Die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch is een van die oudste sielkundedepartemente in Suid-Afrika. Van 'n klein begin in 1917 met slegs 30 studente het ons nou ongeveer 2 300 studente (waarvan 100 vir nagraadse programme ingeskryf is) en 20 voltydse akademiese en steunpersoneel.
Die Departement bied 'n breë spektrum van voorgraadse modules en verskeie nagraadse programme. Daar is tans ook verskeie groter navorsingsprogramme aan die gang, met sommige geborg deur oorsese befondsers of bestuur in samewerking met internasionale vennote. Daarby bedryf die Departement verskeie gemeenskapsprojekte, wat sielkundige dienste en voorkomingsprogramme aan 'n verskeidenheid van gemeenskappe en groepe bied. Hierdie projekte dien ook as opleiding- en navorsingsgeleenthede.