Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se betrokkenheid by Afrika-Europa-klusters van Navorsings-uitnemendheid is mylpaal vir navorsing
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 13/10/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het vroeër vandeesmaand sy medeleierskap van vier van die 17 gesamentlike Afrika-Europa-klusters van Navorsingsuitnemendheid (CoRE), wat deur die samewerkingspogings van die Alliansie van Afrika-navorsingsuniversiteite (ARUA) en die Gilde van Europese Navorsingsintensiewe Universiteite (die Gilde) gestig is, as 'n belangrike mylpaal in die strewe na billike navorsing gevier.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het by 'n geleentheid by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) wat virtueel en persoonlik deur verteenwoordigers van deelnemende instellings van regoor die wêreld bygewoon is, die volgende gesê: “Die kern van hierdie inisiatief is die grootse doelwit om 'n omwenteling in samewerkende navorsing teweeg te bring deur billikheid op die voorgrond te plaas. Billikheid dien as die grondslag waarop ons uitstaande en impakvolle navorsing bou wat die dringende uitdagings van ons gedeelde samelewing aanspreek."

De Villiers het verduidelik dat die Universiteit Stellenbosch die leier of medeleier van die volgende CoRE-klusters sal wees:

  • Die aanspreek van globale en Afrika-uitdagings deur die aanwending van kunsmatige intelligensie, datawetenskap en teoretiese en berekeningsdenke:

Die US sal saam met kollegas van Uppsala-Universiteit op innovasie en tegnologie fokus. Die doelwit is om die transformerende potensiaal van kunsmatige intelligensie (KI), datawetenskap en teoretiese en rekenaardenke te benut om kritieke globale en Afrika-uitdagings in gesondheidsorg, onderwys, landbou, energie en infrastruktuur aan te spreek. Hierdie samewerking sal op kundigheid van 'n verskeidenheid vakgebiede, insluitende rekenaarwetenskap, ingenieurswese, wiskunde, fisika en sosiale wetenskappe, steun.

  • Genomika vir gesondheid in Afrika:

Die US sal saam met kollegas van die Universiteit van Bern in Switserland en die Universiteit van Tübingen in Duitsland die kollig op openbare gesondheid plaas. Dit sal spesifiek op seldsame siektes, seldsame kankers, pandemiese paraatheid en aansteeklike siektes gerig wees, met 'n toegewyde fokus op die verbetering van gesondheidsuitkomste regoor Afrika.

  • Natuurgebaseerde oplossings vir aanpassing by en versagting van klimaatsverandering:

Hierdie CoRE-kluster, onder leiding van die Universiteit van Bologna, die Universiteit van Kaapstad en die US se Skool vir Klimaatstudie, stel sy visier op globale en interkontinentale uitdagings in die Groen Oorgang-kategorie. Die kluster poog om transdissiplinêre benaderings te bevorder om die verweefde uitdagings van klimaatsverandering en biodiversiteit aan te spreek. Hierdeur word dit met die Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling belyn.

  • Hernubare Energie:

Hierdie CoRE-kluster, onder leiding van die US en die Universiteit Gent in België, wy hom toe  aan die ontwikkeling van hernubare energietegnologie, die kweek van billike oorgang in die samelewing en die bevordering van volhoubare onderwys en opleiding. Deur voort te bou op die US se erkenning as 'n ARUA Sentrum van Uitnemendheid, streef hierdie kluster daarna om wesenlike bydraes te lewer tot die oplossing van een van die samelewing se dringendste behoeftes – die energie-uitdagings wat Afrika én Europa in die gesig staar.

Verder dien die US met trots as 'n gewaardeerde vennoot in die Afrika-Europa CoRE-kluster vir Veelvuldige Siektetoestande. In hierdie hoedanigheid benut die Universiteit die potensiaal van digitale tegnologie en kunsmatige intelligensie om diagnostiek, veiligheid en intervensies vir die voorkoming, behandeling en beheer van veelvuldige siektetoestande in Afrika suid van die Sahara te verbeter.

Eerste van sy soort

Prof Jan Palmowski, die Gildeleier van die Afrika-Europa CoRE, het die inisiatief as die eerste praktiese toepassing van samewerking deur die Gilde bestempel. “Dit is 'n wêreldwye eerste (vir navorsingsamewerking op die lang termyn) op die vasteland." Hy het die US se leierskap geloof vir hulle toewyding aan die projek en die “buitengewone" gehalte van die betrokke navorsers beklemtoon.

Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het die samewerking as “'n geleentheid om die volgende geslag wetenskaplikes op te lei" beskryf.

Die CoRE-klusters sal nie net interkontinentale en kruisinstitusionele navorsing nie, maar ook samewerking binne instellings moontlik maak, het prof Tulio de Oliveira, Direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) en verbonde aan die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, verduidelik.

De Oliveira en prof Shahida Moosa, Hoof: Mediese Genetika by die US en Tygerberg-hospitaal, sal die medeleiers van die Afrika-Europa CoRE-kluster vir Genomika vir Gesondheid in Afrika wees. Hierdie kluster kan byvoorbeeld saam met prof Guy Midgley, Direkteur: US se Skool vir Klimaatstudie, werk doen oor die invloed van klimaat op genetiese siektes as deel van die werk wat die Afrika-Europa CoRE-kluster vir Natuurgebaseerde Oplossings vir Aanpassing by en Versagting van Klimaatsverandering doen.

“In samewerking met die Gilde brei ons deur middel van internasionalisering ons reikwydte regoor Afrika en die wêreld uit. Dit stel ons in staat om by 'n groot poel uiteenlopende hulpbronne baat te vind en 'n beduidende bydrae tot vaardigheidsontwikkeling op ons vasteland te lewer," het die Rektor ter afsluiting gesê. “As ons universiteite kan kry om saam te werk, kan ons dinge gedoen kry."

Lees hier meer oor die aankondiging van die nuwe Afrika-Europa-klusters vir Navorsingsuitnemendheid.

Lees ook die wêreldwye persvrystelling, “Universities launch Africa-Europe Clusters of Research Excellence to pioneer new approach to equitable collaboration".

  • Meer inligting oor die verskillende klusters is hier beskikbaar.

 ​Foto: Prof Tulio de Oliveira en Prof Shahida Moosa by die geleentheid op STIAS.  

Bjorn Groenewald of SCPS Photos