Theology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Uit die dekaanskantoor

​​​​​​​​Reggie Nel.jpg​​​​Welkom aan al ons studente en personeel in die nuwe akademiese jaar.

Kliek hier ​om ons virtuele grade-viering vir April 2020 te sien

Wat ʼn opwindende jaar wag op ons! Verlede jaar was ʼn jaar van nadenke, groei – en daarom van nuwe vooruitsigte stel asook nuwe verbintenisse maak. Ons is deur ons studente uitgedaag om nouer saam met mekaar te loop ten einde dit waaroor ons praat (en skryf!), wat ons bely, ook te beleef en beliggaam. Dit het veral betrekking op gender-geweld, maar gaan ook oor ʼn groter mate van inklusiwiteit as gemeenskap.

Teen die einde van die jaar het ons intensief besin oor die vraag: Watter soort gemeenskap wil ons wees? Ons het saamgestem dat ons die waardes van ons universiteit wil omarm, maar ook ʼn spesifieke visie en missie wil nastreef. Julle sal hopelik oral die waardes wat ons bely, ook sien – en beleef. Dit is die waardes van deernis, respek, verantwoordbaarheid, uitnemendheid en billikheid. In hierdie jaar wil ons egter wyer gesprekke oopmaak en eerlik dog deernisvol met mekaar stap.

Ons doen dit alles as ʼn spesifieke gemeenskap in Afrika en is trots op ons wortels. Maar, ons bly verbind en dra by tot wetenskapsbeoefening wêreldwyd. Ons streef ook om deurlopend ons wye verskeidenheid studente van uiteenlopende agtergronde in terme van ras, gender, ouderdom, denominasie en godsdiens, seksuele oriëntasie, sosio-ekonomiese status ens, te bemagtig. Ons as gemeenskap wil bewustelik ʼn transformerende studente-ervaring kweek en koester. Verandering is nie altyd gemaklik nie, maar dit is noodsaaklik om relevant en innoverend te wees.

Om deel van hierdie kultuur te wees en daartoe by te dra, nooi ons jou om daaraan deel te neem. Die fakulteit en universiteit het talle strukture en prosesse in plek waarby jy betrokke kan raak. Onthou, jou sukses is ook ons sukses. Dit is ʼn gesamentlike pad. Ons belê in jou toekoms, wat ook ons toekoms is.

Dit is op hierdie punt waar hierdie boekie inkom. Maak asb van hierdie boekie gebruik om jouself toe te rus met al die inligting wat jy benodig om aan al die aspekte van die fakulteitslewe deel te neem, te groei, en veral te kommunikeer. As jy nie met ons kommunikeer nie – veral jou dosente en mede-studente – kan ons nie vir jou die steun bied wat jy benodig nie. Neem dus verantwoordelikheid vir jou eie vordering, maar onthou dat jy dit nie alleen hoef te doen nie. Wees aanspreeklik, wees veilig ... en geniet hierdie opwindende jaar met al sy geleenthede en moontlikhede!

Jy is deel van ʼn nuwe kultuur – waar ons saam ons waardes beliggaam!​

​​Dean: Prof Reggie Nel

Tel: +27 21 808 3254​

Email: rwnel@sun.ac.za