​​​

BeuRsE EN LENINGS ​

Tydlyne: Toekenning van finansiële steun (beurse en lenings) vir 2021

Weens die verlenging van ons 2020- akademiese jaar tot 6 Februarie 2021 gaan 'n beduidende getal US-studente hulle uitslae eers ná 6 Februarie ontvang. Die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings is besig om seker te maak dat jou aansoek volledig is en dat die finansiële inligting wat jy verskaf het, bevestig is. 

Stappe in die toekenningsprosesTydlyn 2021
Bevestiging van aansoeke en akademiese uitslae1 Maart
Kennisgewing oor die uitslag van jou aansoek 14 Mei
Aktivering van beurse/lenings op jou studenterekening*21 Mei
Laaste dag vir die betaling van ten minste 75% van jou studiegeld31 Mei

 

*Belangrik: As jy om 'n Universiteits- of interne beurs aansoek gedoen het en dit is toegestaan, sal ons dit aktiveer en in jou studenterekening oorbetaal voor die sluitingsdatum vir die betaling van minstens 75% van jou studiegeld. 

Die fokus van finansiële ondersteuning: Watter groep studente word in aanmerking geneem?

Soos jy dalk weet, kom alle studente wie se gesin se bruto inkomste vir die huishouding minder as R350 000 per jaar is, in aanmerking vir 'n NSFAS-beurs wat die volle koste van jou klas- en koshuisgeld dek. Dit sluit toelaes vir etes, persoonlike versorging en leermateriaal in. As jy by jou ouers woon, kom jy vir 'n lewenskoste- en vervoertoelaag in aanmerking. 

Daarom fokus die Universiteit ons eie finansiële ondersteuning op die sogenaamde “verlore middelgroep" wie se brute inkomste vir die huishouding tussen R350 000 en R600 000 per jaar is. As daar meer as een kind uit 'n gesin aan 'n tersiêre instelling studeer, oorweeg ons huishoudings met 'n inkomste tot R1 miljoen ook vir finansiële ondersteuning. 

Baie belangrik: Aangesien die Universiteit se fondse beperk is, kan ons nie jou volle studiegeld dek nie. Ons probeer om jou te help met die koste van jou basiese onderriggeld, wat geen bykomende module- of programkoste insluit nie. 

Die proses vorentoe

Alle aansoeke wat ons ontvang, word tot 1 Maart 2021 nagegaan om die finansiële inligting en akademiese uitslae te bevestig. Die Sentrum vir Beurse en Lenings vergelyk dan die inligting wat jy op jou aansoekvorm verskaf het met die verskillende beurse waarvoor jy in aanmerking mag kom. Ons deel jou inligting ook met moontlike skenkers wat tot verskeie ander beursfondse bydra. Ons sal die uitslag van hierdie omvattende toekenningsproses teen 14 Mei 2021 aan jou kommunikeer. 

As jou aansoek geslaag het, word die beurs wat aan jou toegeken is, geaktiveer en teen 21 Mei in jou studenterekening oorbetaal; d.w.s. voor die afsnydatum vir die betaling van minstens 75% van jou studiegeld (31 Mei 2021). 

Toekenning van lenings in 2021

Die US het in die verlede rentevrye lenings aan studente toegestaan. Hierdie program is egter met ingang van 2021 gestaak. Die US het 'n ooreenkoms met vier groot banke waar jy om 'n studentelening kan aansoek doen. 

Verpligte bedrag betaalbaar met registrasie in 2021

Let op: Die volle verpligte bedrag wat betaal moet wees voordat jy kan registreer (die eerste paaiement van jou studiegeld), is jou eie verantwoordelikheid as jy nog nie skriftelike bevestiging gekry het dat jy 'n beurs ontvang het nie. Kontak asseblief die Afdeling Studentegelde vir meer inligting hieroor en ander betalingsreëlings.

​As jy self betaal het en dan 'n beurs kry wat jou studiekoste dek, sal daar 'n kredietbalans op jou studenterekening staan. Jy kan aansoek doen dat ons 'n deel of die volle bedrag van jou eie betaling aan jou terugbetaal. Let op dat sekere voorwaardes en bepalings geld. 

Besoek asseblief ons webwerf vir die jongste inligting oor statutêre, korporatiewe en institusionele finansiële hulp. Klik HIER vir meer inligting.​