altyd gesukkel het, een van die beste kliniese presteerders in die klas geword het," lag Sulaiman.

Sy sê dit is moeilik om te beskryf wat dit vir haar beteken om aan die einde van 2023 te gradueer. “Ek was so gewoond daaraan om aanhoudend te sukkel dat dit onwerklik voel om so goed te doen." Dit is 'n nuwe, maar wonderlike gevoel om vir haar prestasies gevier te word, erken Sulaiman.

Sy het die afgelope twee jaar 'n kampvegter vir bewustheid oor geestesgesondheid geword – selfs tuis waar sy haar ouers aangeraai het om hulp vir haar jonger broer te kry wat op skool gesukkel het. “Hy is ook met disleksie en outisme gediagnoseer en sedert hy daarvoor behandel word en sekere toegewings vir hom gemaak word, is hy 'n toppresteerder," sê Sulaiman trots.

Sy glo die feit dat sy neurodivergent is, het haar 'n beter spraakterapeut gemaak. "Ek kan my persoonlik met pasiënte vereenselwig wat met gestremdhede sukkel. Ek hoef nie 'n te masker op te sit wanneer ek by hulle is nie, ek kan net myself wees." Hoewel sy graag uiteindelik navorsing wil doen oor hoe die behoeftes van outistiese pasiënte die beste in spraakterapie geakkommodeer kan word, sien Sulaiman nou daarna uit om 'n blaaskans van die akademie te neem en as spraakterapeut te begin werk.

“Ek is so bevoorreg omdat ek in die proses om myself te vind, verlief geraak het op spraakterapie. Ek het binne my gemeenskap baie wanbegrippe en wanopvoeding oor geestesgesondheid raakgesien. Ouers begin dikwels eers besef dat iets aangespreek moet word wanneer dit hulle kind se akademiese prestasie beïnvloed. In baie gevalle is spraakafwykings die gevolg van onderliggende neurologiese, fisiese of sielkundige verskille. Ek kan as spraakterapeut gevaartekens identifiseer en waar toepaslik, vir ingryping pleit. Ek beplan ook om opvoeding en bewusmaking te bied in gemeenskappe wat die grootste gevaar loop," sê Sulaiman.

Terwyl sy haar graduering saam met vriende en familie gevier het, het sy haar geliefdes aan 'n bekende aanhaling van Albert Einstein herinner: “Dit is nie dat ek so slim is nie, dit is net dat ek langer met probleme geworstel het."