Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CIRCoRe-werkstroominsigte: Dr Leslie van Rooi
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 04/12/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die strukture in plek gestel wat op die aanbevelings van die Khampepe-kommissie sal fokus. Ons reeks onderhoude met sleutel- US-personeellede wat die proses van die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) stuur, werp lig op die werk van die verskillende werkstrome wat die toekoms van die Universiteit vorm. In hierdie onderhoud deel dr Leslie van Rooi insigte oor ʼn visie vir ʼn getransformeerde US.

Dr Van Rooi staan aan die hoof van die CIRCoRe-werkstroom wat op die vereenvoudiging en belyning van universiteitstrukture, -beleide en -regulasies fokus om transformasiekwessies meer doeltreffend te hanteer. Nadat hy by die US aangesluit het, het Van Rooi in 2010 die Frederik Van Zyl Slabbert-instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling gestig. As Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie skakel hy gereeld met ʼn verskeidenheid belanghebbendes in die konteks van hoër onderwys (plaaslik en internasionaal), die burgerlike samelewing, plaaslike munisipaliteite en staatsdepartemente. Hy is ook tans die inwonende hoof van die Simonsberg-manskoshuis.

Wat was vanjaar die fokus van jou werkstroom?

Gedurende die eerste paar vergaderings het ons op die formele transformasiestrukture – die Transformasiekantoor, Eenheid vir Gelykheidwaardigheid, Eenheid vir Gestremdhede en Diensbillikheid – gefokus. In ooreenstemming met die vrae wat in die Khampepe-verslag gevra word, het ons probeer sin maak van hoe hierdie kantore tot stand gekom het, wat hulle doen, wat hulle mandate is en of hulle beter belyn kan word.

Ons ook na spesifieke beleide gekyk wat op transformasie fokus om te bepaal wat binne ons instelling bestaan, wat sommige van die beleidsgapings is en of hierdie beleide in planne omskep kan word. Ek dink die toepaslikste uitkoms wat ons as 'n werkstroom gehad het, hou met die aanmelding van kwessies soos diskriminasie, teistering en rassisme verband. Ons het aanbevelings gemaak oor hoe ons aanmeldingsprosesse beter bestuur kan word, met die Eenheid vir Gelykwaardigheid wat sentraal staan in dié proses.

Jy het aan die US gestudeer en het oor die jare baie veranderinge gesien. Wat was die impak van daardie veranderinge?

Daar is niemand wat nie sal saamstem dat die US fundamenteel 'n ander universiteit is as wat dit was toe ek hier studeer het nie. Jy kan dit in die diversiteit sien van mense wat hier studeer en werk. Dit is fassinerend en wonderlik om te sien, om die verskillende tale te hoor en om die verskillende wêrelde te aanskou wat verteenwoordig word en wat daagliks by my kantoor op die Rooiplein verbystap. Ons het 'n baie meer oop kampus geword in ons verhouding met die publiek en die gemeenskappe rondom ons.

Die aantal belanghebbendes wat 'n vennootskap met die US wil hê en wat by die moontlikhede van die Universiteit betrokke wil wees, het toegeneem. Op nasionale vlak word ons gevra om 'n rol te speel om die Suid-Afrikaanse samelewing te help definieer en herdefinieer. Ek dink dit is 'n nederige en wonderlike rol wat ons kan en behoort te vervul; dit herinner ons ook aan wat dit beteken om 'n universiteit te wees wat op restitusie fokus, 'n universiteit wat daarop ingestel is om reg te maak en 'n universiteit wat altyd na beter moet streef. Dit is immers wat die mense van Suid-Afrika van die US verwag.    

Kan jy meer vertel oor die perspektiewe en insigte van die CIRCoRe-proses tot dusver?

Ek dink daar word nuwe sin gemaak van hoe jy iets van jou eie ervarings kan deel. Die feit dat jy toegelaat word om dit te doen, maak hierdie proses baie anders as sommige van die ander prosesse wat ons by die US gehad het. En dit verskil van ander formele en struktuurgebaseerde prosesse wat ons tot nou toe gehad het. Dit is nie 'n maklike reis nie. Ons word nie net gekonfronteer met wie ons institusioneel is nie, maar ook met wie ons is in verhouding tot die individu. En dan verskil die ervarings van kollegas natuurlik baie. My ervaring – positief en negatief – met betrekking tot dosent X, met student A of met personeellid B, is baie anders.

In die komplekse mini-samelewing wat 'n universiteit is, moet ons al hierdie stemme kan hoor; ons moet onsself daaraan herinner dat daar nie net een narratief is nie. Ons ervarings verskil en daar moet waarde aan ons ervarings geheg word. Almal van ons moet verstaan dat ons 'n verpligting het om van hierdie instelling 'n beter plek te maak, nie net vir onsself nie, maar vir diegene wat kom. As ons getrou wil wees aan die aard van wat dit is om 'n universiteit te wees, en spesifiek een wat met sy geskiedenis en sy storie vorentoe worstel, moet ons almal die geleentheid kry om gehoor te word. Kollegas moet vry voel om te opper wat hulle ook al wil deel en ons individuele stemme moet in verhouding tot die ervarings van baie ander verstaan word. 

Wat motiveer jou en hou jou tot die transformasieproses verbonde?

Hierdie is 'n universiteit met al die geleenthede in die wêreld om 'n beter plek te wees. Ek glo fundamenteel in die idee dat die moontlikhede van môre altyd meer is as die werklikhede van gister. As jy om ons kyk, as jy op die Rooiplein stap, as jy gaan kyk wanneer ons studente sport speel, as jy na ons koor se sang luister, as jy met kollegas meng wanneer hulle uitstekende wetenskapverwante werk met impak doen, hoe kan jy nie in die beter moontlikhede van môre glo nie?

Ek dink ons is uitstekend geposisioneer om seker te maak dat ons onsself daaraan herinner om vorentoe te beur om seker te maak dat ons beter word. Ons het die geleenthede om beter te word. Ons het die verpligting en ons het hierdie spesifieke geskiedenis wat ons raamwerk vir altyd sal uitdaag. Ons het die geleentheid om fundamenteel anders te wees en die merke en merkers daarvan bly sigbaar. Ek dink dit is op die oomblik 'n wonderlike plek om in Suid-Afrika te wees. Met al sy kompleksiteite en ook sy skerp kante en pyn, bly dit 'n wonderlike konteks om in te wees.

 Foto: Stefan Els