Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Amptelike bekendstelling van die African Rainbow Minerals Navorsingsleerstoel
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 18/10/2023

Wêreldwyd en in Suider-Afrika kyk die mineralesektor na die ontluikende veld van geometallurgie as 'n manier om waarde te ontsluit en volhoubaarheidspraktyke tydens erstsontginning te verbeter.

Geometallurgie is die integrasie van geologiese, mineralogiese en metallurgiese data op driedimensionele vlak ten einde 'n ruimte-bewuste  verwerkingsmodel te skep. Verder, deur ekonomiese, bemarkings-, en  OMB (omgewings-, maatskaplike en bestuurs-) oorwegings te inkorporeer, poog hierdie modelle om waardetoevoeging gedurende die mynlewensiklus te voorspel en te maksimeer.   

Dit is teen hierdie agtergrond dat die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs 'n vennootskap met African Rainbow Minerals (ARM) aangegaan het om die ARM Navorsingsleerstoel in Geometallurgie te vestig. Die doel van die navorsingsleerstoel is om kennis te bevorder en kapasiteit op hierdie belangrike gebied te bou, en sodoende die veerkragtigheid en omgewingssensitiwitiet van die plaalsike mineralebedryf te verbeter. 

 

Gegewe die interdissiplinêre aard van die navorsingsleerstoel, is dit gevestig as 'n gedeelde pos tussen Dr Bjorn von der Heyden van die Departement Aardwetenskappe en Dr Margreth Tadie van die Departement Chemiese Ingenieurswese. Dr Von der Heyden se spesialiseringsveld is ekonomiese geologie, geometallurgie en geochemie, en dié van Dr Tadie sluit mineraalverwerking, geometallurgie en prosesoptimering en -modellering in. Navorsingskapasiteit is vergroot met die aanstelling van twee nadoktorale navorsingsgenote, Dr Cedric Djeutchou en Evelyn Manjengwa. Die huidige studentekohort bestaan uit sewe meestersgraadstudente wat almal verskeie aspekte van geometallurgie bestudeer.

Volgens Dr Von der Heyden presteer die studente goed: “Op grond van hulle deurlopende navorsing in die Noord-Kaap en Gauteng, beloof hul om 'n impakvolle bydrae te lewer tot die wetenskap van hoe yster- en  mangaanerts gevorm word, hoe dit ontgin kan word met maksimum doeltreffendheid en waardeverwesenliking, en met minimale omgewingsimpak. Ons is trots op wat hul tot op hede bereik het en dankbaar dat ARM hul studies borg.

By die formele ondertekening van die Memorandum van Ooreenkoms op 17 Oktober 2023, het Dr Tadie gesê hulle is opgewonde oor wat die navorsingsleerstoel ten doel het: “Hierdie vennootskap met ARM is terselfdertyd  visionêr en tydig. Ons beweeg na 'n wêreld met groot datastelle, toenemend komplekse ertsliggame, groeiende sosiale bewussyn, en hoogs mededingende besigheidspraktyke. Die mineralesektor reageer hierop deur erkenning te gee aan die belangrikheid van geometallurgie. Ons sien daarna uit om beide kennis, sowel as mensekapitaalontwikkeling in hierdie ruimte by te dra".

Die Uitvoerende Hoof van ARM Ferrous, André Joubert, het verklaar: “Ons is opgewonde en voel geëerd dat ARM deel is van hierdie  belangrike samewerking met die Universiteit Stellenbosch met die instelling van die ARM Navorsingsleerstoel in Geometallurgie. Hierdie onderneming dui op ons verbintenis om kennis uit te brei en die omgewingsvolhoubaarheid van ons bedryf te versterk. Die belangrikheid van navorsing in ons strewe om nuwe geleenthede en vernuwing in die veld van geometallurgie te verken, kan nie genoeg beklemtoom word nie. Ons bly toegeweid daartoe om veilig, verantwoordelik en doeltreffend te funksioneer, terwyl ons verhoudings met ons gemeenskappe en ander belanghebbendes koester".

Die African Rainbow Minerals Geometallurgie navorsingsleerstoel is gister by die Universiteit Stellenbosch bekragtig met die ondertekening van 'n Memorandum van Ooreenkoms. Op die foto, van links na regs, is dr. Bjorn von der Heyden (US Departement Aardwetenskappe), Maryke Hunter-Husselman (Direkteur: Navorsingsinligting en Ontwikkeling, US), André Joubert (Uitvoerende Hoof van ARM Ferrous), en dr. Margreth Tadie (US Departement Chemiese Ingenieurswese). Foto: Stefan Els

Vir navrae:

Universiteit Stellenbosch

Wiida Basson

E-pos: wiidabasson@sun.ac.za

 

​African Rainbow Minerals

Betty Maloka

E-pos: betty.maloka@arm.co.za