Division for Research Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Gesamentlike grade

2018-02-12_9-35-32.jpg 

Die Universiteit Stellenbosch het ooreenkomste met 'n beperkte getal vennootinstellings in verskillende lande om kandidate vir gesamentlike grade in te skryf. Die meeste van die ooreenkomste is vir inskrywings op doktorale vlak. Die lys instellings saam met wie die Universiteit Stellenbosch sulke kandidate kan inskryf, verander voortdurend namate nuwe ooreenkomste gesluit word. 'n Onlangse lys verskyn hieronder.

Omskrywing van 'n gesamentlike graad

Internasionale akademiese samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch en buitelandse vennootinstellings om 'n studieprogram aan te bied wat gesamentlik omskryf word en eweredig tussen die betrokke instellings verdeel is, en wat op die verwerwing van 'n gesamentlike graad uitloop. Alle vennootinstellings is vir die hele program verantwoordelik, en nie net vir hulle eie, afsonderlike gedeeltes nie. 'n Gesamentlike graad is 'n enkele kwalifikasie wat ingevolge 'n gesamentlike besluit deur die vennootinstellings verleen word. Indien die vennote nie onderling daaroor kan ooreenkom of die gesamentlike graad toegeken behoort te word of nie, mag nie een van die vennote voortgaan om die graad op sy eie buite die ooreenkoms te verleen nie.


Kriteria vir die sluiting van 'n ooreenkoms vir 'n nuwe gesamentlike graad

Die volgende ses vereistes moet op 'n volhoubare wyse aan voldoen word voordat die Universiteit Stellenbosch (US) kan besluit om 'n gesamentlike graad saam met buitelandse universiteite aan te bied:

  1. Die graad moet by die visie en missie van die US inpas en tot die doelwitte van die US bydra.
  2. Die US moet baat vind by die komplementariteit van die betrokke buitelandse universiteit(e).
  3. Die US en die buitelandse vennootinstelling(s) moet oor gepaste kundigheid  beskik op die navorsingsterrein van die voorgestelde gesamentlike graad.
  4. Daar moet redelike vooruitsigte bestaan dat studente tussen die US en die buitelandse universiteit(e) sal kan reis.
  5. Die getal ooreenkomste vir die verlening van gesamentlike en dubbele grade is beperk tot ooreenkomste met redelike vooruitsigte van volhoubaarheid en aktiewe funksionering op grond van 'n bewese geskiedenis van samewerking tussen die instellings.

 

Formaliteitsvereistes om 'n nuwe gesamentlike graad in te stel

'n Stel dokumente word gewoonlik vereis, wat op verskillende vlakke saamgestel en afgehandel word. Vir elke ooreenkoms vir 'n gesamentlike graad is die volgende nodig:

  • 'n Institusionele memorandum van verstandhouding met die vennootuniversiteit
  • 'n Algemene raamwerkooreenkoms met bepalings oor die verlening van gesamentlike grade tussen die vennote, wat gewoonlik vir alle fakulteite geld en nie spesifiek van toepassing is op enige individuele student nie
  • 'n Kandidaatooreenkoms wat gewoonlik eie is aan 'n individuele student en uiteensit hoe die verskillende elemente van die algemene raamwerkooreenkoms op die individu se projek en geval van toepassing sal wees.

Belangrike oorwegings

  • Waar ooreenkomste vir gesamentlike grade oorweeg word, moet dit verkieslik met bestaande vennote wees.
  • Dit is nie moontlik om 'n ooreenkoms vir 'n nuwe gesamentlike graad as 'n eenmalige reëling namens 'n enkele kandidaat te sluit nie. Sulke ooreenkomste vereis aansienlike belyning van prosesse, reëls en regulasies, en verg heelwat tyd om oor nuwe gevalle te onderhandel. Indien daar reeds 'n algemene raamwerkooreenkoms bestaan, is dit gewoonlik eenvoudig om 'n kandidaatooreenkoms aan te gaan, want in so 'n geval is daar reeds oor die grondbeginsels ooreengekom.
  • Ooreenkomste vir nuwe gesamentlike grade aan die Universiteit Stellenbosch moet deur die Komitee vir Gesamentlike Grade oorweeg en aanbeveel/afgekeur word. Die komitee vergader op 'n ad hoc-grondslag, wat dit moontlik maak om gereeld nuwe ooreenkomste te oorweeg na gelang van behoefte sowel as die beskikbaarheid van komiteelede. Die Nagraadse Kantoor doen (vir kennisname) via die Akademiese Beplanningskomitee aan die Senaat verslag oor die besluite van die Komitee vir Gesamentlike Grade.
  • 'n Gesamentlike graad impliseer dat die student tyd by albei instellings sal moet deurbring, wat reis-, lewens- en visumkoste sal behels.
  • Verdere faktore wat die koste om 'n gesamentlike graad te finansier kan verhoog, sluit in die vereiste om fooie by die vennote te betaal, die samestelling van die gesamentlike eksamineringskomitee (die meeste eksaminatore moet fisies by die eksaminering en verdediging teenwoordig wees), ensovoorts.

Bestaande vennote saam met wie die Universiteit Stellenbosch gesamentlike grade aanbied

Die lys instellings saam met wie die Universiteit Stellenbosch kandidate vir gesamentlike PhD-grade kan inskryf, is nie 'n vaste lys nie, maar is wel beperk. Nuwe ooreenkomste word van tyd tot tyd gesluit, en daarom sal die lys verander. Nie alle ooreenkomste is op alle voornemende kandidate van toepassing nie.

Coventry UniversityUniversité de BordeauxUniversiteit Antwerpen
Erasmus University Rotterdam (EUR)Université Jean Monnet Saint-EtienneUniversity of Groningen
Ghent UniversityUniversité RouenUniversity of Hamburg
Hasselt UniversityMakerere UniversityUniversity of Leipzig
Karolinska InstitutetRadboud Universiteit NijmegenUtrecht University
KU LeuvenUniversidade Federal de Ouro PretoVrije Universiteit Amsterdam (VUA)
Macquarie UniversityUniversité Claude Bernard Lyon 1Vrije Universiteit Brussel (VUB)

 

Wat jy moet weet om 'n gesamentlike graadprogram met 'n bestaande vennoot te volg

  • Jy moet 'n promotor aan die Universiteit Stellenbosch identifiseer wat bereid is om jou saam met 'n promotor van die vennootuniversiteit by te staan.​
  • Jy en/of jou promotor moet dan iemand by een van die vennote identifiseer wat bereid is om as die ander promotor op te tree.
  • Sodra daar 'n ooreenkoms bestaan, moet jy by albei instellings aansoek doen en toegelaat word.
  • Die vennote moet 'n kandidaatooreenkoms vir jou sluit waarin 'n aantal belangrike dinge bepaal word, soos hoeveel tyd jy by elke instelling sal deurbring, hoe jou inskrywing by albei instellings gefinansier sal word, en wie vir die sittings van die gesamentlike eksamineringskomitee sal betaal.
  • Jy moet bewus wees van én voorsiening maak vir die betrokke koste. Jy kan nie 'n ooreenkoms vir 'n gesamentlike graad aangaan en dan later besluit jy kan dit nie meer bekostig nie.​

  Vir verdere inligting, stuur ’n e-pos na postgraduate@sun.ac.za.