Musiek: Diensleer (Module 11847-496)
Gemeenskapsdiens met gemeenskapsvennote en die integrasie van teorieë van gemeenskapsontwikkeling met die praktyk van gemeenskapswerk.
Kontakpersoon: Me Pamela Kierman
Die Welgevallen-gemeenskapsielkundekliniek (WGSK) is ’n projek van die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Die kliniek is op die been gebring om kliniese en voorligtingsielkundiges sinvolle opleiding te bied (met ander woorde, die nodige vaardighede om in die geestesgesondheidsbehoeftes van gemeenskappe in Suid-Afrika te voorsien), en terselfdertyd toeganklike, bekostigbare en doeltreffende geestesgesondheidsdienste aan inwoners van lae-inkomstegemeenskappe in die Stellenbosch-omgewing te lewer.
Die WGSK het vier hoofdoelwitte:
1. Om ’n professionele omgewing en sinvolle praktiese leergeleenthede te voorsien aan studente wat opleiding in kliniese en voorligtingsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch ontvang.
2. Om toeganklike, doeltreffende en konteksgepaste sielkundige buitepasiëntdienste te lewer aan gesinne en individue van alle ouderdomme in die groter Stellenbosse gemeenskap, wat nie andersins toegang tot sielkundige sorg het nie.
3. Om navorsing te onderneem en tot die beskikbare kennis oor doeltreffende sielkundige intervensies binne Suid-Afrikaanse verband by te dra.
4. Om met gemeenskapslede, staatsagentskappe en gemeenskapsgebaseerde organisasies saam te werk om doeltreffende sielkundige intervensies te voorsien wat psigososiale probleme in die Stellenbosse omgewing help hanteer.
Die WGSK het in 2013 altesaam 1 088 konsultasies met individue uit die gemeenskap gefasiliteer. Daarbenewens stel ons personeel en studente elke jaar ’n aantal gemeenskapsgebaseerde sielkundige intervensies in Kylemore, Klapmuts, Jamestown, Kayamandi en Cloetesville in werking. Hierdie intervensies word saam met lede van die gemeenskappe beplan en is tipies afgestem op kinders en volwassenes met ’n verskeidenheid probleme, van alkohol- en middelmisbruik tot trauma, angs, depressie en vele ander gedrags- en sielkundige kwessies. Alle intervensies word onder die streng toesig van ervare kliniese en voorligtingsielkundiges aangebied. Die meeste van hierdie projekte is skoolgebaseerd, en dus vind meer as 2 000 individue jaarliks daarby baat.
Kontakpersoon:
Dr Carla Dukas en dr Jason Bantjes