Kitsfeite

Ons fasiliteite

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het moderne en goed toegeruste fasiliteite om uitnemende onderrig, navorsing en artistieke werk te ondersteun.

Rekenaarfasiliteite

Die Humaniora Rekenaargebruikersarea of HUMARGA dien vier fakulteite: Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Regte en Teologie. HUMARGA se fasiliteite sluit elektroniese klaskamers (wat vir verskillende akademiese lesings en praktiese sessies gebruik word) in verskillende geboue op kampus sowel as ’n oop area met 250 werkstasies op die derde vlak van die Letteregebou in. Die oop area is 24 uur per dag toeganklik, solank jy ’n geldige studentekaart het wat vir HUMARGA geaktiveer is.

Deur HUMARGA kan jy toegang kry tot jou e-pos en toegewese netwerkspasie, elektroniese hulpbronne raadpleeg, materiaal druk, gespesialiseerde programmatuur gebruik en blootstelling kry aan die jongste tegnologie. Geografie en Omgewingstudie, Joernalistiek, Musiek en Visuele Kunste het almal hulle eie gespesialiseerde toerusting en programmatuur om te voldoen aan die opvoedkundige behoeftes van die studente wat by hierdie departemente ingeskryf is.

HUMARGA werk ook nou met die Eenheid vir Gestremdhede en die Lombardi Braille-sentrum saam om studente wat met gestremdhede leef te ondersteun. E-pos braille@sun.ac.za as jy meer oor die Lombardi Braille-sentrum wil weet.

Hulp nodig?

Gaan na HUMARGA se webwerf of kontak die dienstoonbank tydens kantoorure:

Stuur e-pos
Tel: 021 808 2129

Adam Small Teaterkompleks

Die Adam Small Teaterkompleks is 'n veeldoelige fasiliteit wat deur ons studente gebruik word om uitdrukking te gee aan hul kunssinnigheid deur optredes wat daar aangebied word. Die produksies van ander kunstenaars - en dit sluit in gemeenskapsproduksies waarby ons personeel en studente betrokke is - word ook hier opgevoer. Daar is tans planne om die huidige spasie te herontwerp om 'n meer vaartbelyne en koste-effektiewe benutting van die tegniese en vertoningshulpbronne te verseker. Vir meer inligting, besoek die Departement Drama​.

Konservatorium

'n Moderne gebou wat die Endler-, Fismer- en Jannasch-sale huisves. Die Endlersaal, wat uitstekende akoestieke eienskappe het, word as een van die beste konsertsale in die wêreld beskryf en het sitplek vir 556 mense. Dit spog met een van die beste meganiese pyporrels in die land - gebou deur die Deense firma Marcussen - asook twee Bösendorfer-vleuelklaviere. Die Fismersaal het sitplek vir 200 mense en is 'n meerdoelige saal wat geskik is vir kamermusiekkonserte, konferensies en repetisies. Die Jannaschsaal, met sitplek vir 180 mense, is 'n lesingsaal en is veral geskik vir multimedia-aanbiedings en vergaderings. Die Konservatorium het drie vloere met 57 oefenkamers, waarvan ses met pyporrels toegerus is, en verskeie met vleuelklaviere. Hierdie oefenkamers is baie goed geïsoleer en is so ontwerp om die skepping van staande klankgolwe te elimineer. Die Konservatorium beskik ook oor 'n musiekbiblioteek met 'n groot versameling bladmusiek, gedrukte en aanlynboeke, tesisse en joernale, oudiovisuele materiaal en 'n skaars en unieke versameling van musiekmanuskripte wat in die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) gehuisves word. Van hierdie manuskripte dateer uit die 16de eeu. Die Konservatorium het ook uitstekende opname-studios, toegerus met die nuutste tegnologie. In hierdie studios kan professionele opnames, verwerking, vermenging en filmoudiowerk gedoen word, met die klankbane van plaaslike en internasionale rolprente wat reeds hier opgeneem is. Vir meer inligting, besoek die Departement Musiek.