Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Gereelde vrae

​​Sal my dosente of ouers weet wat ek hier deel?

Nee. Die diens is vertroulik en privaat.

Watter kostes is betrokke?

Die diens is gratis, maar jy sal ʼn fooi moet betaal as ons ʼn terapeut van buite moet inkoop. Ons vra vir sekere werkwinkels ʼn nominale fooi.

Kan julle vir my medikasie voorskryf?

Nee, ons kan nie medikasie voorskryf nie. Maar ons kan jou na ʼn algemene praktisyn of psigiater verwys, wat jou sal evalueer en medikasie voorskryf volgens wat die evaluasie uitgelig het. As die dokter medikasie sou voorskryf, sal jy daarvoor moet betaal. As dit nodig is, sal ons 'n student na die plaaslike hospitaal of ʼn kliniek verwys.

As julle 'n gratis diens lewer, beteken dit dat julle nie professioneel is nie?

Ons diens is heeltemal professioneel, en die personeel is geregistreerde en gekwalifiseerde sielkundiges en maatskaplike werkers wat streng riglyne het en aanspreeklik is teenoor verskeie professionele rade.

Kan ek 'n brief kry?

Ons verskaf nie gewoonlik briewe aan studente nie. Briewe van enige aard sal slegs in uitsonderlike omstandighede aan studente voorsien word, en altyd volgens die terapeut of maatskaplike werker se diskresie.   As die voorligter of sielkundige gedurende die behandeling tot die slotsom kom dat ʼn student se sielkundige probleme waarskynlik sy of haar akademiese prestasie sou kon beïnvloed, kan die voorligter of sielkundige besluit om die student van ʼn brief te voorsien wat hierdie mening uiteensit. As ons ʼn student net vir een of ʼn paar terapiesessies gesien het, is dit onwaarskynlik dat die voorligter of sielkundige genoeg inligting sal hê om ʼn deeglike, professionele en eerlike opinie te vorm. Jy kan vir ʼn nota vra wat die dae waarop jy afsprake vir terapiesessies nagekom het, bevestig. As ʼn reël skryf ons net briewe as ons studente reeds ken of as studente reeds van ons dienste gebruik maak.

My dokter of psigiater het my gestuur vir kognitiewe gedragsterapie. Kan julle help?

Ons bied kognitiewe gedragsterapie aan as een van ons modaliteite, maar die gebruik daarvan hang af van die voorligter of sielkundige se opleiding en hul assessering van die kliënt se behoefte of profiel. Kognitiewe gedragsterapie is net een van die benaderings wat ons volg en is nie aangedui vir alle kliente en alle probleme nie.

Moet ek 'n afspraak maak?

Ja. Ons werk volgens afsprake. Maak ʼn afspraak by ons ontvangs in Victoriastraat 49, Stellenbosch.

Het julle 'n elektroniese diens? Kan ek byvoorbeeld terapie deur middel van e-pos of Skype ontvang? 

Nee. Ons doen aangesig-tot-aangesig individuele en groepsterapie by ons kantore en gebruik e-pos slegs vir kommunikasie wanneer dit nodig is.

Wat is julle kantoorure?

Ons is oop tussen 08:00 en 16:00, Maandae tot Vrydae. Maar ons het ʼn nooddiens (ER24), wat van 16:00 tot 08:00 en oor naweke beskikbaar is om studente wat emosionele en sielkundige noodgevalle beleef, by te staan.

Kan julle my 'n gesinslid van my of my familie, lewensmaat, vriend of vriendin sien? 

Ons sien slegs geregistreerde studente en sal ouers of lewensmaats buite die universiteit slegs in uitsonderlike gevalle saam met die student sien as dit in die belang van die student se psigoterapeutiese proses blyk te wees.

Kan ek onmiddellik gesien word?

Ons werk volgens afsprake. Ons het behoeftebepalingspesprekings waartydens ʼn student se behoefte en die dringendheid daarvan geassesseer word, en afsprake word dan vir studente soos dit beskikbaar is, gemaak.