Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnemende US-wetenskaplike onder wêreld se mees aangehaalde navorsers
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/11/2023

​Een van die Universiteit Stellenbosch (US) se voortreflikste wetenskaplikes, prof Dave Richardson van die Departement Plant- en Dierkunde, is een van slegs tien mense van Suid-Afrikaanse instellings wat die Clarivate-wêreldlys van hoogs aangehaalde navorsers vir 2023 gehaal het. Die lys is onlangs bekend gemaak.

Richardson, 'n uitgelese professor en voormalige direkteur van die DWI-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) aan die US, is een van die wêreld se mees aangehaalde navorsers in die kruisveldkategorie – individue wat beduidende navorsingsinvloed oor vakgebiede heen getoon het. Richardson verskyn reeds sedert 2014 op die lys van hoogs aangehaalde navorsers – in die ekologie-/omgewingskategorie van 2014–2021 en die kruisveldkategorie van 2022–2023.

Die lys, waarvoor daar altyd groot afwagting heers, identifiseer wetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat die afgelope dekade verskeie referate gelewer het wat in die top 1% volgens aanhalings vir hulle vakgebied en jaar van publikasie op die “Web of Science" was – iets wat op aansienlike navorsingsinvloed onder hul eweknieë dui. Vanjaar se lys bevat 7 125 hoogs aangehaalde navorsers uit 67 lande en streke in 20 vakgebiede in die wetenskappe en sosiale wetenskappe, asook oor vakgebiede heen.

Richardson sê hy voel gevlei om op die lys te verskyn.

“Om op die lys te wees, is 'n aanduiding dat jou werk wyd aangehaal word en dus hopelik invloedryk op jou gebied is. Om in die kruisveldkategorie te verskyn, toon dat 'n mens se werk tradisionele vakgebiede deurkruis. My werk oor die ekologie en bestuur van biologiese indringing het toenemend van my eie spesialisveld (ekologie) afgedwaal om insigte, konsepte en instrumente uit ander vakgebiede, soos ekonomie, rekenaarwetenskap, geskiedenis, filosofie en sosiologie, te leen.

“My navorsingsloopbaan het baie by geleenthede gebaat wat geskep is deur deel te wees van die SIB. Die Sentrums van Uitnemendheid-model baan die weg vir produktiewe nasionale en internasionale samewerking. Die meeste van my navorsing het uit hierdie soort samewerking voorgespruit waarby talle kollegas van regoor die wêreld en 'n wonderlike nakomelingskap van studente en postdoktorale genote betrokke was."

Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US, het in reaksie op Richardson se jongste prestasie gesê die Fakulteit is geweldig trots op sy deurlopende en merkwaardige bydraes en prestasies in nasionale én internasionale kontekste wat die vakgebiede van ekologie en omgewingsbestuur aansienlik aanvul en op sy bydrae om die gewaardeerde reputasie van uitnemende navorsing binne die Fakulteit en Universiteit te handhaaf.

“Afgesien van prof Richardson se indrukwekkende bydraes tot die bevordering van akademiese kennis in die wetenskap, het hy ook baie tyd en moeite daaraan gewy om praktiese riglyne te formuleer om die verbeterde bestuur van indringerspesies te versterk."

Clarivate™ identifiseer elke jaar die klein gedeelte van wêreldwye navorsingswetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat 'n beduidende en wye invloed op hulle navorsingsgebied(e) getoon het. Hierdie uitgesoekte groep dra buite verhouding by tot die uitbreiding van die grense van kennis en die verkryging van innovasies vir die samelewing wat die wêreld gesonder, meer volhoubaar en veiliger maak.