Studeer by ons

Voorgraadse programme

Waarom ’n BA-graad?

Om ’n regverdige, ontwikkelde land en wêreld te bou, moet ons dit eers begryp. Wanneer ons die sosiale wetenskappe, tale en lettere bestudeer, help dit ons die menslike toestand, ons geskiedenisse, idees en verhale verstaan, en bied dit ons die denk- en kreatiewe vaardighede om ons die toekoms voor te stel.

Ons wêreld word enersyds gekenmerk deur toenemende afhanklikheid van digitale tegnologieë, en andersyds deur wisselvallige en onvoorspelbare politiek, maatskaplike omstandighede en omgewingstoestande. In die werkswêreld van die toekoms sal jy nie net data moet kan vaslê, verwerk en ontleed nie, maar ook krities en kreatief moet kan dink om probleme te verstaan en op te los. Ons het nou meer as ooit vantevore gegradueerdes nodig wat met komplekse idees kan werk en dit aan ander kan oordra, wat die wêreld ten diepste verstaan en aanpasbaar bly in hulle denke en besluitneming, en wat daartoe verbind is om positiewe verandering teweeg te bring.

’n Opvoeding in die sosiale en geesteswetenskappe rus jou toe met die vaardighede om krities en kreatief oor onderling verwante probleme te besin. Jy sal leer hoe om doeltreffend in verskillende omgewings te kommunikeer en in ’n span te werk. Jy sal die sosiale en politieke realiteite van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld leer verstaan, terwyl jy ook die geskiedenis, tale, letterkunde, kuns, musiek en drama van ons land en vasteland én hoe dit met die res van die wêreld verband hou, ontdek.

Deur jou blootstelling aan ’n wye verskeidenheid vakke en leeromgewings, sal jy sowel intellektueel as kreatief groei. ’n BA-graadprogram rus jou toe om ’n komplekse wêreld te verstaan, te vorm en daarin te floreer.

Wat is ’n ‘graadprogram’?

’n Graadprogram is ’n drie jaar lange studieprogram wat jy van jou eerste tot jou finale jaar volg. Nadat jy die program suksesvol voltooi het, ontvang jy jou graad. Elke graadprogram bestaan uit ’n groep vakke wat mekaar aanvul. In sommige graadprogramme het jy die vryheid om jou vakke te kies; in ander kies die Fakulteit namens jou.

Ons algemene graadprogramme is ideaal vir studente wat nog nie op ’n spesifieke loopbaan besluit het nie en graag alle moontlikhede wil verken. Hierdie programme bied jou ’n wye verskeidenheid vakke om uit te kies. 

Ons gespesialiseerde graadprogramme is pasgemaak vir ’n sekere loopbaan of groep loopbane, en bied dus minder vakkeuses.

Ons graadprogramme

Algemene programme

Gespesialiseerde programme

Van hierdie programme is beskikbaar as verlengde graadprogramme (VGP’s). Om meer oor VGP’s uit te vind, hier meer..

Indien jy Musiek wil studeer, maar nie vir ’n BA in Musiek of ’n BMus wil inskryf nie, kan jy een van hierdie drie diplomaprogramme in die Departement Musiek oorweeg:

Ek wil meer uitvind oor die Fakulteit se graadprogramme

Vir verdere inligting oor ons graadprogramme, klik hier om na Deel 4 van die Universiteit se Jaarboek te gaan. Daar sal jy al die besonderhede oor graadprogramme en vakke kry.

Vir algemene vrae oor studie in die Fakulteit, of vrae wat die Jaarboek nie beantwoord nie, kontak gerus die Universiteit se Kliëntedienssentrum by 021 808 9111 of info@sun.ac.za. Die sentrum-agente sal jou graag bystaan of jou vraag na die regte persoon verwys.

Ek wil iets anders vra

As jy vrae het oor registrasie, jou studie in die algemeen, huisvesting of ander belangrike studentesake, klik hier vir antwoorde.

Internasionale studente

Indien jy ’n internasionale student is wat daarin belang stel om by Lettere en Sosiale Wetenskappe te studeer, kontak US Internasionaal om uit te vind watter moontlikhede daar is en wat jy moet doen om by ons in te skryf.