Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Belangrike inligting rakende verlof en verlofuitbetalings

Verlofaansoeke vir die tydperk Desember 2019 tot Januarie 2020 en die halwe dag op 24 Desember 2019.

Die Universiteit sluit om 12:00 op Dinsdag 24 Desember 2019. Indien jy dus van plan is om op 24 Desember verlof te neem, sal dit as halfdagverlof hanteer word. Dít beteken dat personeellede wat nie die oggend by die werk is nie 'n halwe dag se verlof op die stelsel moet vaslê.

Indien jy verlof neem wat hierdie datum insluit, sorg asseblief dat jy die getal verlofdae op jou aansoek met 0,5 (ʼn halwe dag) verminder. Die stelsel bereken outomaties alle dae as volle dae, so dit is elke personeellid se plig om toe te sien dat hulle die korrekte getal dae vaslê voordat hulle die verlofaansoek vir goedkeuring indien.

Ons versoek vriendelik dat lynbestuurders:

  • die getal verlofdae op aansoeke nagaan voordat hulle verlof goedkeur; en
  • sorg dat alle verloftransaksies vir Desember 2019 en Januarie 2020 teen 31 Desember 2019 goedgekeur word.


Aaneenlopende verlof oor die tydperk Desember 2019 tot Januarie 2020

Indien jy beoog om aaneenlopende verlof oor die tydperk Desember 2019 tot Januarie 2020 te neem, moet jou aansoek as twee aparte transaksies vasgelê word, naamlik:

  • 'n transaksie vir verlof in Desember 2019; en
  • 'n afsonderlike transaksie vir verlof in Januarie 2020.

Indien jy gedurende die vaslegging van Januarie-verlof 'n boodskap kry dat jou “PTO net entitlement" tot minder as nul verminder sal word, kan jy steeds voortgaan en jou transaksie voltooi. Klik bloot op “Next" en “Submit" om jou versoek af te handel. Hierdie waarskuwingsboodskap verskyn omdat jou verlofsaldo van 2019 nog na 2020 oorgedra moet word. Dít sal op 31 Desember 2019 gebeur, in welke stadium die stelsel outomaties jou verlofsaldo vir Januarie 2020 sal regstel.

Die Universiteit heropen amptelik op Donderdag 2 Januarie 2020.

Verlofuitbetalings in Januarie 2020

Aansoeke om verlofuitbetalings vir die einde van Januarie 2020 (van toepassing op permanente aanstellings tot en met 31 Desember 2007) kan eers in Januarie ingedien word. Dít is omdat die Afdeling Menslike Hulpbronne die verlofsaldo-oordrag na die volgende jaar (2020) op die laaste dag van die huidige jaar (2019) bereken, wat beteken opgehoopte saldo's vir 2019 is eers in Januarie 2020 beskikbaar vir uitbetaling.

Die opsie “SUN Accum Leave Encashment JV" op die stelsel is aangepas om outomatiese goedkeuring moontlik te maak. Dien asseblief jou aansoek om uitbetaling voor of op 10 Januarie 2020 in.

  • Aansoeke om uitbetaling van tot en met 19 dae moet op die Oracle “SUN Employee Self-Service" ingevoer word.
  • Vir aansoeke om uitbetaling van 20 of meer dae, gebruik asseblief hierdie vorm. Die vorm moet Menslike Hulpbronne teen nie later nie as 10 Januarie 2020 bereik sodat die verlofuitbetalingstransaksie betyds afgehandel kan word.

Indien enige van die inligting in hierdie kennisgewing onduidelik is, kontak gerus die Menslike Hulpbronne Kliëntedienssentrum by 021 808 2753 of sun-e-hr@sun.ac.za.