Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​Ons Kam​pus


DIE TYGERBERG-KAMPUS 

Bo en behalwe uitstekende onderrig in goed toegeruste fasiliteite geniet studente aan die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ook ‘n omvattende studentegerigte ondersteuningstelsel. Oor die afgelope ses dekades het die FGGW ontwikkel in ‘n instelling wat bekendstaan vir uitmuntende gesondheidsberoepslui en innoverende navorsing.  

Die Fakulteit is op die Tygerberg-kampus in Kaapstad se noordelike voorstede geleë, ongeveer 30 kilometer van die Universiteit se Stellenbosch-kampus en 20 kilometer van die Kaapstadse middestad. Personeellede en studente het ‘n uitsig oor die skilderagtige Tygerberg Natuurreservaat en die ikoniese Tafelberg.

Die kampus, wat langs Tygerberg Akademiese Hospitaal is, spog met die volgende uitstekende fasiliteite:

  • Moderne klaskamers;
  • ‘n Splinternuwe geneeskunde- en gesondheidswetenskappebiblioteek;
  • ‘n Nuwe simulasie- en kliniese vaardigheidseenheid;
  • ‘n Rekenaarsentrum;
  • Ses studentekoshuise;
  • Akkommodasie vir internasionale studente en besoekers;
  • ‘n Studente-ontspanningsentrum en -kafeteria;
  • Multifunksionele sportgeriewe en sportvelde;
  • Tennis- en netbalbane;
  • Studentegesondheidsdienste;
  • ‘n Goed toegeruste gimnasium;
  • ’n Opelug-gimnasium;
  • ‘n Eko-staproete; en
  • ‘n Swembad.


‘N KRAGTIGE STUDENTEGEMEENSKAP

Die FGGW moedig ‘n mensgerigte institusionele kultuur aan wat persoonlike ontwikkeling, gesondheid en welsyn, diversiteit, inklusiwiteit, gelykheid en ander menseregte bevorder. Ons bied ‘n verskeidenheid ondersteunings- en ontwikkelingsdienste aan studente, soos koshuis- en gemeenskapsteundienste, psigososiale ondersteuning en studente-ontwikkelingsdienste. Meer as 30 studenteverenigings bevorder die diverse maatskaplike, kulturele en godsdienstige belange van ons studente.

Die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) op die Tygerberg-kampus bied ‘n leef- en leerervaring aan die studente van die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die Sentrum is ook verantwoordelik vir die bestuur van die groepering wat ‘n integrasie van koshuis- en dagstudente is. Dié groepering bestaan uit studenteleierskapstrukture soos sameroepers, primariusse en primarias, huiskomitees en mentors wat deur die jaar ‘n belangrike rol in die integrasie en ondersteuning van studente speel. Die SSG op die Tygerberg-kampus fasiliteer ook die ontwikkeling en welsyn van studente deur verskillende programme in ooreenstemming met die Universiteit se visie, soos:

  • Verwelkoming en integrasie
  • Multi-opvoedkundige programme
  • Kultuur en diversiteit
  • Vergroening en volhoubaarheid
  • Sport, kunste en ontspanning
  • Gesondheid en welsyn
  • Leierskapontwikkeling.

Deur hierdie programme poog ons om deur deurlopende skakeling en ontwikkeling ‘n holistiese benadering tot ‘n transformerende studente-ervaring te bied. ​