Wanneer die
WP-rugbyspan Vrydagaand op DHL Nuweland uitdraf, sal dit die agste keer
hierdie seisoen wees wat landboustudent Kobus van Dyk die bekende
Streeptrui oor die kop kan trek.
Dié losvoorspeler het sy senior
debuut vroeër vanjaar teen die Haaie gemaak, en het ook een wedstryd vir
die Stormers teen die Kings gespeel. Vrydag se wedstryd teen die Boland
is die WP se laaste kragmeting in die groepsfase van die nasionale
Curriebekertoernooi, en hulle sal hoop op 'n goeie uitslag wat die weg
kan baan op pad eindstryd toe.
Van Dyk is tans die enigste
voltydse student aan die Universiteit Stellenbosch in 'n WP-span wat
talle oud-Maties in sy geledere het. Hy is 'n finalejaarstudent en volg
die program BScAgric met Landbou-ekonomie en Agronomie as hoofvakke.
Van
Dyk het nie op hoërskool provinsiale rugby gespeel nie, maar sy
sportloopbaan het op universiteit behoorlik momentum gekry. Dié agsteman
staan 1.96 meter in sy sokkies, en was die afgelope twee seisoene een
van die Maties se voorste driedrukkers in die Varsity-bekerreeks. Hy het
ook die WP se o/21-span verteenwoordig.
Studies
Hy
het gekies om 'n landboukursus te volg omdat dit nog altyd vir hom 'n
uitgemaakte saak was dat hy na afloop van sy rugbyloopbaan wil gaan
boer.
"Ek het al van kleintyd af saam met my pa op die plaas
rondgery en gehelp waar ek kan," vertel die oudste van drie seuns wat op
die graanplaas Anyskop naby Caledon grootgeword het.
Hy erken
dit verg die afgelope paar maande baie fyn beplanning om sy studies én
sportbedrywighede te kombineer, maar weet dat sy harde werk saam help
vorm aan sy toekomsdrome.
"Op die oomblik het ek nie baie aftyd
nie, want as ek van oefening af kom moet ek begin leer of take doen,"
vertel Van Dyk, wat dankbaar is vir die wyse waarop sy dosente hom
tegemoet kom.
"Ek probeer om nie my studies af te skeep nie, want
hoe vinniger ek dit kan klaarkry hoe meer tyd gaan ek hê om op my rugby
te spandeer," is sy heel realistiese ingesteldheid tot sy studies.
Rugbydrome
Benewens
graad vang aan die einde van die jaar is sy visier daarop ingestel om
'n kontrak by die 2017 Stormers-groep te kry, en soveel moontlik
speelkans in Kaapse spanne te kry.
"Nadat ek hierdie jaar al die
gevoel van Super Rugby in een wedstryd gekry het, kan ek nie wag om nog
te speel nie," vertel hierdie oudleerder van Hoërskool Overberg in
Caledon en Rȗens Kollege by Klipdale. "Ek gaan dus baie hard werk om
daardie doel te bereik."