Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Rektorstoekenning | Versoek vir aansoeke / benoemings
Aandag: Studente


Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer ons jou nooi om self aansoek te doen óf ’n medestudent te benoem vir die Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie. 
 
Die Universiteit Stellenbosch (US) streef voortdurend na uitnemendheid, en die ontwikkeling van graduandi-eienskappe maak ’n kerndeel uit van ons onderrig-en-leeromgewing. As ’n skepper van volhoubare hoop in Afrika, wil die US graag die regte omstandighede verseker sodat elke student ’n ondersoekende gees sal ontwikkel en ’n betrokke burger, ’n dinamiese beroepspersoon en ’n afgeronde individu sal wees. 
 
Dit is belangrik dat ons gepaste erkenningsmetodes gebruik om jou aan te moedig om gedurende jou tyd op kampus én as ’n US-alumnus uit te blink. Daarom het die Rektoraat in Julie 2008 in samewerking met die Studenteraad besluit om die Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie in te stel. Dié jaarlikse prestigegeleentheid verleen erkenning aan studente wat uitsonderlik presteer het op die gebied van die akademie, sport, leierskap, dienslewering en sosiaIe impak.  
 
Dít is jou geleentheid om vir jou eie uitnemende prestasie erkenning te ontvang en/of ’n medestudent te benoem wat erkenning verdien. Die gesegde lui: Wie nie waag nie, wen nie. Gryp dié geleentheid aan: Klik hier om aansoek te doen of iemand anders te benoem. 
 
Let asseblief daarop dat die Studenteprestasiekomitee slegs elektroniese aansoeke en benoemings sal aanvaar.  
 
Aansoeke en benoemings sluit 25 Augustus 2021 om 23:00. Geen laat indienings sal aanvaar word nie. 
 
Vir navrae, stuur gerus ’n e-pos na rectorsawards@sun.ac.za