​Ampstermyne

Prof H Russel Botman is in 2007 deur die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel as rektor en visekanselier, en in 2012 heraangestel vir nog 'n vyfjaar-termyn. Sy prioriteite vir elke tydperk volg onder.

Tweede Termyn (2012-2017)

In sy tweede termyn spits hy hom op ʼn volhoubare toekoms vir die US in die 21ste eeu toe. Dít word nagestreef deur die Universiteit se tweeledige klem op uitnemendheid en relevansie verder uit te bou.

Die vier strategiese fokusgebiede van die US Institusionele Plan: 2012-2016 dien as rigsnoer hiervoor:

- Kundigheidsbasis van die Universiteit;
- Diversiteit;
- Studentesukses; en
- Sistemiese volhoubaarheid.

Met die oog op die toekoms is langtermynbeplanning belangrik. Die Universiteit se Visie 2030 kry tans deur middel van omvattende oorlegpleging gestalte. Daar word in die vooruitsig gestel dat die US deur volgehoue transformasie voortdurend meer inklusief, innoverend en toekomsgerig sal word – 'n ruimte waar sowel personeellede as studente kennis in diens van die gemeenskap sal nastreef.

Eerste Termyn (2007-2012)

In sy inhuldigingstoespraak op 11 April 2007 het hy gesê hy gaan fokus op die verwesenliking van ʼn belangrike verbintenis deur die Universiteit in sy Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en Daarná, wat in 2000 aanvaar is. In dié dokument het die Universiteit sy aandeel aan die onregte van Suid-Afrika se apartheidsverlede erken, en hom tot regstelling verbind.

Regstelling sou deur middel van "billikheid" en "diensbaarheid" nagestreef word. By billikheid is ingereken ʼn studente- en personeelkorps wat meer verteenwoordigend van die land se bevolking is. En met diensbaarheid is daar verwys na ontwikkeling en diens in gemeenskappe en gebiede wat in die verskaffing van dienste en infrastruktuur benadeel is.

Prof Botman het ʼn "pedagogie van hoop" vir die Universiteit voorgestel as raamwerk vir die verwesenliking van hierdie doelwitte. Dít het beslag gekry in die US se HOOP Projek, wat in Junie 2010 openbaar bekendgestel is.