Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verantwoordelike drankgebruik by die US (boodskap aan studente en personeel)

7 Februarie 2020

Beste studente en kollegas

Met die aanvang van klasse by die Universiteit Stellenbosch (US) vroeër dié week, is aktiwiteite op al ons kampusse nou weer in volle gang. Baie welkom aan almal en baie voorspoed met jul leer en onderrig vir 2020!

ʼn Groot gesprekspunt sover vanjaar is die tydelike alkoholverbod in US-studenteverblyf. Dit het baie kommentaar uitgelok – beide onder lede van die Universiteitsgemeenskap en die breë publiek; in die media en op sosiale media. Daar was gemengde reaksie – van blote verslaggewing, tot sommiges wat die stap verwelkom en ander wat dit kritiseer.

Ek gebruik graag hierdie geleentheid om groter duidelikheid oor die aangeleentheid te gee. Ons uiteindelike doel is nie 'n totale verbod op drank in ons koshuise of op die res van ons kampusse nie. Ons wil uitkom by duidelike en praktiese riglyne vir verantwoordelike drankgebruik by ons instelling. En ek glo ons kan dit redelik vinnig regkry as ons saamwerk.

Agtergrond

Ontsteltenis oor drank- en dwelmmisbruik op kampusse is niks nuuts nie – kommer neem toe, internasionaal en in Suid-Afrika. By ons Universiteit is hierdie aangeleentheid op die spits gedryf deur 'n aantal ontstellende voorvalle verlede jaar het – veral in studentegemeenskappe. Die saak het ook in samesprekings oor die bekamping van geslagsgebaseerde geweld na vore gekom.

In September het ons hoogste oorsigstruktuur – die Universiteitsraad – “geslagsgebaseerde geweld ten sterkste veroordeel" en ook “kommer uitgespreek oor drank- en dwelmmisbruik onder studente". Alle belanghebbenders is spesifiek versoek om “meer te doen om hierdie probleem te bekamp".

In Oktober het topbestuur – die Rektoraat – “besluit om kroegvoorregte in koshuise te herroep" en is daar “saamgestem met die besluit dat die koshuise prosedures moet instel om die gebruik en misbruik van alkohol te reguleer". Die Rektoraat het “ook kennis geneem van die feit dat 'n taakspan saamgestel is om die verantwoordelike gebruik van alkohol en 'n verbod op die gebruik van dwelmmiddels te ondersoek". Voortspruitend hieruit was daar gesprekke met studente en ander belanghebbers – op die een of ander manier. 

Verantwoordelike drankgebruik

Op 23 Januarie het ek in my amptelike verwelkomingsboodskap aan 2020 se nuweling-eerstejaarstudente en hul ouers gesê “die Afdeling Studentesake is in ernstige gesprekke met studentegemeenskappe betrokke om besliste regulasies vir verantwoordelike drankgebruik aan die US op te stel". Ek het ook die eerste openbare aankondiging gedoen dat die US “die verkoop van drank in alle studentekoshuise verbied het".

Hoekom? Want “indien jy drank en ander middels misbruik, sal dit 'n negatiewe invloed op jou en ander mense hê – daarom het ons besluit om hierdie kwessie vanjaar direk aan te spreek." Ek het ook gesê: “Ons wil by die US die gebruik van drank in ooreenstemming met ons waardestelsel benader. "

Dit is gevolg deur 'n skrywe van die US se Senior Direkteur: Studentesake, dr Choice Makhetha, aan alle studente op 27 Januarie waarin sy die “tydelike afskaffing van die gebruik en handel van drank in US-koshuise en PSO-huise" bevestig het.

Dit is gedoen om sterk standpunt in te neem en die dringende behoefte aan besliste optrede te beklemtoon. Dit was 'n stap om belanghebbers aan te moedig om betrokke te raak by die bepaling van aanvaarbare regulasies en praktyke vir verantwoordelike drankgebruik op US-kampusse.

Riglyne

Die US is ernstig oor die bekamping van drank- en dwelmmisbruik en ondersoek verskeie maniere om dit te doen, soos opleidingsprogramme, berading en kollektiewe beraadslaging. Die tydelike verbod fokus die gesprek op hoe ons die verantwoordelike gebruik van drank kan hervat.

Die doel is om met gepaste wysigings aan die koshuisreëls vorendag te kom wat die riglyne vir studentegemeenskappe aan die US bepaal. Dit sal 'n formele konsultasieproses volg waarby amptelike studentestrukture, spesifiek die Primkomitee en die SR, betrokke sal wees.

Breër konteks

Die US is nie die enigste universiteit wat alkohol in studentekoshuise aan bande lê nie. Nie een van die ander drie openbare universiteite in die Wes-Kaap laat die gebruik van alkohol in koshuise sonder die nodige toestemming en lisensie-goedkeuring toe nie, en dit is ook die algemene neiging in die res van die land en wêreldwyd.

Die US se besluit is deur navorsing oor die negatiewe uitwerking van alkoholmisbruik – en die geslagsgebaseerde geweld wat dikwels daarmee gepaard gaan – gerig. (Sien veral Gladwell, Malcolm. 2019. "The Fraternity Party". Uit Talking with Strangers. New York: Little, Brown and Company.)

Geslagsgebaseerde geweld

Let asb. daarop dat ons nie sê dat geslagsgebaseerde geweld deur drankmisbruik veroorsaak word nie; of nog erger, dat om dronk te wees 'n verskoning vir onaanvaarbare gedrag is nie. Wat ons sê, is dat drankmisbruik verkeerd is en dat geslagsgebaseerde geweld verkeerd is – albei moet end kry.

Raakpunte

Die SR se uitspraak vroeër vandeesweek dat hulle “nie van mening verskil oor die motiverings vir die besluit" om drank tydelik in die US se studenteverblyf te verbied nie, moet verwelkom word. Terselfdertyd het studenteleiers hul ongemak uitgespreek oor wat hulle as beperkte konsultasie tot dusver beskou. Hoewel ons hierdie kommer erken, moet ons oë op die einddoel gerig bly – leef- en leergemeenskappe wat veilige en verwelkomende ruimtes vir almal is.

Laat ons aandag nie afgelei word deur hierdie kwessie te beskou as 'n stryd tussen “teenstaande partye" nie. Laat ons eerder fokus op dít wat ons gemeen het: eerstens, 'n sterk oortuiging dat drankmisbruik en geslagsgebaseerde geweld beëindig moet word, en tweedens, 'n vaste onderneming om tot 'n vergelyk te kom oor hoe om dit ten beste te doen.

Kom ons werk saam

Is daar raakpunte tussen ons? Sonder twyfel. Die Universiteit het gesê: “Ons is oop vir 'n tydperk van gesprekvoering"; en die SR het gesê hulle sal hulle “beywer vir voortgesette gesprekke" oor hierdie aangeleentheid. Alle partye is kennelik ernstig oor die beëindiging van drankmisbruik en geslagsgebaseerde geweld. Kom ons werk saam om vordering te maak.

Vriendelike groete

Prof Arnold Schoonwinkel
Viserektor: Leer en Onderrig