Maties Sport draai nie doekies om nie. Met 'n klem op hoëprestasiesport, wil dit:
- 'n Dominante posisie in fokussportsoorte behaal;
- Sportmans en -vroue van wêreldgehalte ontwikkel;
- 'n Uitstekende ervaring van universiteitesport bied;
- Deelname in sport vir ontspanningsdoeleindes bevorder;
- Die persentasie sportsterre wat ook akademiese sukses behaal, verhoog.
Maties Sport bied die volgende sportkodes: Rugby, hokkie, netbal, sokker, atletiek, swem, krieket, tennis, muurbal, pluimbal, gholf, gimnastiek, roei, kanovaart, seil, onderwatersport, waterpolo, branderry, basketbal, judo, kendo, taekwondo, fietsry, perdry, Ultimate (frisbee), skerm en skaak. Die Maties Parasport-klub bied ook atletiek, swem, fietsry, rolstoelrugby en doelbal vir persone met gestremdhede.
Maties Sport het vyf nuwe operasionale eenhede geskep om sy aktiwiteite beter te verpak:
- Eenheid vir Hoëprestasiesport
- Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe
- Eenheid vir Rekreasie en Aktiewe Lewenstyl
- Maties Gimnasium by Coetzenburg
- Eenheid vir Geleenthede en Kommunikasie