Die projek ondersteun vyf van die US se kern strategiese temas waarmee die Universiteit die volgende eeu sal betree.
Dié temas is soos volg:
-
‘n Florerende Universiteit Stellenbosch
Gedurende die eksterne evaluering van die Registrateursafdeling (RA) in 2017
het die paneel opgemerk dat die Studente-inligtingstelselprojek (soos dit destyds genoem is) waarskynlik een van die
belangrikste faktore is om die strategiese prioriteite van nie net die RA nie, maar van die ganse instelling te verwesenlik.
Met die SUNStudent-projek (soos dit deesdae bekend is) sal ons 'n doelgeskikte stelsel skep wat diepgaande en volhoubare
verandering en vernuwing in alle fasette van die administrasie van die studentelewensiklus sal teweegbring, van werwing
tot graduering en daarna. Die stelsel sal ook verslagdoening oor studentedata verbeter. 'n Soepel, aanpasbare en
responsiewe stelsel vir studente-administrasie en -inligting sal die US help floreer.
-
'n Transformerende studente-ervaring
Die stelsel sal 'n unieke, pasgemaakte studente-ervaring bied deur ons studentegemeenskap van omvattende steundienste
en leiding van gehalte te voorsien, en akkurate, flink en gepaste kommunikasie met ons teikenstudentekohorte moontlik
te maak.
-
Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke
Die stelsel sal skakelingsgeleenthede vir, en die US se bande met, ons uitgebreide alumnigemeenskappe help versterk en
uitbou.
-
Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer
Die projek sal die digitale strategie as 'n grondslag vir digitale vaardigheid ondersteun. Dit sal ook die voortgesette
vernuwing van die Universiteit se akademiese programme verseker deur 'n stelselmatige proses met duidelik omskrewe rolle
en verantwoordelikhede vir die verskillende rolspelers.
-
Voorkeurwerkgewer
Die stelsel sal die welstand van ons personeel help verbeter deur 'n instaatstellende omgewing te skep vir groter
doeltreffendheid en verhoogde produktiwiteit. Dít sal personeel se gevoel van sin en waarde binne die instelling
versterk omdat hulle tot 'n uitnemende US bydra.