Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lentedag Afskop - SUNmentor Navorsingsmentorskap-platform

 Aan alle US navorsers, insluitend Nadoktorale genote

Die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) bestuur die afgelope jare 'n mentorskapsprogram vir vroeë-loopbaan akademici (die welbekende ECAD program). Vanuit die terugvoer van ons deelnemers besef ons dat mentorskap ontsettend waardevol kan wees in die ontwikkeling van 'n suksesvolle navorsingsloopbaan. Deelnemers aan die ECAD program moet aan sekere vereistes voldoen soos bepaal deur die befondser, en ons gaan voort om hierdie program soos voorheen te bestuur.

Ons ontvang egter dikwels versoeke vir mentorskap van vroeë-loopbaan navorsers wat nie huidiglik aan die vereistes van die ECAD program voldoen nie, bv navorsers wat nie tans in akademiese poste aangestel is nie, en Nadoktorale genote.

Dit is daarom vir ons 'n groot plesier om op hierdie pragtige Lentedag 'n nuwe mentorskaps-platform, SUNmentor, bekend te stel!

Die platform is oop vir alle personeel en Nadoktorale genote wat verbonde is aan die US, en jy kan nou registreer as MENTEE (m.a.w. iemand wat mentorskap benodig) of as MENTOR (m.a.w. iemand met ondervinding, wat as mentor vir ander kan dien). Gedurende die registrasie-proses kan u spesifieke behoeftes (as mentee) of kundigheid (as mentor) aandui, wat dan gebruik kan word vir die fasilitering van 'n gepaste mentor-mentee konneksie wat hierna d.m.v. persoonlike kontak getoets sal moet word.  

Wat is die voordele vir voornemende mentees? 'n Geleentheid om gesprek te voer met iemand wat jy vertrou en wat die kundigheid besit waaroor jy graag meer wil leer. Iemand wat self die navorsingspad geloop het, of besig is om te loop. Iemand wat, soos Oprah Winfrey eens opgemerk het, vir jou kan help om die hoop binne jouself raak te sien.

Wat is die voordele vir voornemende mentors? Dit is al gesê dat “wanneer een persoon mentor, twee lewens verander" (Kevin Sessums). As mentor sal jy in die posisie wees om die volgende generasie van navorsers te inspireer. Dmv jou mentorskap kan jy self nuwe vlakke van inpirasie, wysheid en rigting vind, sowel as nuwe netwerke bou. Dalk het jy self by 'n mentor baatgevind, en wil graag die geleentheid hê om dit “vorentoe te betaal" (to pay it forward J).

Ons sien uit daarna om jul registrasies op die webblad https://www.sunmentor.sun.ac.za/ te sien (stel eers jou rekening en profiel op (Nadoktorale genote sal hul nommer soos op die US toegangskaart invul waar “staff number" versoek word), kliek dan op “Mentoring" bo-aan die blad, hierna op “Mentoring Programmes" en hierna op “Research Mentoring", waar jy as mentee of mentor kan registreer). Volle besonderhede vir hierdie proses is aangeheg aan hierdie epos.

Via die SUNmentor platform sal ons die vorming van wedersyds voordelige mentorskaps-verhoudings probeer ondersteun en fasiliteer. Hierdeur wil ons ook graag 'n kultuur van mentorskap en steun aan die US bevorder.

Registreer sommer nog vandag!

 

Vir verdere inligting en advies, epos asb vir Fadwha@sun.ac.za