Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Netwerke neem internasionalisering vorentoe
Outeur: Prof Hester Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs
Gepubliseer: 11/09/2023

Die Internasionale Netwerk van Universiteite (INU) het in Augustus sy 25ste bestaansjaar in Hirosjima, Japan, gevier. Dit was 'n heuglike geleentheid, veral vir die Universiteit Stellenbosch (US), want dit was die eerste byeenkoms van die netwerk onder die US se voorsitterskap, wat ons tot 2025 sal beklee.

Dit was vir my persoonlik 'n eer om as voorsitter van die geleentheid op te tree. INU is een van die mees prestigeryke netwerke waartoe die US behoort.

Die INU-waardestelling lui soos volg: “Ons heg waarde aan die ontwikkeling van internasionaal betrokke en maatskaplik verantwoordelike agente vir verandering wat hulle daartoe verbind om die kompleksiteite van wêreldwye en plaaslike politieke, ekonomiese, maatskaplike, kulturele en omgewingsuitdagings te verstaan en te hanteer."

Daarbenewens glo INU dat universiteite deur saam te werk sinvolle verandering op verskeie vlakke – plaaslik, nasionaal, in streeksverband én wêreldwyd – kan teweegbring. Dít is gegrond op die oortuiging dat universiteite vennootskappe en netwerke nodig het om hulle institusionele doelwitte en oogmerke te verwesenlik en verandering en vooruitgang in die samelewing te bewerkstellig.

Dit strook goed met die US se Internasionaliseringstrategie, wat netwerke soos INU op prys stel. Ons probeer soek juis na sulke wedersyds voordelige netwerke waar ons met die voorste universiteite ter wêreld kan skakel en saamwerk.

Trouens, netwerkdeelname is deel van die US se Visie 2040. Vir ons is netwerke 'n innoverende manier om ons internasionale voetspoor uit te brei en internasionalisering in die hoër onderwys vorentoe te neem, die toekoms in.

Netwerke verhoog hulle lede se wêreldprofiel en stel ons navorsers en studente in staat om op verskeie maniere saam te werk. Dít is waarom die US tans tot ten minste 34 netwerke behoort, waarvan meer as 12 op die Afrikavasteland is en die res oorsee.

Die US sal voortaan voortgaan om 'n kernrol in wêreldwye netwerke te speel en internasionalisering op dié manier vorentoe te neem.

  • Prof Hester C. Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake