Nuwe Tegnologie​​

Koppelvlak verwys breedweg na die wyse waarop 'n mens met 'n inligtingstelsel interaksie het, of waarop een inligtingstelsel met 'n ander inligtingstelsel interaksie het.
Wanneer 'n inligtingstelsel of programmatuur-toepassing as 'n diens aangebied word, verwys dit na 'n ander model van hoe die stelsel of programmatuur aan die kliënt verkoop word. Voorheen sou verskaffers die produk d.m.v. programmatuur-lisensies verkoop, en die US se Afdeling IT of 'n derde party sou verantwoordelik wees om die stelsel te bedryf (bv. rugsteun, kontinuïteit, hardeware, bedieners, stoorspasie en opgraderings). Met “Software-as-a-Service (SaaS)” neem die verskaffer egter volle verantwoordelikheid vir die bedryf en onderhoud van die diens, en word d.m.v. 'n dienskontrak verbind om die stelsel teen hoë beskikbaarheid aan te bied, en te verseker dat dit op datum gehou word. SUNStudent word as 'n SaaS-aanbieding voorsien, en Serosoft is verantwoordelik vir die betroubare werking, rugsteun, kontinuïteit van bedrywighede, en stelsel-reaksietyd. 'n SaaS is ook 'n "wolkdiens".
URL staan vir 'Uniform Resource Locator', en word gebruik om adresse op die Wêreldwye Web in 'n mens-leesbare formaat te spesifiseer. 'n URL is die fundamentele netwerkidentifikasie vir enige hulpbron wat aan die web konnekteer (bv. hiperteks, beelde, en klanklêers). 'n Voorbeeld van 'n URL is https://www.sun.ac.za wat die webadres van die Universiteit se tuisblad is. SUNStudent se URL sal https://sunstudent.ac.za wees.
'n Webblaaier of blaaier, is die programmatuur-toepassing op jou rekenaar, tablet of slimfoon wat jy gebruik om inligting en toepassings op die Wêreldwye Web te bekom. Voorbeelde is Google Chrome, Microsoft Edge, Safari en Mozilla Firefox.
Wanneer daar na 'n inligtingstelsel of programmatuur-toepassing verwys word as wolkgebaseerd, beteken dit dat die data en funksionaliteit van die stelsel ter sprake in nie-kampus-datasentrums gehuisves word. Sodanige wolkdienste word deur maatskappye soos Microsoft, Amazon en Oracle bedryf, om enkeles te noem. Datasentrums is fisiese ruimtes waar al die rekenaarbedieners, netwerkskakelaars en ander toerusting sentraal beskikbaar is. Voorheen moes die Universiteit sy eie datasentrum bou, voorsien en onderhou, maar soos inligting- en tegnologiedienste ontwikkel, sal ons toenemend hierdie aanwending verklein. Daar word na die nie-kampus-datasentrums verwys dat hulle in die "wolk" is, wat beteken iewers anders, maar op die Internet. SUNStudent sal as 'n diens gelewer word, en word in die "wolk" vir ons gehuisves.